DEUR SIMONE GAUCHE
My oupa is onlangs op ’n rype 93 jaar oorlede. Soos dit nou maar is as ’n mens ’n geliefde aan die dood afstaan, dink ek deesdae gereeld aan die staaltjies wat hy vertel het. Dalk is dit my manier om hom in my gedagtes te hou …
LEES OOK: ‘’Ek het my Hillbrow-ma en Duitse pa vergewe,” sê aangenome student
Een van sy gunstelingstories bly my by: Oupa was baie goed vertroud met die finansiële markte en hy het graag vertel van die dag toe ’n finansiële raadgewer hom in die aftreeoord kom spreek het. Oupa was toe 80. Terwyl hulle die beleggingsportefeulje bespreek, het Oupa aan die raadgewer genoem dat hy ’n langtermynbelegger is. Die man het gelag, gedink Oupa maak ’n grap. Maar hy het gou sy glimlag gesluk toe hy agterkom Oupa is doodernstig.
Oupa is eers dertien jaar ná daardie gesprek oorlede, ’n langtermynbelegger tot sy dood. Én ná sy dood, want hierdie besonderse uitkyk op sy finansies het op meer as een vlak ’n deel van sy erflating geword.
’n Strategie vir die lewe
My oupa se beleggingstrategie het ’n belangrike strategie vir my lewe geword. Ek kyk deesdae verder. Ek het geleer dat ek my minder hoef te steur aan die lewe se wisselvalligheid en wispelturigheid. Dat dit, soos die finansiële markte s’n, mettertyd minder saak maak. Dat Jesusvolgelinge, uit die aard van hul geloof, hulle nie hoef blind te staar teen skielike krisisse nie.
Hoor wat skryf Paulus: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Kor 4:16-18).
Gelowiges fokus nie op sigbare tydelikhede nie; ons kyk verder, baie verder, na daardie dinge wat ewigheidswaarde het. Ons hou altyd God se langtermynplan voor oë, die plan wat nooit vergaan nie en wat eers met die voleinding voltooi sal wees. Soms beteken dié soort siening dat ander mense ons dalk nie verstaan nie, dat hulle selfs vir ons lag.
Maar dit is ons voorreg om so te mag dink, en dit is ’n dure verantwoordelikheid. Wat ons dink en doen en beplan, maak saak – vir onsself, ons gesin en familie, vir die samelewing. En dan vir die langtermyn, én daarna. Ja, ons doen en late het implikasies vir die ewigheid.
En hier is die wonderlike: Nou reeds gee dit betekenis aan ons lewe, en nou reeds maak dit ons elke dag bewus van God se groter plan.
Hoor hoe klink hierdie “erflating”:
Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,
besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.
– uit DJ Opperman se gedig “Negester en stedelig”
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.