DEUR TERESA-JANE PIETERSE
Dis vir my lekker om te weet dat ek nooit alleen is nie. Dat daar altyd iets of iemand is wat oor my sal waak, selfs al voel dit nie so nie. Dis vir my lekker om teenwoordig te wees, om nooit nee te sê as iemand hulp vra nie, en om altyd op te daag of na die beste van my vermoë raad te gee.
LEES OOK: #covidkinders:‘My groot vrees is nie Covid-19 nie’
Die heel lekkerste is egter om na die stories van die mense om my te luister. Om te hoor van hul oorwinnings en prestasies en hul gelukkige tye, maar ook hul hartseer en pyn.
Terwyl ek na hul woorde luister, leef ek deur dié mense. In plaas daarvan om net een lewe te leef, leef ek dus verskeie leeftye elke dag. Dit alles gee my ook ’n geleentheid om mý storie te skryf, met die wete dat iemand anders dalk op dieselfde manier deur mý leef. Dit maak my gelukkig om op hierdie manier nader aan die mense om my, nader aan God en nader aan myself te beweeg.
LEES OOK: #covidkinders: ’n Virus het my herinneringe kom steel
Ongelukkig moet alles in die lewe gebalanseerd wees, en soos wat sekere dinge my baie gelukkig maak, maak ander my baie bang.Daar is verskillende dinge waarvoor jy bang kan wees. Spinnekoppe, byvoorbeeld. Of reeksmoordenaars. Of jou ma. Jy is bang vir hulle omdat jy weet hulle kan jou seermaak.
Daar was nog altyd een ding wat my baie bang gemaak het: die onbekende. Daardie “wat as ek nie matriek deurkom nie”. Die “sê nou maar ek word nie by ’n universiteit gekeur nie”.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Vandag is jou enigste kans’
Maar as ek doodeerlik moet wees, sal ek erken my grootste vrees is dat ek eendag sal uitvind dat die stem in my kop die waarheid gepraat het. Daardie een wat aanhoudend vir my sê ek is nie goed genoeg nie. Dat my drome nie waar gaan word nie. Dat ek te lelik of te vet of te kort of te irriterend is.
Hieruit kan jy sekerlik aflei dat ’n konfrontasie met iets so onbekend soos Covid-19 nie juis vir my ’n groot plesier is nie. Dat ek dit, inteendeel, as baie erg beleef. Vandat die pandemie sy kloue hier ingeslaan het, het my lewe net een koers geken – afdraand. Ek sukkel veral met my emosies. Twee van my familielede is in die hoërisikogroep. Om van my vriende en die res van die familie te moet wegbly, is vir my dikwels net te veel.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Ek kry iets waarna ek my hele lewe smag – ’n regte familie’
Tot dusver was die ergste van Covid-19 vir my die feit dat ek duidelik kon sien hoeveel mense absoluut geen liefde vir hul medemens het nie. Dit is diegene wat nie eens de eenvoudigste ding sal doen soos om ’n masker te dra ten einde hul ouers of grootouers te beskerm nie.
Die pandemie het heelwat van ons af weggeneem – ons sosiale lewe, baie mense se inkomste, ons gevoel van sekuriteit en vele ander dinge. Ons kan dit nie beheer nie.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Daar is baie maniere om jou seëninge te tel’
Daar is dinge wat ons wel kan beheer: om in hierdie tyd vir mekaar om te gee. Om basiese menslikheid uit te leef. Soveel mense laat dit egter agterweë.
Soos wat ek ouer word, wissel my bron van hoop voortdurend. Daar is egter, buiten my geloof, een faktor wat altyd ’n bron van hoop in my lewe sal wees: my ma. Sy is die mens aan wie ek die naaste is. My grootste ondersteuner, my inspirasie en my leier. Sy is my “wake up call”, my beste vriend, my grootste “fan”.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Vertrou volkome op die Here’
My ma is die sterkste mens wat ek ken. Nie net omdat sy die grootste denkbare berg gehad het om te klim en steeds bo uitgekom het nie. Maar ook omdat sy dit alles met soveel toewyding gedoen het.
Vir haar is ek die liefste wat ek vir enige mens is. En ek weet dat wanneer dit donker word, wanneer die lig verdwyn, sy steeds my skuilplek sal wees.
- Teresa-Jane Pieterse is ’n 18-jarige leerder aan Hoërskool Vredenburg.
- LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om bydraes vir ons #covidkinders-rubriek te lewer.