Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Solank jy na Jesus toe stap, maak dit nie saak as jy begin sink nie

DEUR SIMONE GAUCHE

“Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: ‘Dis ’n spook!’ Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: ‘Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.’ Toe sê Petrus vir Hom: ‘Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.’ ‘Kom!’ sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’ Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: ‘U is waarlik die Seun van God’” (Matt 14:25-33).

Gelowiges lees graag hierdie Bybelgedeelte en kom dan tot die gevolgtrekking dat ons groot wonderwerke sal kan verrig en selfs op water kan loop – as ons net glo en vertrou.

LEES OOK: Boervrou voltooi sewe jaar lange pennereis deur Bybel

Ek dink egter sommige Bybellesers fokus te veel op Petrus se vrees en twyfel. Die Here wou mý ’n ander les leer: Ek moes leer hoe belangrik dit is om Jesus se stem te hoor en in sy rigting te loop, en dat dit nie so erg is om soms te twyfel en te begin sink nie. Die hoofsaak is dat ons sy stem hoor en dat ons na Hom toe loop. As jy dan begin sink, kan jy weet Hy is daar by jou, en Hy is gereed om jou vas te gryp.

Die Bybel is vol Petrusse wat sukkel met hul geloof, wat bang is hulle sink. Twyfelaars. Sondaars. Mense vol foute en swakhede.

In hul onvolmaakte geloof sien ons onsself. Ons eie twyfel en vrees. En, as ons eerlik is, onthou ons die kere toe ons ook as ’t ware op water probeer loop het. En hoe Jesus ons begelei het – by ons, teenaan ons, reg om ons te help wanneer ons geloof ons in die steek laat.

Om werklik te glo en met jou hele hart te vertrou

Hoekom sukkel ons dan so om Hom te vertrou? Ons hoef immers nie te wag tot ons offers volmaak is en ons geloof “sterk genoeg” is voordat ons na sy stem luister en Hom volg nie. God eis nie volmaakte offers nie; Hy vra wel gewillige offers. Hy wil hê sy kinders moet sy stem gehoorsaam. En dit maak nie saak hoe vinnig of hoe stadig jy na Hom toe loop nie; hou net aan loop.

Ek het al dikwels getwyfel en my geloof het gewankel, maar ek is dankbaar om te sê dat ek aangehou het om in sy rigting te loop. Soms voetjie vir voetjie, maar ek het altyd geweet Hy is naby, en dat sy hand sterk genoeg is om my op te tel.

Ek weet nie hoe moeilik die pad is wat jy stap nie. Ek weet nie hoe die wind in jou lewe waai en hoe sterk die storms is wat om jou woed nie. Ek weet nie hoe bang jy is nie. Maar as ek jou kan raad gee, sal dit wees om bloot aan te hou loop na Hom toe. Selfs al strek die roete oor water.

Petrus die sukkelaar, die man met die angs en die twyfel, het uiteindelik die rots geword waarop Jesus sy kerk gebou het. In God se krag is ons tot enigiets in staat. Sy krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is.

Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF