Die lys moontlike buitemuurse aktiwiteite vir jou kind is lánk. Hoe kies julle hieruit? Wanneer moet hulle daarmee begin? En hoe gemaak as die aankondiging ná net twee weke kom dat dit eintlik nié so lekker is nie …?
Deur Susan Goosen
Buitemuurse aktiwiteite help om spesifieke vaardighede by jou kind te ontwikkel; dit verryk kinders op ’n intellektuele en ’n sosiale vlak en dit dra by tot karakterontwikkeling.”
Só sê Theresa van den Berg, ’n opvoedkundige sielkundige in Monumentpark, Pretoria. Buitemuurse aktiwiteite – of aktiwiteite wat buite skoolverband aangebied word – kan ook die sleutel tot gebalanseerde grootwordjare en ’n gesonde leefstyl wees. “Buitemuurse bedrywighede wat rekening hou met ’n kind se ontwikkelingsvlak en vermoëns, kan selfs akademiese prestasie verbeter. Die blootstelling wat kinders kry wanneer hulle verskillende aktiwiteite ondersoek, prikkel hulle nuuskierigheid – en wanneer hulle op ’n dag beroepskeuses moet maak, speel hierdie kennis en blootstelling dikwels ’n belangrike rol.”
Herman Muller, ’n onderwyser in Richardsbaai, is ’n gesoute sportafrigter wat al verskeie provinsiale sportspanne afgerig het. Hy beklemtoon die voordele wat juis spansport vir kinders inhou. “Kinders leer om in spanverband te kompeteer,” sê hy, “en hulle leer in dié proses dat die groep en die spanpoging belangriker is as die individu. Spanlede wat mekaar ondersteun en saam as ’n span groei, presteer dikwels beter. Die fokus moet op die groepdinamika wees, en nie op die eindtelling nie.”
Theresa voeg by: “Wanneer ouers op ’n positiewe en verantwoordelike wyse by hulle kinders se buitemuurse aktiwiteite betrokke is, kan dit die band tussen kinders en ouers versterk. Hierdie ouerbetrokkenheid kan verder lei tot ’n beter belewenis by die skool self – wat jou kinders se algemene geluk bevorder, en gesonde, gebalanseerde welsyn verseker.
“Kinders wil graag iewers behóórt,” sê Theresa, “en hulle deelname aan buitemuurse aktiwiteite bied juis dit. Daarby kry hulle die geleentheid om ander kinders met dieselfde belangstellings te ontmoet. Natuurlik is hierdie tipe blootstelling ook goed vir die ontwikkeling van selfdissipline, eiewaarde en leierskapvaardighede.”
Hoe kies julle?
Om aan die begin van ’n skooljaar tussen al die baie moontlikhede te moet kies, kan oorweldigend wees. Sulet Steyn, ’n laerskoolonderwyseres in Richardsbaai, moedig ouers aan om vooraf te besluit wat hulle met ’n bepaalde aktiwiteit wil bereik.
Sy sê: “Buitemuurse aktiwiteite moet die kind in sy geheel ontwikkel. Eintlik moet ouers hulle kinders aan soveel moontlik aktiwiteite blootstel – sonder om die kinders te oorlaai. Vir kleuterskoolkinders beteken dit gewoonlik een aktiwiteit per jaar. Dit kan jaarliks afgewissel word, om die kind sodoende meer blootstelling te gee. Ouer kinders kan – binne perke! – self kies waarby hulle betrokke wil raak.”
Herman sê dat ouers hulle kinders fyn moet dophou om vas te stel waarin hulle belangstel. Só sal hulle kan uitvind of die kind graag teken, en of hy klim-en-klouterspeletjies wil speel. “Probeer om die moontlike buitemuurse bedrywighede hierby aan te haak,” sê Herman, “sodat die kinders se belangstellings en talente daardeur ontwikkel kan word.”
Die volgende dinge moet ook in ag geneem word:
- Die koste verbonde aan die verskillende aktiwiteite en die toerusting wat daarvoor benodig word. Dit is tog nie altyd moontlik dat jou kinders alles waarin hulle belangstel kan doen nie; in so ’n geval moet die ouers en kinders saam besluit wat die beste sal wees. Stel ook vas of julle eers van die toerusting/instrumente kan huur of leen … totdat julle seker is dat die kind wel daarmee wil voortgaan.
- Die afstand wat julle moet ry. Dit is natuurlik nie onmoontlik om elke dag 45 minute lank te ry op pad na ’n bepaalde aktiwiteit nie; maak net seker dat dit wel by julle program – en begroting – pas. Is daar nog genoeg tyd vir huiswerk en ontspanning? En wat van die ander kinders in die huis, en húlle program?
- Ander aktiwiteite. Maak seker dat jou kind genoeg tyd het vir speel en ontspan.
- Ouderdom, persoonlikheid en belangstellings. Ekstroverte het gewoonlik meer behoefte aan verskillende aktiwiteite en sosialisering, terwyl introverte meer alleentyd nodig het. Buitemuurse aktwiteite kan kinders se talente ontwikkel, en terselfdertyd ook dié vaardighede ontwikkel waarmee hulle minder sterk is.
Soms word ouers deur onderwysers of terapeute aangeraai om hulle kinders by aktiwiteite betrokke te kry ten einde (byvoorbeeld) groot motoriek of balans te verbeter. In sulke gevalle toon kinders dikwels geen belangstelling in die betrokke aktiwiteite nie en moet die ouers hulle voortdurend aanmoedig om daaraan deel te neem. Oorweeg die moontlikheid dat hulle hierdie aktiwiteit saam met ’n maatjie kan aanpak, of gee aan die kind die opsie om ook iets anders – iets waarvan hy/sy regtig hou – te doen.