19 April 2021
DEUR MILANIE VOSLOO
Het jy al gesien hoe mense blom wanneer jy vriendelik met hulle is? Hoe ’n stroewe gesig in ’n glimlag vertrek as jy bloot gaaf, dankbaar of bedagsaam is?
En het jy al iemand voor jou sien verkrummel wanneer jy, om watter rede ook al, ongeduldig, kwaad of geïrriteerd is?
LEES OOK: Huil maar!
Ja, het ons nie almal al beleef hoe kragtig ons woorde is nie …
Die manier waarop ons met mekaar praat, maak ’n verskil aan hoe ons oor onsself, oor ander én oor God voel. Dink maar: Hoe voel jy wanneer iemand jou afkraak? En wat gebeur in jou hart wanneer iemand, dalk onverwags en onverdiend, vriendelik met jou is?
Lank nadat ander mense vergeet het wat presies jy in ’n bepaalde situasie gesê of gedoen het, sal hulle onthou hoe jy hulle laat voel het. Ons lees in Spreuke 15:1 dat ’n vriendelike antwoord die gemoedere kalmeer, maar ’n dwars antwoord woede laat ontspring.
LEES OOK: Hoe lyk jou ballon-briefie?
Vriendelikheid is die hek na iemand se hart. Kom ons bid elke dag dat die Gees ons hart van hoek tot kant met sy liefde en begrip sal uitverf, sodat ons woorde ander sal opbou. Sodat ons kan begin om vriendelikheid uit te deel. Ongeag.
Dan maak ons hekke oop!
Hekwagter
Ai, Here,
ons maak tog so droog!
Ons gooi soms onnadenkende en onbedoelde
woorde na mekaar –
en dan breek ons.
Vandag bid ek:
Vergewe my vir al die duisende kere
wat my woorde seergemaak het.
Toe ek vanuit my woede,
my begeerte om te beheer,
my trots,
skerwe van iemand se hart gemaak het.
Kom my swakheid te hulp, Genade-God.
Ja, wees so deel van my hart en my denke en my mond
dat ek met u soort takt en oorleg,
u soort diep liefde vir almal,
met ander sal omgaan.
Ook vandag.
- Milanie Vosloo is passievol daaroor dat gelowiges gereeld in die Gees en die Woord moet stil word. Sy is die skrywer van verskeie topverkoper geestelike boeke en sakevrou met haar eie reklame-agentskap.