Die 11-jarige Zhara du Toit van die Strand laat nie toe dat ’n seldsame soort kanker haar onderkry nie. Sy kies om nie op die aggressiewe gewas, wat in die membraan om haar longe voorkom, te fokus nie. Sy wil eerder haar aandag op ander kankervegters toespits.
Dié wyse graad 5-leerling van Laerskool Lochnerhof gee graag raad aan ander kinders wat aan kanker ly. Sy sê: “Jy is Jesus se skapie, en Hy sal jou oppas. Jy is ’n fighter, jy kán dit doen. Ek weet jy is hartseer omdat jy sekere dinge nie kan of mag doen nie, maar kry vir jou iets anders wat jou opgewonde maak. Loods ’n projek, pak kunsklasse aan, of begin met enigiets anders waarna jy kan uitsien.”
Zhara volg ook haar eie raad. Sy is beslis ’n vegter. Tydens die onlangse verfilming van haar video-getuienis kon nie eens haar 25ste bestralingsessie haar stuit nie. Sy het pas nadat sy bestraling ontvang het haar storie hier kom vertel, met ’n glimlag.
Boonop het sy ook haar eie projek geloods: Toe sy in Januarie vanjaar ’n operasie aan haar longe moes ondergaan, het haar tannie vir haar ’n sagte skapie gegee. Dié skapie het gelei tot Zhara se “skapie-projek”. Dit het die hekel- en breipenne laat flits sodat sagte skapies vir ander jong kankerpasiënte kan hoop bring.
Klik hier om Zhara se boodskap aan ander kinders wat teen kanker veg, te hoor. Én om by haar skapie-projek betrokke te raak.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.