DEUR MILANIE VOSLOO
Hoe gaan dit met jou hart, siel en gees se dieetprogram?
Kon jy al ’n gewoonteskuif (oftewel ’n kopskuif) maak om ligter te leef? Kon jy dit regkry om minder te doen, minder tyd op sosiale media te bestee, en bloot meer méns te wees?
Leer tog om die klein vreugdes in elke dag raak te leef. Om minder skuldig te voel, om jouself en ander te vergewe.
Een van die dinge wat ons hart, siel en gees oorgewig maak, is dié ellendige gevoel: Ek is nie goed genoeg nie.
LUISTER
Daar is VERSKEIE REDES waarom dié soort gedagtes in ons hart rondhardloop: Dalk is dit die manier waarop jy grootgemaak is.
Dalk het dit by jou ’n gewoonte geword om jou met ander te vergelyk.
LEES EN LUISTER OOK: Leef ligter-luisterreeks: God se veerligte vrede
Dalk speel die verwagtinge wat jou ouers en ander van jou gekoester het ook ’n rol.
Wat van die reaksie wat jy by mense ontlok, die “terugvoer” wat jy kry, die manier waarop ander jou behandel?
En: Waaraan meet jy sukses?
Onthou die volgende lewenswaarhede:
- Selfs uiters suksesvolle mense wonder of hulle goed genoeg is. Jou worsteling is dus nie uniek nie.
- Niemand kan jou minderwaardig laat voel nie … behalwe jyself.
- Doen gereeld introspeksie. Ondersoek jouself, en doen dit saam met die Heilige Gees.
- As jy daarvan oortuig is dat jy jou beste lewer, kan jy ophou om jouself so te kasty. Gaan sit al daardie twyfelgevoelens voor Christus se kruis neer.
LEES
Timoteus 6:11: “Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”
Wanneer jy met ’n opregte hart probeer om só te leef, kan jy daardie nie-goed-genoeg-nie-gevoel by God los. Gee dit vir die Een wat met sagte oë na jou kyk.
GEBED
Here, U ken elke stukkie van my lewe. Ook daardie wegsteek-gedagtes waarmee ek soms stoei. Ek gee myself aan U, net soos ek is. Bevry my van myself en van die leuens in my. En leer my om as ’n vervulde, vredevolle en liefdevolle mens te leef. Omdat ek weet dat ek ’n verloste mens is. Omdat my identiteit in U lê. Omdat ek daarom ’n heel mens is. Amen.
- In dié splinternuwe luisterreeks wil Milanie Vosloo gelowiges aanmoedig om in 2022 ligter te leef.