DEUR DEONETTE DE KOCK
Uiters moeilike finansiële omstandighede het Norah Shaw van Reitz in die Vrystaat 31 jaar gelede genoop om haar seuntjie net ná sy geboorte te laat aanneem. Oor hierdie baba het sy haar lewe lank getreur. En toe spoor hy haar 12 jaar gelede op, al die pad uit Skotland.
“Ek was ’n alleenouer wat sonder ’n man, sonder geld, sonder ’n motor en sonder ’n foon my twee seuns, Evert (nou 42) en Hansie (nou 32), moes grootmaak. My gewese man was in die tronk en my lewe was vól uitdagings. Maar deur dit alles het die Here my gedra.”
Só gesels Norah Shaw (60) oor haar swaarkryjare. Sy vertel: “Ek moes met ’n maandelikse salaris van R800 eers R450 huur betaal. Ek moes skoolgeld bydra, ek moes skoolklere vir Evert koop en formulemelk vir die eenjarige Hansie.
“As die formulemelk op is, het ek dit met rooibostee vervang, soms sonder melk. Partykeer was daar slegs water. Dit was ’n benarde posisie om in te wees.
“Ek het die Here dikwels om uitkoms gevra. Ek wou nie dat my jongste ondervoed wees nie. En die Here het gesorg, daar was altyd uitkoms.”
Norah en haar alkoholis-man se paaie het geskei omdat hy hulle mishandel het. Toe hy op ’n dag dreig om klein Hansie dood te skiet, is hy vyf jaar tronk toe gestuur. Hy het Norah egter omgepraat om die week voordat hy by die gevangenis moes aanmeld by hulle oor te bly.
Hy was in die tronk toe Norah besef sy is swanger. Sy vertel: “Ek wou nie my kind weggee nie, maar daar was nie geld of kos in my huis nie. Die vriendelike vrou by die Welsyn het aanneming voorgestel. Hieroor het ek maande lank my oë uitgehuil, maar ek het besef ek het nie ’n keuse nie.”
Niemand buiten Norah en die mense by die Welsynkantoor het van die swangerskap geweet nie. Nie haar ouers nie en ook nie haar twee seuns nie. Sy het oorgroot klere gedra en allerlei verskonings uitgedink vir haar lyf wat so groot geword het.
‘As hy 19 is …’
Die bevalling het goed afgeloop en Norah se derde seuntjie is op 19 September daardie jaar gebore. “Ek wou nie my kind sien nie; ek wou wel ’n foto van hom hê. En ek het gesê dat ek hom graag sou wou sien as hy 19 is.
LEES MEER: Vyf mees gelese getuienisse in 2021
“Die hospitaalsuster het my kind in ’n groot, wit handdoek toegedraai. Net die twee voetjies het uitgesteek. Ek kan nie in woorde sê hoe erg dit vir my was nie. Ek het alleen daar gelê, dit was net ek en my hartseer.”
Drie maande ná die geboorte het die nuwe aankomeling geskikte aanneemouers gekry. “Ek moes my kind afteken. Ek het so gehuil …
“My enigste troos was dat dit baie goeie ouers was. Tog het dit seer gebly. Elke Kersfees en elke jaar se 19 September was ekstra swaar. Dan het ek sy foto uitgehaal en daarna gekyk en gehuil.
“My geloof was al die jare baie sterk. En die lewe Here het my deur baie krisisse gedra sodat ek sterker aan die ander kant kon uitkom. Swaarkry en seerkry bring jou nader aan die Here, dit versterk jou geloof verder. Ek het geweet Hy het my kind in sy hande.”
Toe die seuntjie nege jaar oud word, het Norah soos altyd vir hom gebid en gevra of die Here asseblief sal sorg dat hy ’n groot partytjie sal hê. Sy het Hom weer gevra of sy die seuntjie kon sien as hy 19 word. Haar hartsbegeerte was dat hy na haar sou begin soek.
Soos dit moes gebeur, het die aanneemouers op ’n dag hul kluis uitgepak. Daar was ’n dik lêer, hul seuntjie se “aannemingslêer”. Hy het dit oopgemaak en gelees hoe swaar Norah gekry het, hoe hartseer sy was en dat sy hom nie wou weggee nie.
Hy het haar gou opgespoor.
Corbin Chaplin was 19 jaar oud toe hy en sy aanneemma Anne sy biologiese moeder Norah in Margate besoek het. Hulle het al die pad van Skotland na Suid-Afrika gereis.
Soos ’n droom wat waar word
Norah vertel: “Voordat ons mekaar daardie eerste keer in 2009 ontmoet het, het ek ’n brief aan hom geskryf. Hy het later vertel dat hy my destydse moeilike omstandighede verstaan. En hy het dankie gesê vir wat ek vir hom gedoen het, want hy het regtig baie goeie ouers gevind.
“Die wonderlikste van alles was toe ons die eerste keer met mekaar praat en ek my as ‘Norah’ aan hom voorstel en hy dit uitjubel: ‘Hallo Ma!’ Ons het so gelag, en lank gesels.”
Intussen het Norah haar ander twee seuns van hul boetie vertel. “Dit was ’n tranerige storie,” sê sy. “Maar hulle het verstaan, hulle het besef dat ek nie nóg ’n mond kon voed nie.”
Die uiteindelike ontmoeting was soos ’n droom wat vir Norah waar geword het. Sy sê sy het onmiddellik geweet dis haar kind. “Hy was lank en maer soos my ander seuns, met dieselfde neus en voete. Ek het hom lank vasgehou, ek het baie gehuil.
“En hy het my getroos. Hy is die pragtigste kind, so mooi en liefdevol. Ek en Corbin en Hansie het die hele nag om gesels. Dit was ’n belewenis! Ek het ook gehoor dat hy wel ’n groot partytjie gehad het toe hy nege geword het, presies waarvoor ek gebid het.”
Sedertdien maak Norah en Corbin gereeld kontak met mekaar. “Ons almal is so lief vir Corbin, en hy vir ons. Toe ek vier jaar gelede weer getroud is – met Andrew, ’n goeie man – was Corbin en sy oulike meisie Alana hier vir die geleentheid.”
Boonop trou Corbin later vanjaar met Alana. Eers in Skotland, en dan hier in Gqeberha in Suid-Afrika.
“Dis vir ons so ’n groot voorreg,” sê Norah.
“Ek het ‘n geloofspad saam met die Here gestap, my vertroue in Hom is rotsvas. Ek is so lief vir Hom en ek kan getuig van al die wonderwerke in my lewe en hoe Hy my deur alles gedra het. Deur sy genade het ek weer vir Corbin in my lewe. Wat ’n seën!”
- Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal na lig@tydskrifte.co.za