Ek was my lewe lank ’n baie gesonde mens, met slegs die normale kindersiektes agter die rug. Toe kom 2019, en my lewe verander binne ’n week soos handomkeer: Ek is met metastatiese longkanker (stadium 4) gediagnoseer.
Die onkoloog het verduidelik dat die kankergewas besig was om op my aorta te groei en dat hulle my nie kon opereer nie. En my ook nie kon genees nie. Die mediese wetenskap kon slegs probeer sorg dat ek, in die tyd wat ek oor het, gemaklik is. Dit was letterlik ’n doodsvonnis – en ek was maar 48 jaar oud.
Dié nuus het my verpletter. Ek hou van die lewe, ek wil hiér wees. Ek wou nie doodgaan nie. Ek was suksesvol in my werk en ek was gelukkig saam met my man. En hoewel ons nooit kon kinders hê nie, was die lewe goed.
Ek het wel nie na aan die Here geleef nie. Iets wat vroeër in my lewe gebeur het, het tussen my en Hom gestaan. Ek het gereken dat Hy dit moes verhoed, en Hy het nie. Ek het Hom kwalik geneem. Ek het opgehou om met Hom te praat en opgehou om my Bybel te lees, sewe jaar lank.
Die kankerdiagnose het my egter teen die grond gehad. Ek het een oggend gaan stort en onbedaarlik aan die huil gegaan. En toe word ek bewus van die Here se teenwoordigheid, net daar by my in die stort. Dis iets wat jy nie aan iemand anders kan beskryf nie. Jy moet dit self beleef om te weet hoe dit voel om Hom by jou te hê, om dit werklik te ervaar.
LEES OOK: ‘Ek was gereed om te gaan as dit sy wil was,’ vertel vrou ná haar hart 15 keer gaan staan
‘Al het ek Hom gelos, het Hy my nooit gelos nie’
Hy het my vertroos. En ek het geweet ek gaan terug na Hom toe. Ek het Hom so nodig gehad. Ek het met Hom gepraat en gesê dat ek jammer is oor die afgelope sewe jaar. Al het ek Hom gelos, het Hy my nooit gelos nie.
Ek het ook aanvaar dat my toekoms in sy hande is. As Hy my wou huis toe neem, sou ek gaan. Al wou ek eerder hier bly, al wou ek eerder gesond wees. Maar sy wil, en nie myne nie, moes geskied.
Dis nou vier jaar later, en ek is gesonder as wat ek voor my kankerstryd was. Daar is geen teken van kanker in my lyf nie. Die onkoloog verwys na my as haar “wonderwerk-pasiënt”, en sy vertel dit vir almal wat wil luister.
Soms genees die Here jou op ’n onverklaarbare manier. Hy maak deure oop wat geen mens kan toemaak nie. Ek moes ’n pad saam met Hom stap en ek moes leer kyk na wat Hy my wou wys.
Ek het ’n baie aggressiewe soort kanker gehad, wat vinnig versprei het. Ten spyte van baie sterk chemoterapie het die kanker deur die limf na my nekwerwels versprei. Die pyn was bitter erg en ek kon glad nie my nek draai nie. Een werwel was reeds weggevreet en ek moes dringend bestraling kry. Ek was baie siek, ek kon niks eet nie, ek kon nie eens water drink nie.
Ná ’n paar behandelingsessies is daar weer ’n skandering uitgevoer. Ek moes hoor dat die kanker ook na my ander long versprei het. Ek was vreesbevange. Ek het besef die behandeling het nie gewerk nie. Dat alles, inteendeel, vererger het.
Die enigste hoop
Die medici se gevolgtrekking was dat dit geen doel sou dien om die chemoterapie voort te sit nie. Die enigste alternatief was immunoterapie, maar ek moes eers getoets word om vas te stel of my liggaam daarvoor geskik sou wees.
Genadiglik is ek geskik bevind vir een van die drie soorte immunoterapie. Dit het wel nie ’n waarborg op herstel gebied nie, maar dit was my enigste hoop om effens langer te kon lewe.
Toe kom die volgende skok: die koste. Dit sou ons R90 000 vir een sessie uit die sak jaag. En ek sou, twee jaar lank, elke drie weke behandeling moes ondergaan. My mediese fonds het die behandeling afgekeur omdat dit so nuut en so duur was. Ek het ook nie spaargeld gehad om die onkoste te dek nie.
Ná my herontmoeting met God daardie oggend in die stort was my verhouding met Hom baie sterk. Ek het voortdurend met Hom gepraat, en Hy met my. Dit het deur mense geskied, deur Bybelverse, tydens dienste. Ek was oop vir die kommunikasie met Hom, en ek het geweet wanneer dit Hy is wat met my praat.
Waar kry ’n gewone mens meer as R2 miljoen? Niemand kan daardie vraag beantwoord nie – maar die Here het. Hy het deure oopgemaak wat niemand kon toemaak nie, en ek het uiteindelik 21 behandelingsessies ondergaan.
Die eerste vier is deur familie en vriende se donasies gefinansier. Sommige van die tumors het ná die eerste drie behandelings begin krimp. Ek het die resultate aan die mediese fonds gestuur, maar hulle het steeds geweier.
My lewe was op die spel, en ek het my storie op die mediese fonds se Facebookblad geplaas. Daardie plasing het vinnig en wyd in die kuberruim versprei. Ek glo vas dit was die Here se werk. Daar was ’n hewige reaksie en die mediese fonds is skerp gekritiseer. Laasgenoemde het toe waarskynlik nie ’n ander keuse gehad nie as om weer na my saak te kyk. Twee behandelings is goedgekeur.
Die volgende skandering het getoon dat van die tumors verdwyn het. Ek het met ’n adviseur by die mediese fonds gesels, en dit het daartoe gelei dat die fonds se raad weer vergader het.
Die uiteinde was ’n besluit om, ex gratia, vir meer as 17 behandelings te betaal. Dit gebeur nie sómmer nie. Ek het geweet dit was nog ’n deur wat die Here vir my oopgemaak het.
Toe kom 2020, en dit blyk dat ek volkome genees is. Ja, dit was die gevolg van die immunoterapie, maar dit was God wat dit bewerkstellig het. Ek het in dié tyd twee mense leer ken wat ook die behandeling ondergaan het. Hulle is albei verlede jaar oorlede.
’n Wandelende wonderwerk
Elke ses maande meld ek aan vir skanderings, en elke keer is ek “skoon”. Ek is niks anders nie as ’n wandelende wonderwerk. Daar is geen groter eer in die wêreld as dit nie.
Om getuienis te lewer is vir my belangrik, en ek vertel my storie gereeld. Ek het ’n baie intieme verhouding met die Here. Ek praat met Hom vandat ek soggens opstaan totdat ek saans gaan slaap. Ek help en bemoedig ander wat ’n moeilike tyd deurmaak.
My boodskap aan almal is: Dit maak nie saak hoe haglik jou omstandighede of situasie is nie, God kan jou daaruit verlos. Glo dit net.
Twee Bybelverse het tydens die kankerstryd gereeld by my opgekom. Wanneer ek op my slegste gevoel het, sou ek my Facebookblad of ’n motiverende e-posboodskap oopmaak – en dan spring daardie woorde behoorlik uit. En ek het geweet dit is Hy wat met my praat.
* “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” (Jer 29:11).
* “Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: ‘Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word’” (Joh 11:4).
- Tanya de Bruyn (52) en haar man Jacques (48) woon in Centurion. Tanya was jare lank ’n senior verkoopbestuurder met ’n groot span tot haar beskikking. Die kankerbehandeling het haar ’n jaar lank uit die arbeidsmark gehou, maar sy is vandag terug by dieselfde maatskappy. Sy werk nou as ’n senior afslaer wat, met al haar nuutgevonde energie, aanlyn veilings vir motors, vragmotors en landboumasjinerie hanteer.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.