DEUR JACOBIE M HELENA
“Ons het entrepreneurs geword! Dis ’n wow en dit voel net lekker.”
Só vertel Gerda Oberholzer opgewonde uit haar kombuis op die plaas, Doornkuil, oor die Boerse lekker-koekieprojek waarmee die boervroue in die droogtegeteisterde Britstown ’n inkomste verdien.
https://youtu.be/a0EOw4_lLJw
Dié groep van negentien vroue het hande met die geregistreerde nie-winsgewende organisasie, Caring Daisies, gevat om ’n platform vir vroue te skep om finansiële gate toe te stop in die tye van swaarkry. Die vroue bak die verskillende koekies by hul huise en kom dan met elke nuwe bestelling saam vir ’n verpak- én afpakdag. Die koekies word in emmertjies verpak waarna dit na plekke so ver as Pretoria of die Paarl deur Caring Daisies versprei word.
Lees nog getuienisse hier.
Die projek is vir die vrouens meer as ’n finansiële inspuiting, sê Marinda van der Merwe. Nie net help die inkomste vir die vroue om skoolgeld of Eskom-rekeninge te betaal nie, maar dit skep ook veilige ruimtes waar hulle met mekaar kan gesels en afpak. Wilma vertel: “Dié samesyn met die verpak van die koekies laat ’n mens vir ’n oomblik vergeet dat ons sterk moet wees te wille van ons mans. ’n Vrou krop maar baie op, maar hier kan ons vir mekaar sê hoe ons voel, lag vir lawwe goed en kwetter soos nés vroue kan!”
Gerda vertel dat die koekieprojek ook deel is van God se voorsiening in die moeilike jare van droogte. “As dit nie vir ons geloof was wat sterk in die liewe Vader was nie, het ons nie hierdeur gekom nie. Jy vra en vra vir reën en dan voel jy die Here luister nie. Jy weet jy het die reën só nodig, en ’n mens raak negatief as almal anders reën kry en nie jy nie. Maar dán voorsien die Here weer op ander maniere – soos met hierdie projek,” sê Gerda moedig.
Wilma sê hulle sal beslis met die projek voortgaan nou dat die onlangse reën bietjie verligting in die streek gebring het nie. “Ons kan nie sonder emmertjies koekies nie. Ons moet maar die heeltyd bak om voor te bly!”
Jy kan koekies by boerselekkerkoekies@gmail.com bestel.
Lees ook: As jy op jou rug-lê kan jy net opkyk
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.