Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Die Here bly die middelpunt van alles wat ons doen,’ sê Bernice oor haar en wederhelf se lewensleuse

Oud en jonk dans deesdae op maat van haar treffer “Lyfie” – maar wie is Bernice West regtig? Om mee te begin, kan ons weet sy kom uit ’n musikale gesin en sy het met ’n musiekman getrou. Ons sal boonop gou uitvind hoe haar lewensleuse klink, en waarom sy nooit sal vergeet waar sy vandaan kom nie.

DEUR MARTJIE ROOS; HOOFFOTO: ANNEMARIE WICHMANN 

Die gewilde krulkop Bernice West sing deesdae ’n nuwe en sonnige lewenslied. Daar is ’n goeie rede, of twee. Nie net floreer haar sangloopbaan nie; sy het boonop vroeër vanjaar met die liefde van haar lewe getrou. Bernice en die skrywer, musiekvervaardiger en regisseur Jannes Erasmus het op Saterdag 14 Januarie ewig trou aan mekaar gesweer. Saam met ’n klomp spesiale gaste onder die akasiabome by Lunikhy Game Farm, op die grens tussen Limpopo en Mpumalanga.

Bernice vertel: “Ons het eintlik die hele naweek bruilof gevier. Omdat daar so baie gaste was wat van ver gekom het, wou ons hê dat almal behóórlik kuier. Anders vlieg die geleentheid so gou verby!

Vir Bernice was dit liefde met die eerste oogopslag. Bernice het haar eerste bekende liedjie “Sonop-blom” vir Jannes geskryf voor hulle \’n paartjie was. Foto: Willow Ray Photography

“Ons het die Vrydagaand gebraai en ge-worship, en die hele aand was spesiaal. Dit het gevoel asof ons die naweek op die regte noot afskop. Die Saterdagoggend, net voor die huwelikseremonie, het ek en Jannes saam nagmaal gevier. En Sondagoggend het ons die naweek se samesyn en lekker kuier met ’n ontbyt afgesluit.”

‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer

Ná die gesellige en romantiese bruilofnaweek het die paartjie twee weke lank in Bali, Indonesië, wittebrood gehou.

’n Gebroke hart

Die 22-jarige Bernice blom behoorlik wanneer sy oor haar manlief praat: “My knieë het lam geword toe ek Jannes die eerste keer sien.”

Sy was toe maar in graad 8 aan die Hoërskool Rustenburg. Jannes het ’n toneelgroep by die skool op die been gebring en Bernice het hom gereeld oor toneelspel uitgevra. Die liefde tussen dié twee het wel eers vlamgevat toe sy in matriek was.

Jannes het destyds egter gereken dat daar te veel dinge is wat teen hul verhou-ding tel. Dit het Bernice se hart gebreek. En sy het die liedjie “Sonop-Blom” geskryf. Dit was die eerste liedjie uit haar pen wat kommersieel uitgereik is. Jannes het nie geweet die liedjie verwys eintlik na hom nie.

Later, toe hulle mekaar meer gereeld begin sien het, het Jannes besef wat ’n unieke mens Bernice is.

In Junie verlede jaar het hy die groot stap gewaag en baie romanties die ja-woord gevra toe hulle met vakansie in Zanzibar was.

Die twee werk baie nou saam – Bernice as sanger en liedjieskrywer, en Jannes as haar bestuurder, regisseur en musiekvervaardiger. Hy is ook ’n skrywer in eie reg.

“Ek en Jannes vorm ’n goeie span,” sê Bernice. “Ons het uit die staanspoor die grense getrek: Wanneer ons werk, dan werk ons. As die werk klaar is, is ons ’n paartjie. Dié resep werk goed vir ons.”

Die Middelpunt

Bernice sê hul geloof in die Here bind hulle saam. “Die talente wat die Here ons gegee het, verskil wel van mekaar, maar op ’n manier is dit tog dieselfde. Ons albei gebruik woorde om ons bediening uit te leef. Ek skryf en sing liedjies, terwyl Jannes as regisseur en vervaardiger met sy produksies sy roeping vervul. Die Here bly die middelpunt van alles wat ons doen.”

Bernice het ná matriek die reusesprong gewaag en voltyds begin sing en liedjies skryf. “Die Here het my reeds op skool goed voorberei op wat ek wou doen. Aanvanklik het ek maar gesukkel om my voete in die musiekbedryf te vind, en om geanker te bly. “Maar die Here toets jou nie bo jou vermoë nie; Hy het my ’n goeie span gegee, wat my ten volle ondersteun.”

Bernice het op Swartruggens grootgeword. Haar ouers, wat albei voltyds in die bediening is en ook ’n bou-onderneming bestuur, het ’n stewige fondament in haar grootwordjare gelê. “My pa het altyd gesê: ‘Volg jou passie en bemeester die talente wat die Here jou gegee het. Maar bly geanker. Moet nooit vergeet waar jy vandaan kom nie.’

“Sy goeie raad bly steeds van toepassing op my loopbaan.”

Ná skool is Bernice se unieke talent gou genoeg raakgesien. In 2019 was sy die naaswenner in kykNET se talentsoek-reeks Maak My Famous. En drie jaar gelede het die groot eer haar te beurt geval om die Suid-Afrikaanse volkslied met die rugbytoets tussen die Springbokke en Argentinië voor duisende toeskouers te sing.

Bernice, wat op skool aan tienertoneel deelgeneem en ook ’n groot passie vir toneel het, het verlede jaar haar professionele vuurdoop op die verhoog beleef toe sy die rol van Maria in die historiese musiekblyspel Die Gelofte vertolk het. Jannes was die skrywer en regisseur van dié stuk. Dit het vol sale in die AfriForum-teater in Pretoria getrek, en ook ’n tweede speelvak gehad.

Bernice se debuutalbum Net Geleen is in 2020 uitgereik en Jona, haar tweede album, het in Julie verlede jaar daarop gevolg. Laasgenoemde het reeds ’n rits treffers opgelewer, soos die titelsnit, asook “Nie jou X” nie, “Agter jou” en “Lyfie”.

Bernice vertel: “Jona is soos ’n gelukspakkie; dit bevat ’n verskeidenheid genres – van alternatief tot pop, rock, folk en gospel. Behalwe drie liedjies, het ek alles op die album self geskryf.”

Die gewildheid van “Lyfie” het almal uitgeboul, voeg sy by. “Johan Vorster, platebaas van Inhoud Huis Musiek, het dié liedjie ’n paar jaar gelede gehoor. Toe reeds het hy gedink dit kan in ’n groot treffer omskep word. Hy en Robin Kielly het dit verwerk – en sedertdien het letterlik honderde dansvideo’s op sosiale media-platforms, waar oud en jonk op maat van dié liedjie dans, hom reg bewys.”

West Café

Bernice kom uit ’n musikale gesin. Albei haar broers, Renier en Derik, is kliphard besig om aan hul onderskeie musiekloopbane te skaaf. Renier is die stigterslid van die gewilde groep Rooksein, en Derik tree op as Van West. “Wie weet,” sê hul suster, “dalk neem ons drie nog eendag saam ’n liedjie op!”

Maar vir die twee pasgetroudes draai alles nie bloot om die musiekbedryf nie; heel onlangs het hulle die sakewêreld betree. Jannes en Bernice het, saam met broer Renier, ’n koffiewinkel in Hazelwood, Pretoria, geopen. “Ons is almal lief vir koffie, en dié kuierplek gee ons die geleentheid om nuwe mense te ontmoet. West Café se leuse is ‘Stay Rooted’, en dis presies die raad waarmee my pa ons grootgemaak het.”

Bernice se besprekingsdagboek vir die jaar is byna vol. “Gelukkig is Jannes my bestuurder en ons kan dus baie tyd saam deurbring wanneer ons die langpad aandurf. Dis vir my lekker om te toer, veral na die platteland toe, om sodoende nuwe mense te ontmoet. Dis wel ook ’n uitdaging.”

Maar daar kom ook tye dat Bernice bloot wil stil wees. Om liedjies te skryf, is vir haar ’n heilige proses, en sy beskou dit as haar veilige hawe. “Ek begin gewoonlik met ’n melodie, en dan kom die woorde en die boodskap later by. Dis ook ’n tyd om my verhouding met die Here te verstewig.”

Te midde van haar bedrywige program ruim Bernice elke dag tyd in
vir Bybelstudie en stiltetyd. “Psalm 91 is van kleintyd af my gunstelinggedeelte in die Bybel.”

Daar is baie dinge wat Bernice dankbaar maak. “Om bloot elke dag te kan leef, asem te haal, op te staan en my drome uit te leef. Om te doen waarvoor ek lief is. Dit alles laat my beker oorloop.”

En dis dan ook haar lewenslied: om voluit te leef, en om die talente wat die Here haar gegee het, te ontgin en ter ere van sy Naam uit te leef.

Eendag …

Eendag, sê Bernice, sal sy graag haar eie klerereeks wil loods. “Ek is baie lief vir modes. As ek nie voltyds gesing het nie, sou ek dalk ’n stileerder geword het.”

En eendag sal sy ook graag ’n album saam met ander sangers wil opneem.

As die geleentheid hom eendag voordoen, sal sy graag weer in ’n musiekblyspel wil optree.

Dalk, wie weet, kry sy eendag ook die kans om ’n oorsese konserttoer aan te pak.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF