24 Mei 2021
DEUR MILANIE VOSLOO
Daar is ’n bekende frase in die sakewêreld wat só lui: “Dis nie sy pa se besigheid nie.” Dit beteken dat ’n bepaalde werknemer geen verantwoordelikheid aanvaar nie, en slegs doen wat nodig is om ’n salaris te regverdig.
LEES OOK: Jy kan hart-hekke oopmaak
Daarteenoor neem sake-eienaars, aandeelhouers en goeie, lojale werkers eienaarskap van die onderneming en sal hulle alles moontlik doen om die onderneming te laat floreer. Niks sal vir hulle te veel wees nie.
Nou ja, jý is God se “besigheid”. Dit sê Jesus self. “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir sy skape. ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie” (Joh 10:11 – Nuwe Lewende Vertaling).
Ja, jy is só deel van Christus dat Hy Homself vir jou gegee het, dat Hy kies om ín jou te wees en dat Hy altyd daar vir jou sal wees. Ongeag!
Mag die waarheid dat God Hom persoonlik tot jou verbind het, jou vandag onuitspreeklike vreugde en ’n diepe vrede gee.
My hart se onthou
Soms, Here, voel dit asof niemand regtig vir my omgee nie.
Asof almal maar net besig is om na hul eie belange om te sien.
En ek alleen met die lewe stoei.
Vandag neem ek die waarheid dat ek regtig u eiendom is,
van my kop se weet
na my hart se onthou.
Hier is ek, Heiland.
Hou my vas in die koestering van u liefde.
Omkring my met die grootheid van u genade.
En vou my op hierdie oomblik toe
met u vrede.
Dié sagte vrede wat alle verstand te bowe gaan.