Die lewe is nie vir sissies nie – almal weet dit. En elkeen kan ’n lang lys dinge opnoem wat hul vreugde steel. Maar het jy geweet daar bestaan ook ’n lysie dinge wat die huppel in jou stap terugsit? Dat veerkragtigheid herwin en versterk kan word?
DEUR LIEZL BYLIEFELDT
Veerkrag. Dis die vermoë om terug te bons ná hartseer, trauma, teleurstelling, ontnugtering of mislukking.
Om veerkragtig te wees, behels egter meer as bloot die vermoë om terug te bons; dis ook die doeltreffende en gesonde funksionering ná en ten spyte van ’n terugslag.
Wat help, en wat nié?
Navorsing vanuit die Positiewe Sielkunde dui daarop dat sekere faktore veerkragtigheid uitput of afbreek, terwyl ander dit ondersteun en buffer.
In Suid-Afrika word ons veerkragtigheid daagliks beproef deur onder meer die hoë misdaadsyfer. En die brutale geweld, veral ook dié teenoor vroue en kinders. Daar is die skynbaar nimmereindigende stygings in brandstof- en kospryse, en die minder as rooskleurige ekonomiese vooruitsigte. Dit alles het onder meer tot gevolg dat talle mense – onder andere vriende en bekendes, en familie- en gesinslede – die land verlaat.
Voeg daarby afbrekende sosiale interaksie, byvoorbeeld ras- en geslagsdiskriminasie en die ontkenning van kultuurverskille. Sulke uitdagende omstandighede word nie makliker gemaak deur die ander eise wat die samelewing stel nie, veral ook die verwagting dat ’n mens verskillende rolle moet vertolk en ’n verskeidenheid verantwoordelikhede op jouself moet neem.
Daar is byvoorbeeld weinig begrip vir die enkelouer wat finansieel moet voorsien en wat dikwels ’n dubbele verantwoordelikheid moet dra. Voeg daarby die druk op jong mense om vroeg reeds ingeligte loopbaanbesluite te neem, en om werk te vind in ’n stagnerende ekonomie. Dis dus nie vreemd dat daar soveel mense is wat emosioneel uitgeput word nie. Daar is immers vele faktore wat hul veerkragtigheid uitput.
Aan die ander kant: In ’n studie wat gedurende 2018 by vroue-opvoeders in Delft, buite Kaapstad onderneem is, is daar bevind dat veerkragtigheid versterk word deur bepaalde karaktereienskappe en strategieë. Daar bestaan dus moontlikhede wat suksesvol aangegryp kan word om veerkragtigheid uit te bou.
Hier is tien wenke wat veerkragtigheid bou en versterk:
Die uitleef van jou lewensdoel en roeping
Om die antwoord op die eeue oue vraag: “Wat is my doel op aarde en wat maak ek hier?” te beantwoord, is om suksesvol uiting te gee aan wie en wat jy werklik is. Dit laat jou toe om op jou sterkpunte te fokus en jou unieke vaardighede aan te wend sodat jy kan “blom waar jy geplant is” – en kan floreer.
Passie
Doen waarvoor jy lief is, en jy sal lief wees vir wat jy doen. Om ’n taak, jou werk of ’n projek met passie aan te pak en deur te voer, is een van die kragtigste maniere om veerkragtigheid te bevorder. So ’n passie is aansteeklik en inspireer ander tot ’n passievolle uitlewing van húl werk en menswees.
Geestelike versorging
Die beoefening van jou geloof deur stiltetyd en gebed, refleksie en introspeksie, bring innerlike krag en versterking mee wat veerkragtige funksionering ondersteun. ’n Gesonde geloofslewe en ’n lewende verhouding met God hou jou staande wanneer die storms om jou woed.
Die wete dat jy op God kan steun en dat jy geen pad alleen aandurf nie, is dus ’n buffer vir veerkrag.
Positiwiteit as ’n keuse
Jy het nie altyd beheer oor jou omstandighede nie. Jy kan ook nie kies watter uitdagings die lewe na jou kant toe gooi nie – maar jy kan wel kies hoe jy daarop reageer. ’n Positiewe uitkyk op die lewe is ’n daaglikse keuse wat jou veerkragtigheid versterk en jou help om die lewe se storms met groter grasie te hanteer.
Selfversorging
Ten einde veerkragtig te bly funksioneer, moet ’n mens tyd daaraan afstaan om jouself te versorg. Selfversorging is noodsaaklik ten einde jou emosionele energievlakke aan te vul. Vele vroue weet maar te goed hoe uitputtend dit kan wees om tegelykertyd ma, vrou, vriendin, versorger en tuisteskepper te wees.
Om boonop tyd aan jouself te wil afstaan, mag jou dalk laat skuldig voel. Maar veerkragtige mense besef die waarde van selfversorging. Laasgenoemde sluit in: rus en ontspanning, en die beoefening van ’n stokperdjie of aktiwiteit wat jy geniet en wat jou lewe verryk. Voeg daarby die vermoë om duidelike grense te stel, én om soms “nee” te sê, sodat jou emosionele energie nie onnodig uitgeput word nie.
Fokus op jou sterkpunte
Om op jou sterkpunte te fokus – en om dit trouens nog sterker te maak – sal jou help om jou veerkragtigheid te buffer. Die oogmerk hier is nie om die plekke waar jy nog groei te verdoesel nie; eerder om bewustelik te fokus op dit waarvoor jy aangelê is. Om vanuit jou sterkpunte te leef en te werk, ondersteun dus jou veerkragtigheid.
Die waarde van spanwerk
Of jy nou by die werk in ’n span funksioneer en of jou gesin jou “span” by die huis is – daar lê baie waarde daarin om op spanwerk te steun om jou veerkragtigheid te beskerm. Die geheel is tog méér as die afsonderlike dele … Mense wat op hul spanmaats steun en wat hul verpligtinge of verantwoordelikhede roteer of met mekaar deel, slaag beter daarin om hul veerkragtigheid op te bou en in uitdagende tye te buffer.
Kommunikasievaardighede en sosiale intelligensie
Ons is as sosiale wesens geskape. Ons vermoë om kwaliteitverhoudings aan te knoop, is ’n versorgende strategie wat veerkragtigheid ondersteun. Dit beteken dat goeie mensvaardighede nodig is om ander te kan “lees” en te verstaan. En daarvoor moet jy soms jou intuïsie vertrou.
Doeltreffende kommunikasie help ons om konflik te vermy – of dit minstens na wense op te los – sodat ’n verhouding gesond kan bly en aanhou groei. Om dus aan jou verhoudings te bly bou én te sorg dat jou kommunikasie met ander duidelik, opbouend en doeltreffend is, sal veerkragtigheid in jou eie lewe bevorder.
Leer sonder ophou
Die spreekwoord lui dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie. Veerkragtige individue bly voortdurend aan ’t leer. Hulle werk doelgerig daaraan om iets nuuts te leer, en/of hulle probeer om ’n bestaande vaardigheid verder uit te bou.
Die waarheid is: Of dit nou die aanleer van ’n nuwe handvaardigheid, of die bemeestering van ’n nuwe studieveld of nuwe taal is – om jou veerkragtigheid uit te bou, moet jy aanhou leer.
Belê in ander mense
Jou nalatenskap word grotendeels bepaal deur die impak of invloed wat jy op ander gehad het. ’n Doeltreffende manier om ’n blywende impak te maak, is om ander met jou kennis te bemagtig en met jou voorbeeld te inspireer. Veerkragtige mense deel graag hul kennis en ervaring met ander en tree dikwels as mentors op. Dis dus voordelig vir jou eie veerkragtigheid om in ander se professionele of persoonlike ontwikkeling te belê.