Die uitbreek van die gevreesde Koronavirus wêreldwyd maak duisende mense vreesbevange, depressief en magteloos. Daar is mense wat paranoïes, neuroties of paniekerig raak. Isolasie, inperking en fopnuus vererger boonop angs en depressie. Op die ou einde ontlok alles’n pandemie van vrees uit.
Wat kan jy en jou geliefdes doen om hierdie angs en depressie in sulke moeilike omstandighede en veral tydens inperking die hoof te bied? ’n Paar kenners gee nuttige raad.
DEUR MARTJIE ROOS
’n Tyd van onsekerheid
Ds Fanie Kriel, predikant by die Strooidakkerk in die Paarl en pastorale sielkundige, sê die onbekende maak mense angstig. “Die virus is ’n onsigbare monster en skielik weet jy nie meer of jy jou buurman of selfs jou eie geliefdes kan vertrou en of hulle dalk die virus het of nie.
“Mense wil in beheer wees en skielik voel hulle heeltemal buite beheer. Daarom raak baie mense paniekbevange en talle doen byvoorbeeld paniek-aankope.
“Dit is ’n natuurlike teenreaksie om goed bymekaar as ’n manier om ’n sekere mate van beheer en sekuriteit uit te oefen,” sê hy.
Isolasie en inperking vanweë die virus beïnvloed elke aspek van ons daaglikse bestaan. Fanie sê: “Kinders kan nie meer skool toe gaan nie, studente kan nie meer universiteit toe gaan nie en die meeste mense kan nie meer gaan werk nie. Ons kan nie meer met ons daaglikse roetine en werksaamhede op die normale manier voortgaan nie. Gewone dinge soos om in ‘n gimnasium te oefen, saam te kuier of ontspan is ons nou nie meer beskore nie. Dit beïnvloed ook ons geloofslewe omdat ons nie meer kerk toe kan gaan nie.”.
Onsekerheid maak mense ook meer angstig, voeg hy by. “Daar is nie grense wat dit inperk nie, want niemand weet presies hoe lank hierdie virus-gevaar nog gaan voortduur nie. Niemand weet wanneer ’n teenmiddel gevind gaan word nie.”
Mense is ook angsbevange oor die wêreld-ekonomie wat in duie kan stort, duisende mense wat hul werk kan verloor en ’n verlies aan inkomste kan hê. “Die bottom line is: niemand weet hoe lank dit gaan voortduur en hoe dit alles gaan uitspeel nie. Dit is soos om in ’n rivier vasgevang te wees met twee walle aan die kant: aan die eenkant is vrees en aan die anderkant is onkunde. Jy weet nie aan watter kant jy moet uitklim nie.”
Die uitbreek van die gevaarlike COVID-19 het ons almal weer eens laat besef hoe weerloos en nietig ons is, sê Fanie.
Maar Fanie herinner ons terselfdertyd dat God in beheer is en haal Mattheus 28:18 aan: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” En dan vers 20b: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Angs is ’n normale reaksie
Dr Johan Ferreira, ’n sielkundige van Johannesburg, beaam dat die realiteit van ’n pandemie veroorsaak dat baie mense ‘n groot angstigheid beleef. “Dit sal nie normaal wees om geen angs te ervaar nie. Diegene wat reeds met angs en depressie worstel, sal meer geneig wees tot emosionele reaksies in hierdie tyd.”
Johan sê paniek en vrees is dikwels aansteeklik omdat ons hierdie emosies deur middel van kommunikasie oordra. “Ons praat met ander daaroor en die woorde ontlok gevoelens. Indien hierdie woorde swaar met irrasionele gevoelens gelaai is, word die intensiteit van die belewenis dieper. Natuurlik kleur ons eie emosionele interpretasie van die woorde ook ons persoonlike belewenis daarvan in. En dit kan die boodskap meer intens maak.”
Volgens Johan is hierdie ’n baie uitdagende tyd in die geskiedenis van die wêreld. “Natuurlik gaan ons dit almal aan ons sak en in ons gemoed voel. Dit is nou ’n gedeelde realiteit van die mensdom. Maar ons moet in dieselfde asem die hoop skep dat hierdie beslis nie die realiteit sal bly nie – alle realistiese voorspelling dui daarop dat hierdie krisis tydelik van aard is.”
LEES MEER
Inperking: bly só positief, bedrywig en funksioneel
Koronavirus: ‘My lewe as ’n dokter se vrou’
Humor verlig spanning
Grappies en humoristiese video’s oor die Koronavirus word wyd op sosiale media versprei. Volgens Jacques Botes, ’n dosent in sielkunde en ‘n kliniese maatskaplike werker van Pretoria, probeer ons almal en die hele wêreld nou sin maak van wat aan die gang is. “Dit is in die mens se natuur om bedreigende ervaringe te verdraai omdat ons nie weet wat om met die inligting maak nie.
“As geestesgesondheidspraktisyn is ek ongemaklik met sommige van die grappies wat die rondte doen, maar ek begryp ook dat mense poog om hul eie en ander se spanning te probeer verlig. Die waarde van die lewe moet liefs nie deur humor gereduseer word nie. Dit is nou die tyd om op te bou en nie af te breek of te kwes nie,” sê Jacques.
Inligting en kommunikasie
Volgens Jacques dra tegnologie doeltreffend by tot die internasionale kommunikasie en pogings om beheer oor die verspreiding van die virus te bewerkstellig. “Ons staatspresident en regering kommunikeer op gereelde grondslag met die publiek. Maar onduidelike boodskappe sowel as vals of fopnuus kan in hierdie tyd die angs en algemene spanning verhoog,” sê hy.
Ons word tans op TV, radio, nuusnetwerke en sosiale media met die jongste inligting en syfers oor die Koronavirus gebombardeer. “Dis goed om ingelig te wees, maar om 24 uur van die dag aan hierdie nuus blootgestel te word, dra nie produktief by tot enige van ons stresvlakke nie. Ons kan wel beheer waarna ons kyk, en dit moet ons dan ook doen. Besluit wanneer jy wil luister, wat jy wil lees en hoeveel tyd jy daaraan moet spandeer om jou stresvlakke laag te hou,” meen Jacques.
Johan sê die nuus bring ’n dieper belewenis van ons werklikheid. “Met die tegnologie is ons ingelig oor mense in elke streek van die wêreld en hul lot bepaal ons gevoelens. Ons medelye met hul stryd ontlok emosies by ons en ons identifiseer met hulle sodra ons lot dieselfde word.
“Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie, want dit bind die mensdom saam en ons weet dat ons nie alleen is nie. Die oordrewe nuus en fopnuus is natuurlik die doring in die vlees. As almal hulle kan verbind tot die realistiese waarheid, sal persepsies van wat wêreldwyd gebeur realisties beleef word. Dit is ons almal se verantwoordelikheid.”