Ek onthou die dae toe hy soos ‘n bosluis aan my geklou het. Dis hoe almal hom geken het: die outjie wat in ons bed slaap. Op my skoot sit as ek badkamer toe gaan. Aan my enkels hang as ek (probeer) kosmaak. Die Bosluis.
Ek onthou die nagte toe ek hom moes vashou en wieg sodat hy kon slaap. Ek onthou hoe my rug gebrand het van die pyn, maar as ek ophou wieg of gaan sit, gaan sy ogies oop! Ek onthou die aand toe ek so gehuil het oor my af-rug dat my trane op sy gesiggie gedrup het.
Dan onthou ek ook die spesiale oomblikke toe ek hom kon borsvoed. Iets wat ek nie met Sussie kon regkry nie. Hy het in my arms gelê, die mooiste tevrede-geluidjies gemaak. My diep in die oë gekyk, en dan ‘n klipharde wind gelos – en histeries daaroor gelag!
Toe, amper oornag, is hy nie meer my bosluis nie. Die nagte se omwens dat hy my asseblief tog net ‘n bietjie uitlos, is nou nagte van wakkerlê en wonder hoekom hy nie meer aan my vasklou nie.
En toe kom Johnny … Saam het hulle as maats hulle nuwe wêreld grootoog en onseker verken. Soms met ‘n lag, ander kere met ‘n gestry en dan ook soms met trane wat hulle braaf probeer wegsteek het.
Maar een oggend laai ek hulle by die skool af en nog voordat ek uit die kar kon klim, hardloop hulle met superheldtasse by die skoolhek in. Ek het geroep en gevra of ek moet saamstap, maar hulle het geantwoord sonder om terug te kyk: “Ons sal self, love you, baaaai!”
Ek weet ek moet Die Bosluis toelaat om groot te word en sy voete te vind. “Dit sal julle albei goed doen,” sê my man. Maar hy was dan my lekkerste bosluis ooit! Hy mag maar vir altyd ‘bosluis’ wees, al vermoed ek sy aanstaande vrou gaan nie baie van daardie idee hou nie …
En nou verstaan ek hoekom my skoonma my man vyf keer ‘n dag gebel het. Hy is wel nou my man, maar hy was – lank voor vandag – my skoonma se bosluis. My skoonma is nie meer hier dat ek dit vir haar kan sê nie. Maar ek verstaan nou, Ma. Mammas met seuntjies het spesiale harte, want ons weet alte goed daar gaan eendag ‘n ander vrou sy voete onder hom uitslaan. Maar tot dan – en dalk maar vir altyd – is hulle maar net ons Bosluise.