Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God se liefde het my gehelp om vrede te maak met my verlede,’ sê musiekpromotor ná jare se mishandeling en molestering

Musiekpromotor Anja Maree* se kinderjare is deur liggaamlike en seksuele mishandeling gekenmerk. In ’n soeke na aanvaarding het sy baie foute gemaak, en vir baie lank gewonder hoe God haar, “die groot sondaar”, kan liefhê. Maar God se onvoorwaardelike liefde het haar heel gemaak. Hoewel sy steeds soms met selfliefde sukkel, glo sy vandag dat sy “op die regte tyd en op die regte plek én met die ‘regte’ verlede” hier op aarde geplaas is.

FOTO SLEGS TER ILLUSTRASIE (iStock)

My heel eerste herinnering aan hom was toe ek as driejarige saam met my ouer boetie en my ma in haar kar gery het. Dit was donker. My ma het stilgehou en met ’n man gesels. Hulle het mekaar geken en wou mekaar net vinnig groet. Ek was bang en onseker, want my ouers is toe pas geskei. Ek het agter in die kar gaan lê, probeer wegkruip.

Sy eerste woorde aan my was: “Ek het gedink dis ’n bondeltjie wasgoed wat daar lê.”

Ek het dadelik ontspan, want die oom was baie snaaks.

LEES OOK: ‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’

Ek onthou hoe hy, kort daarna, toe ek vier jaar oud was, my die eerste keer ’n voorsmakie gegee het van wat op ons sou wag: Ons was in die kar en ons het roomys gekry. Dit was ’n Sondag. Hy het by my kleuterskool stilgehou en ons het verduidelik dis waar ek skoolgaan.

Hy het my ma gevra om uit te klim en te maak asof sy my skool toe neem. Toe sy uitklim, trek hy skielik weg.

LEES VERDER: #2 ‘Ek het hom vergewe,’ sê musiekpromotor ná mishandeling en molestering

Ek was histeries. Ek was alleen saam met die vreemde man in sy kar, en my ma staan alleen langs die pad.

Hy het om die blok gery – en toe ek weer sien, hou hy voor die skool stil. En hy lag kliphard, terwyl my ma weer inklim. Ek weet tot vandag toe nie wat sy werklike beweegredes was nie.

Al die waarskuwingstekens was daar

As ek nou daaraan terugdink, was al die waarskuwingstekens uit die staanspoor daar.

Sake het vinnig versleg, en kort daarna was die emosionele en liggaamlike mishandeling voluit aan die gang.

Enkele dinge wat ek nooit sal vergeet nie: hoe hy my deur die gesig klap, en aanhou klap, totdat my kop begin draai en ek uiteindelik op die grond val. Hoe hy my so hard met ’n skoen op my boude slaan dat ek die daaropvolgende dae deur my maatjies by die skool gespot word omdat ek nie behoorlik kon sit nie. Hoe hy my gedwing het om Tabasco-sous te eet om kamma te bewys dat ek vir hom lief is.

Ek onthou hoe hy my ma in haar kantoor met ’n stoel gegooi het. Hoe hy my boetie alleen saam met hom in ’n klein kamertjie toegesluit het. Daar was ’n kluis in daardie kamer en al sy vuurwapens was in daardie kluis. Hy het deur die toe deur geskreeu dat hy my boetie gaan skiet.

Ek onthou hoe ons kinders keer op keer gehardloop het om ons ma teen hom te probeer beskerm, hoe ons gesmeek het dat hy haar nie moet seermaak nie.

Een middag was ons besig om ’n groentetuin aan te lê. Hy was weer in een van sy “buie”. Hy en my ma het baklei en hy het die tuinslang gegryp en probeer om haar te verwurg.

Een nag moes ons in die kar spring met net die klere aan ons lyf en my hondjie onder my arm. Ons moes vlug. Daardie aand moes ons in die kar slaap, iewers by ’n vakansieoord onder ’n boom. Doodbang dat hy met sy rooi gesig en gebalde vuiste aan die ruite gaan hamer.

Toe my boetie ouer word, het hy hom teen die man begin verset en dit het in hewige vuisgevegte ontaard. Op ’n dag het hy my boetie se kop met ’n klavierstoel geslaan dat die bloed loop.

Ons het gou geleer om vir ons maats te jok, en vir die dokter en alle ander mense in ons omgewing. Om te sê daar is niks fout in ons huis nie, dat al die beserings die gevolg van ongelukke was.

Snags, as almal slaap …

Ek het net begin om ’n jong dame te word toe hy besluit het dat hy my – sonder dat my ma by is – van die bytjies en die blommetjies moet vertel. Gou het dié “gesprekke” in seksuele molestering ontaard. Ek het snags in my bed gelê, huilend, bang, en gewag dat hy in die kamer moet inkom. Hy het gewag tot almal slaap en dan by my in my bed geklim.

My maats het snuf in die neus begin kry. As hy gehoor het ons gaan swem, en geweet het dis tyd dat ons verklee, het hy gesorg dat hy “per ongeluk” in die kamer inkom om kamma iets te vra.

Skool was my ontvlugting, en my biologiese pa.

Maar op ’n keer moes my pa ’n ruk lank weggaan – en dit was al wat my stiefpa nodig gehad het om, ongehinderd, ons hele gesin te verniel.

My maats het my begin spot en my eenkant toe gestoot.

Om tuis én by die skool geboelie te word, was bitter. Ek het dikwels ná skool in my kamer gaan sit, met al die pille wat ek in die huis bymekaargemaak het. Ek het die pille getel, daarmee gespeel … en dit gou weer in die houers gegooi. Want sê nou ek probeer … Sê nou dit werk nie … Sê nou hy kry my dan in die hande …?

Toe ek 16 word, het ons uit die dorp gevlug. En ek het nooit weer teruggegaan nie. Eers heel onlangs is ek weer daarheen; ek het ’n behoefte daaraan gehad om my verlede te herbesoek.

*Anja Maree is ’n skuilnaam.

  • Stuur jou getuienis in sowat \’n 1000 woorde en foto\’s na lig@tydskrifte.co.za
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF