Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Die Here het my van ontsettende pyn genees’

Elzaan Thiart (30) en haar man Handrie (31), met wie sy reeds ses jaar lank getroud is, woon in Worcester. Hulle het twee pragtige kinders, Zandri (4) en MJ (4 maande).

Elzaan het lank in Worcester MediClinic as skropsuster in die teater gewerk. Sowat ses jaar gelede het sy allerlei prikkels oor haar regterwang begin voel.

“Dit was aanvanklik nie seer nie,” vertel sy, “ek was net bewus daarvan. En dit  het ’n paar jaar lank so gebly.

Geborg

“Maar iewers in 2020 het die prikkels erger begin word en ek het skielik pyn aan die regterkant van my gesig ervaar. Dit het soos elektriese skokbewegings gevoel, sodra ek begin eet, drink, slaap, praat, tande borsel, my neus beweeg of my oog knip. Dit was bitter seer en gou het dit my lewensgehalte beïnvloed.”

LEES OOK: ‘Ek weet eendag in die hemel sal ek weer kan sien, en Lukas sal kan praat,’ sê RSG-omroeper 

Elzaan en Handrie se twee pragtige kinders, Zandri (4) en MJ (4 maande). Foto verskaf

Trigeminale neuralgie

Ná vele doktersbesoeke en sterk pynstillende medikasie het Elzaan se toestand sodanig vererger dat sy nie meer met haar dogtertjie of man kon praat of lag nie. Haar huisdokter het trigeminale neuralgie vermoed, wat hoofsaaklik by vroue ouer as 50 voorkom.

Die erge pyn ontstaan wanneer ’n bepaalde senuwee en aartjie wat uit die brein kom aan mekaar raak. Wanneer bloed deur die aartjie vloei of pomp, “skok” dit teen die senuwee vas.

Elzaan moes epilepsie-medikasie gebruik, en dit het die pyn effens verlig. Maar die newe-effekte was erg. Sy het baie gejeuk, sy het haarself in die gesig gekrap, sy was dronk in haar kop, baie slaperig, en het dikwels nie geweet wat om haar aangaan nie. ’n Verhoogde dosis medikasie het ook nie gehelp nie.

Geborg

Elzaan se mediese probleme het ook haar werk beïnvloed en sy was dikwels afwesig. Sy kon nie behoorlik praat nie en het met babatreetjies beweeg. “Wanneer ek in- en uit asem, wanneer my skropsuster-masker beweeg – elke keer het dit soos pynlike elektriese skokke in my wang gevoel. Dan het ek oor ’n bed geleun, gehuil. En gebid dat die pyn moet weggaan.”

‘My droom’   

Alles was egter nie nét sleg nie, vertel sy. “My verhouding met die Here het in dié tyd regtig dramaties gegroei. In 2016 het ek my hart vir die Here gegee en ek het my aan Hom verbind.”

In 2017 het Elzaan en Handrie se reis met die CRC-gemeente begin. “Ek en my man wou voluit vir die Here lewe. My hartsbegeerte was om voltyds in die bediening te staan. Dit was my droom en ek het geroepe gevoel, maar ek moes geduldig wag op die regte tyd.”

‘Ons het die Here bly vertrou’

Oplaas, in 2020, is Elzaan na ’n neurochirurg verwys en dié het ’n prosedure genaamd rhizotomy op haar gesig uitgevoer om die trigeminale neuralgie te behandel. ’n Naald is in die senuwee gedruk om dit te brand en dood te skok. Dit was suksesvol en Elzaan kon voortgaan met haar lewe.

“Ons het gebid en die Here vertrou vir kinders in ons lewe. In 2018, toe ek 23 jaar oud was, het ek twee miskrame gehad. Dit was elke keer ’n groot teleurstelling. Maar ek het geweet God het groter planne vir ons. Op 11 April 2019 is ons dogtertjie gebore, Zandri, ’n bondeltjie vreugde.”

Maar tydens elke swangerskap het die pyn in Elzaan se gesig teruggekeer omdat die bloedvloei groter en meer was en die aartjies en daardie senuwee teen mekaar gedruk het.  

In 2022 was Elzaan swanger met ’n Downsindroom-babatjie, wat sy op hul huweliksherdenking, 29 April 2022, verloor het. “Dit het my geruk, maar ek het die Here volkome vertrou.”

Geborg

Sy het weer swanger geraak, maar die baba se hartjie het op 3 Oktober 2022 net ophou klop.

“Hoewel dit traumaties was, het ons nie ophou glo nie. Ons het die Here bly vertrou. En verlede jaar, op 18 Oktober, het ons ’n gesonde seuntjie gehad, MJ (Matthew Jonathan).

“Ons loop oor van dankbaarheid oor die Here se seën. Ons waardeer nou ons gesonde kinders soveel meer.”

“God is groot. Hy is so lief vir ons! En daarom wil ek getuig oor wat Hy vir my gedoen het,” vertel Elzaan. Foto verskaf

‘’n Kluisenaar in my eie huis’

In 2021 het Elzaan voltyds tot die bediening toegetree.

Ongelukkig het die rhizotomy-prosedure, wat in 2021 weer uitgevoer is, dié keer nie geslaag nie. Die pyn was terug en Elzaan moes sterk medikasie gebruik.

“Ek was bleek en maer en het geweier om mense te sien. Ek wou nie praat nie, want dan gaan daar ’n skok deur my wang en ek huil. My man en die gemeente het my wonderlik bygestaan, vir my gebid en aanbiddingsmusiek gespeel. Nogtans het ek hulle weggestoot en in ’n donker kamer gelê. Ek het aan depressie begin ly. Ek kon nie my dogtertjie vashou of met haar gesels nie.

“Ek was ’n kluisenaar in my eie huis. Ek het met die Here baklei omdat Hy my nie van my pyn verlos nie. Ek het Hom gevra wat ek in my lewe moes regstel, wat ek moes aflê.

Geborg

“Ek het ’n visie van die Here gekry om die laaste moontlike prosedure te volg om te herstel – ’n breinprosedure.”

‘Die pyn was heeltemal weg’

Op 5 Desember 2022 is Elzaan na die Panorama MediClinic in Kaapstad vir hierdie breinoperasie. Die neurochirurg het ’n groot snit gemaak, van die bopunt agter haar oor tot sowat vier cm onder haar oor. En ’n stukkie van haar skedel uitgehaal.

“Hy het ’n sponsie by my brein geplaas, waar die seunuwee en ’n aartjie saam uitkom, sodat dit nie aan mekaar raak nie.”

Maar ’n paar maande ná die breinprosedure het Elzaan weer erge pyn verduur.

“Ek was moeg en moedeloos. My kerkgroep het gevra dat ek hulle een Donderdagaand, dit was 11 Desember 2023, by die kerk ontmoet. Daar het hulle vir my gebid en ’n klomp genesingsverse uit die Bybel aan my gegee.

“Hulle sê toe dat hulle nie sal gaan voordat die Here my gesond maak nie. Ek het ’n oorweldigende gevoel van vrede ervaar, dit was asof die Heilige Gees sy liefde en vrede oor my uitgestort het. Hulle het hul hande op my kom lê. Ek was dadelik ‘uit in die Gees’.

“Die Here het my gewys hoe ek om ’n atletiekbaan hardloop, hoe ek iets vir Hom moet gee – my stres en my vrees. Ek het dit besef en dit vir Hom gegee.

“Die kamer was stil, vol van die Heilige Gees. Toe bars daar lof- en prysgesange om my los en almal het die Here gedank. Want dit was die presiese oomblik waarop die Here my genees het.

Die Thiart-gesin neem ’n “onsie”. Foto verskaf

“Die pyn was heeltemal weg.”

“God is groot. Hy is so lief vir ons! En daarom wil ek getuig oor wat Hy vir my gedoen het.

“Hy het ook my depressie weggeneem. Ek het standvastig geraak in die Here. En ek is terug in my normale roetine. Ek is so dankbaar dat ek sonder pyn kan leef, tande borsel, eet, dans, glimlag, sing en lag.    

“Ek is baie opgewonde, en ek sien uit na elke nuwe uitdaging. Ek leef nou voluit en met groot dankbaarheid.”

Verwante Artikels

© Lig 2023 | All rights reserved.

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.