ENGELA DUVENAGE gesels met skrywer Louise Viljoen oor haar boek Gesinstyd met God en haar droom dat daar heling en herstel in gesinne sal plaasvind wat verder sal uitkring:
Hoe sou jy die boek in 25 woorde opsom?
Gesinstyd met God is ’n praktiese gids propvol wenke, voorstelle, aktiwiteite en oordenkings wat hedendaagse gesinne toerus om God saam te dien en te verheerlik.
Hoekom het jy juis hierdie spesifieke boek geskryf?
Met die aanvang van die Covid-19-pandemie en die gevolglike streng inperkingsmaatreëls is miljoene gesinne wêreldwyd tot afsondering gedwing; hulle was op mekaar aangewese. Boonop kon hulle nie soos gewoonlik kerk toe gaan nie.
Ek het begin wonder oor hoeveel gesinne nog soos in die ou dae huisgodsdiens hou. En ek het begin dink aan watter prettige, moderne maniere daar is om gesinstyd met God opwindend te maak. Om lofsang en aanbidding ’n fees te maak. Om saam na ander mense uit te reik op ’n manier wat lekker én lewensveranderend is.
So, saam met dié nadenke, het God ’n droom in my hart geplaas: om ’n boek te skryf oor gesinstyd met Hom. Ek glo dat Hy ’n dringende wekroep tot mense rig om hul gesinslewe in ooreenstemming met sy wil te bring. Om die tyd uit te koop en terug te keer na dié dinge wat werklik waarde tot ons lewe toevoeg.
In watter mate het van jou vorige werkervaring hiertoe bygedra?
Ek het voorheen, sowat tien jaar lank, by ’n private Christenskool gewerk, en was ook twee en ’n half jaar die skoolhoof daar. Ek is tans besig met nagraadse studie in teologie.
My werkervaring en my studies het gehelp dat ek ’n hart ontwikkel vir gesinne wat graag gemeenskap met God hou. Dit is en bly ouers se verantwoordelikheid om hul kinders met eerbied vir God groot te maak. Want as ouers nie hul kinders van God vertel nie, by wie moet hulle van Hom leer?
BESTEL GESINSTYD MET GOD HIER.
Hoe hoop jy sal dit mense raak?
Ek haal honderde teksverse in Gesinstyd met God aan, want God openbaar Hom aan ons deur sy Woord. Wanneer ons God in ons huis (en hart) innooi, leer ken ons Hom deur die Bybel te lees.
Ek bid dat gesinne in hierdie dae God se dringende wekroep tot bekering sal hoor en daarop reageer. Mag Hy goedheid, guns en trou bewys aan elke gesin wat sy aangesig soek en Hom dien en verheerlik.
Kom ons maak erns met God en wees kragtige getuies vir Hom!
LEES OOK: Berader skryf oor rol van positiewe denke in fisiese genesing
Wil jy mense deur die boek laat beweeg, of eerder laat besin?
Agter in Gesinstyd met God is daar 52 oordenkings wat Bybelse karaktertrekke voorhou, oftewel Christelike waardes en norme. Dié weeklikse oordenkings bied aan ’n gesin die geleentheid om deeglik oor elke karaktertrek te besin en dit toe te pas.
Daar is ook 52 aktiwiteitsbladsye met plek vir foto’s, tekeninge en getuienisse wat gesinslede kan gebruik om hul geestelike reis deur die jaar te dokumenteer. Die gedagte is dat die oordenkings en aktiwiteite gesprekvoering oor God en die Bybel aanmoedig en dat gesinslede só God se hart sal leer ken.
’n Gesin sal keer op keer deur Gesinstyd met God blaai en elke keer nóg ’n teksvers vind wat hulle aanmoedig om God se aangesig te soek.
Vertel van ’n stukkie hoop wat in die boek vervat word.
Kan jy jou die heling en herstel indink wanneer gesinne begin om God se aangesig te soek en na sy wil te vra? Die vrug van die Gees is immers “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal 5:22b).
Verbeel jou dat gesinslede hierdie dinge teenoor mekaar begin openbaar …
As ons in liefde teenoor mekaar optree, sal dit spontaan verder uitkring. Ons sal dan ook in ons daaglikse handel en wandel aan ander mense goed doen. Paulus skryf: “Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen” (Gal. 6:10a). Só kan ons waarlik die sout vir die aarde wees en die lig vir die wêreld. En Jesus se woorde word waar: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Matt 5:16).
Gesinne moet “opdaag” vir die afspraak wat God met hulle het. Ons moet dit doen omdat ons wil. Omdat ons begeer om Hom te ken. Omdat ons ’n verwagting in ons hart koester dat ons Hom sal ervaar.
Dink net: Die Koning van die heelal, die Skepper van hemel en aarde en alles daarin, verlang daarna om saam met ons te wees! Hy openbaar Hom aan ons, Hy maak sy geheimenisse aan ons bekend. Wat ’n heerlike vooruitsig!
Vertel iets oor die skryfproses. Hoe lank het dit geduur, byvoorbeeld?
Ek het my boekkonsep aan Veronica Scholtz van LUCA gestuur, dis ’n druknaam van LAPA wat geestelike boeke uitgee. Dis ná ’n proses goedgekeur. Ek het die grootste deel van die boek gedurende November 2021 geskryf toe ek ’n maand aan my eie skryfwerk kon afstaan en slegs daarop kon fokus. Ek het soggens halfdrie opgestaan en dan na lofprysing- en aanbiddingsmusiek deur my oorfone geluister. My vingers het oor die sleutelbord gevlieg en die een teksvers ná die ander het by my opgekom. Ek glo dat die Heilige Gees die woorde in my hart gelê het; ek was bloot getrou om dit neer te skryf. Dit was ’n wonderlike ervaring!
Waar sit en werk jy?
Ek versorg my ma wat aan demensie ly, en sy hou my gedurig in die oog. My lessenaar staan net buite haar kamerdeur in die oopplankombuis/leefvertrek.
Sy sit bedags by my terwyl ek werk. My skryfhoekie is gerieflik ingerig, en ek is omring deur boeke. Daar prut gereeld iets heerliks op die stoof – en as ek my kop na regs draai, kyk ek uit op die welige tuin wat deur my man onderhou word.
Wat het jy in die skryfproses geleer?
By God is álle dinge moontlik. As ’n mens op Hom vertrou en jou kant bring, gee Hy jou die krag en deursettingsvermoë om te doen wat Hy jou geroep het om te doen. Jy is letterlik tot álles in staat deur Hom wat jou krag gee, wanneer jy Hom verheerlik in dit wat jy wil bereik. Ken Hom in al jou weë, en Hy sál jou paaie gelyk maak.
Vertel iets oor die terugvoer wat jy ontvang het.
Die boek is maar pas vrygestel, maar ek het reeds wonderlike terugvoer ontvang – ook van grootouers wat die boek aan hul kinders en kleinkinders oorsee stuur. Baie mense reken dat gereelde gesinstyd met God broodnodig is, veral omdat so baie gesinne deesdae broos is, gebroke.
- As manuskripontwikkelaar help Louise Viljoen van Jeffreysbaai gereeld ander mense om aan ’n boek te skaaf. Sy het self reeds twee kinderboeke, ’n geestelike roman en wetenskapfiksie geskryf. Haar eerste niefiksieboek, Gesinstyd met God (LUCA, R250), is nou nuut op die rakke. Dis vol praktiese wenke vir gesinne oor hoe om hul geloofslewe sinvol, met woorde en dade, én as span, te beleef. Sy het die boek aangepak te midde van haar werk as taalpraktisyn, en as boekresensent vir onder meer Maroela Media en FiND iT. Boonop praat sy Saterdagoggende boeksake oor Radio Kaapse Kansel.
- Klik en bestel Gesinstyd met God hier.