Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

As jou gedagtes oorlog maak …

Jou gedagtewêreld is ’n baie interessante plek. Dit is privaat – maar jý is daarvan bewus. Soms is jou gedagtes goed en gaaf en mooi; ander kere is dit deurmekaar en selfs ontstellend. Hoe jy maak met wat jy dink, kan die verskil wees tussen oorlog en innerlike vrede.

DEUR RUDI SWANEPOEL

Gelowige mense stel dikwels baie hoë (en heel onrealistiese) eise aan hulleself oor hul gedagtewêreld. Dan lyk dit ongeveer só: Ek het my lewe aan God gewy, ek is gedoop en ek gaan kerk toe. Hoekom sukkel ek om my gedagtes in toom te hou? Hoekom dink ek so baie en so maklik aan “verkeerde” dinge?
Is daar fout met my? Beteken my geloof iets? Is ek hoegenaamd gelowig as ek aan súlke dinge dink?

Die feit is: Ons is mense. En geen mens is volmaak nie.
Die mens is ’n komplekse wese. Boonop maak die stukkende wêreld waarin ons leef sake nóg ingewikkelder. Nou gebeur dit dat gelowiges soms hul geloof wil gebruik om allerlei dinge (ook hul gedagtes!) “reg” te maak, of “maklik”, of “heilig”.
Dis egter nie realisties nie, want ons is ook die produk van baie invloede op ons lewe. Ons het vele dinge beleef, gehoor en gesien. En allerlei trauma deurgemaak. Al hierdie kwessies het bepaalde indrukke op ons gelaat – en dit het die manier om in ons gedagtewêreld voort te woed. Boonop maak ons voortdurend keuses, wat ook ’n invloed het op wat en hoe ons dink.
Wat doen ons nou aan hierdie moeilike saak?
Een moontlikheid is om vergifnis te oorweeg vir dié wat ons te na gekom het.
En om dit te oorweeg om onsself te vergewe.
Daar is baie mense wat met laasgenoemde sukkel, juis vanweë die hoë standaarde wat hulle aan hulleself stel. Maar ons oogmerk is tog om vryer te word van negatiwiteit en van spyt, en om te groei – nie waar nie?
In hierdie proses is vergifnis ons vriend, en boonop ’n baie kragtige instrument in hierdie verband. Vergifnis help ons om anders oor die verlede te dink. Dit het die wonderbaarlike vermoë om negatiewe gedagtes van hul krag te ontneem.

Nie maklik nie

Dit voel soms asof ons bloot hoef te kies om ons gedagtegang te verander of om sekere gedagtes uit ons kop en lyf te verdryf. Dis egter nie so eenvoudig nie.
Wanneer ons sagkens met ons eie mens­likheid te werk gaan, besef ons dat ongemaklike gedagtes deel van ons menswees is. Dat hierdie gedagtes soms in ’n konflik met ons waardes en opvattings verkeer.
Dis nié abnormaal nie, en dit beteken nie dat daar fout is met ons nie.
Om sagte oordeel aan die dag te lê wanneer jy jou gedagtewêreld onder die loep neem, is ’n bevrydende ervaring. Watter doel dien dit in elk geval om jouself te kasty wanneer jy aan negatiewe dinge dink? Jy is nie ’n supermens nie.
Terselfdertyd nooi God jou ook om jou hele menswees met Hom te vul. Hiervoor hoef jy nie so hard te probeer soos dit mag klink nie; Hy gee Homself immers aan jou.
Hy keur nie af wie en wat jy is nie, Hy het deernis vir wat met jou gebeur het. Hy kyk met sagte oë na jou ganse menswees. En Hy verstaan.
Hy verstaan die stryd. Hy verstaan versoeking. Hy verstaan woede en frustrasie en verraad en pyn. Hy verstaan jou beter as wat jy jouself verstaan. Juis daarom kan jy gerus ontspan. Hy gaan jou nie veroordeel nie.

Wat van die Woord?

Op verskeie plekke in die Bybel word daar na die gelowige se gedagtewêreld verwys. Veral twee teksgedeeltes is hier van belang:
In Spreuke 4:23 sê die Spreukedigter dat ons versigtig moet wees vir wat in ons hart (oftewel ons gedagtes) is, “want dit bepaal jou hele lewe”. Hier word gelowiges aangemoedig om bewus te wees van wat hulle dink en watter invloed dit op hulle het.
Negatiewe gedagtes kan jou negatief laat voel en negatief laat optree. Ons binne- en buitewêreld is nie so maklik van mekaar te skei nie …
Ook hier moet ons daarteen waak om nie te vinnig te besluit dat bepaalde gedagtes “abnormaal” is nie. Niemand se gedagtes kan altyd vol vreugde en blydskap wees nie. Dis normaal om soms negatief of neerslagtig te wees.
Bowendien verskil mense se persoonlikheid van mekaar: Sommiges het van nature ’n meer positiewe lewensingesteldheid as ander. Jou gedagtes sal net nog meer negatief word as jy jou voortdurend met iemand anders vergelyk.

Paulus skryf in twee van sy briewe dat gemeentelede hul gedagtes moet “rig” – in Filippense 4:8 en Kolossense 3:2. Hiermee gee hy as ’t ware toe dat ’n gelowige sy of haar gedagtes kan “koers gee”, maar nie noodwendig volledig kan beheer nie.
Die dinge waarop gelowiges, volgens Paulus, hul gedagtes moet rig, is net positief: “die dinge wat daarbo is” (Kol 3:2), en op “alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees …” (Fil 4:8).
Hier is dus ’n uitnodiging om jou gesig na die son te draai, om in die lig te leef. En om die lig toe te laat om in jou in te skyn.

Vertrou iemand daarmee …

Soms voel ons dat ons gedagtes nêrens heen lei nie. Of dat dieselfde gedagtes in ons kop ronddwaal en net nie wil koers kry nie.
Dan is dit dalk nodig dat so ’n gedagte moet uitkom, dat dit woorde word. Om dit te doen, het ons ’n goeie vriend of ’n vertroueling nodig. Ons moeilike gedagtes het veilige plekke nodig.
Vertel daardie persoon wat jy dink. Die kanse is baie goed dat hy of sy jou gaan gerusstel, of jou ten minste ’n ander perspektief daarop gaan gee. Dis tog nie maklik om op eie stoom perspektief te kry en te behou nie.
Hopelik sal daardie ongemaklike, ongewenste gedagte krag verloor wanneer dit binne ’n veilige ruimte gedeel word.

Ten slotte

Moenie vir jouself jok of met jouself baklei oor allerlei gedagtes wat hulle aan jou opdring nie. Wees gewillig om te groei.
Vra jou af: Is dit regtig die beste plan om met jouself te stoei wanneer jy negatiewe gedagtes dink of beleef? Jy sal bloot die situasie vererger as jy dit doen.
Jy wil nie met jouself oorlog maak nie; jy wil groei in vryheid en innerlike vrede. Daarvoor moet jy eerlik met jouself wees. Wanneer jy verstaan waar die negatiewe gedagtes vandaan kom, kan jy dit vierkantig in die oë kyk en die gebeure daaragter konfronteer en verwerk.
Dit is nooit ’n goeie idee om vir jouself te jok nie. Ons groei wanneer ons in en met die waarheid leef.
En wanneer ons gewillig is om te groei, reageer ons hele menswees daarop deur ligter en met minder bagasie te leef.
Dit alles is die werk van God se Gees. Die Gees wat jou vul, versorg en vertroos.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF