Dis sy werk en sy roeping om na die skepping om te sien. Om sy bes te probeer om te herstel en te hervestig, sodat sy kinders en hul kinders die vrugte daarvan sal kan pluk.
Michael Wright (44) van Somerset-Wes leef na aan God se skepping. Hy sê hy het die opdrag om
daarna om te sien, en daarom het hy dit sy loopbaan gemaak.
As konsultant in die dissiplines omgewingswetenskap en ekotoerisme het Michael toegang tot kliënte in die openbare en die privaat sektor. En wanneer hy hom in die natuur bevind, met sy kennis oor hoe om dit op die doeltreffendste manier moontlik te beskerm, bevind hy hom in die perfekte bedieningsveld om sy geloof in die Skepper met ander te deel.
En dié bedieningsveld strek wýd. Michael vertel hy werk met kliënte oor die ganse Afrika, en tot in die Midde-Ooste. Sy werk bestaan hoofsaaklik uit ekotoerismebeplanning, asook lewensvatbaarheidstudies. En toerismebeplanning in beskermde gebiede, of dit nou openbaar of privaat of oorgrens is.
LEES OOK: Hy kies Lig ná ’n geestelike ervaring in die hospitaal
Hy doen ook lewensvatbaarheidstudies vir lodge- en safari-ontwikkelings, en hy lei gespesialiseerde spanne op: argitekte, ingenieurs, bourekenaars en omgewingskenners wat by dié soort projekte betrokke is.
Van kleintyd af
Waar kom sy passie vir omgewingsake vandaan?
Van kleins af, sê Michael. Kleintyd reeds het hy natuurreservate en nasionale parke saam met sy ouers besoek. “My pa vertel graag dat ons van vroegdag tot laatmiddag deur ’n park sou ry, en dat ek deurentyd my kop by die venster sou uitsteek om te sien en te leer.”
Dit het nooit verander nie. Hy het sy verwondering oor God se skepping en die bewustheid van wat ons daaruit kan leer nooit ontgroei nie. Sy liefde vir die skoonheid daarvan moedig hom aan om sy geloof met ander te deel. “Die skepping dra soveel daartoe by om die mens se lewensgehalte en algemene welsyn te bevorder.
“In my werk as konsultant beteken dit prakties ek kan help verseker dat daar na die natuur omgesien word, en dan op ’n volhoubare manier. Ek beywer my daarvoor dat die bes moontlike praktyke gevolg word wanneer daar beplan word. Ek streef ook daarna om dieselfde waardes aan my kliënte oor te dra, indien hulle eienaarskap van ’n bepaalde bewaringsgebied of -projek aanvaar.”
Dit is ook makliker om, wanneer hulle op safari is, die bewaring van die skepping te bespreek. “Dan is ons in die natuur, en dis soveel makliker om dan die skepping te waardeer, om oor die skoonheid en die asemrowende omvang daarvan te praat.”
Hoe het sy geloofspad tot hier geloop?
“Ek glo geloof was altyd diep in my wese, deel van my lewe. Daar is natuurlik werklikhede soos roeping, ’n hunkering na God en ’n soeke na betekenis en waarde.
“Daarby het my liefde vir die natuur my gedring om meer te leer en om my passie te verken. En natuurlik was God die Skepper van dit alles.
“Maar ek glo ook dat die lewe se uitdagings, verskillende omstandighede, allerlei hindernisse en soms hewige druk ons geloof vorm. Sulke dinge toets jou tot in jou diepste wese.
“Ek het sulke waterskeidingsoomblikke beleef. So ’n vuurdoop lei immers tot oomblikke van ’n diep soeke na betekenis en identiteit. By sommige mense versterk dit hul geloof.
“En wanneer so ’n uitdaging een keer oor jou pad gekom het, beteken dit nie dat dit nie weer kan gebeur nie. Jy ervaar dit dalk net in ’n nuwe gedaante, of tydens ’n nuwe lewensfase of in ’n nuwe verhouding.”
Vir Michael is dit eindelik so eenvoudig soos dat jy glo in wie jy is en wie God is. As jy nie in jou identiteit in God glo nie, lei dit tot hooploosheid. Maar as jy glo, maak alles meer sin. Uiteindelik is dit ’n persoonlike ontdekkingsreis.
‘Ek wil ’n voorbeeld wees’
Hy vertel hy het al heelwat uitdagende dinge beleef, wat sy geloof getoets het. In sulke tye het hy hom dikwels in die natuur gaan afsonder, en soms as ’t ware in die wildernis.
“Dit het my werklik uitgedaag in my wil om te leef. En my ernstig laat selfondersoek doen oor waar ek inpas in ’n skepping met meer as 7 miljard ander lewende wesens en organismes.”
Wanneer hy voor die donker van depressie en geloofskrisisse te staan gekom het, het Michael hom tot die natuur gewend. “Dit is ’n uiters moeilike proses, maar ook ’n uiters waardevolle een. Ek het ná elke selfontdekkingsreis bewus geword van die heling, die groei en die krag wat uit daardie oomblikke voortspruit.”
’n Enkele voorbeeld van sulke heelword- tye was die drie dae lange staptog wat hy op ’n keer in die Drakensberg aangepak het. ’n Groot gedeelte daarvan was in stormweer en met geen natuurlike beskutting nie.
Op dié solo-staptog het Michael drie van die toptien pieke in die Drakensberg bereik, met meestal geen mens in sig nie.
Michael sê hy hoop dat wat hy doen en wie hy is ’n eie boodskap dra. “Ek wil ’n voorbeeld in die wêreld wees, soos Christus – goed, eties, moreel, passievol en doelgerig. Dis hopelik die soort waardes wat mense respekteer en waartoe hulle aangetrokke voel.”
Sy uitgesproke Christenskap beteken nie dat hy noodwendig die Woord verkondig wanneer hy met kliënte gesels nie. Maar sou hulle hom oor sy geloof uitvra, sal hy sy geloofsreis met hulle deel.
Die onderskeid tussen godsdienstigheid en geloof is vir Michael soos die onderskeid tussen swart en wit. “Geloof is ’n persoonlike reis,” sê hy weer. “En ek probeer nooit om dié boodskap op enigeen af te dwing nie.”
’n Geloofgegronde nalatenskap
Michael is reeds langer as 18 jaar lank getroud met Natalie. Soos Michael, het sy haar vormingsjare in Durban deurgebring. Die Wrights is die ouers van twee kinders, John (16) en Hannah (12).
Hoewel Natalie voltyds na die kinders omsien, werk sy nou saam met Michael in hul ondernemings.
John, ’n leerling aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch, is volgens sy pa ’n ywerige sportman. Hannah, wat by die Rynse Hoër Meisieskool op dieselfde dorp skoolgaan, hou van ballet, en sy speel ook netbal en hokkie.
Wat wil Michael eendag nalaat?
“My droom is om met ander saam te werk en meer as ’n miljoen hektaar grond en water tot bewaringsgebied te herstel. Om weer die wildlewe in dié gebiede te vestig.”
Hy wil ook minstens tien volhoubare, kommersiële safari-lodges en ekotoerismeondernemings in dié gebiede vestig.
Michael is daarvan oortuig dat die mens God se opdrag om na sy skepping om te sien kan nakom, “deur te gebruik wat ons nodig het en nie wat ons wil hê nie.
“Ons moet besef die aarde en sy hulpbronne is nie net geskep vir ons om te gebruik nie.” Die mens moet bewus wees van sy rol om die skepping te onderhou en nie bloot daarop te teer nie.
“Daar is miljoene ander organismes, diere en spesies wat op die aarde staatmaak vir hul voortbestaan. En om hulle in ons wêreld te hê is tot ons voordeel.
“Mense is paranoïes oor spinnekoppe en slange en muskiete, maar besef nie hoe waardevol hulle is nie. Wanneer hulle uit die ekostelsel verwyder word, het dit erge negatiewe gevolge. En hoe meer daarvan verwyder word, hoe groter die negatiewe impak.
“Die gevolg is dat ál meer kunsmatige stimulante dan gebruik moet word om die verlies teen te werk.”
Vir dié pa is dit ook belangrik dat sy kinders die bes moontlike lewe sal hê. “Daarom probeer ek om die skepping te beskerm en te herstel, sodat hulle ook dié nalatenskap aan ’n volgende geslag kan oordra.”
Michael sê hy leef elke dag met die geloof dat God die skepping om ’n bepaalde rede vir ons gegee het: om daarna om te sien.
“Ja, ons is oor die skepping aangestel, maar nie bloot om in beheer te wees nie; om verantwoordelik om te gaan met dit wat aan ons toevertrou is.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.