Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Dié twee lewenslesse tydens my diep hartseer het vrede gebring,’ vertel Fienie

Haar doopnaam is Josephine, maar almal ken haar as “Fienie”, die vriendelike gryskoptannie wat koekies en beskuit en pasteie bak. Sy lees ook graag, veral getuienisse. En dis juis op LiG se Facebookblad waar sy onlangs ’n ander ma se storie gelees het. Iemand wat, soos sy, ’n baba verloor het aan spina bifida, oftewel ’n kind wat met ’n “oop rug” gebore is.

“Ek kon vir haar sê: Ek verstaan die pyn waardeur jy gaan; ek is twee keer daardeur.”

‘Hy is my Rots’

Só vertel Fienie Hendricks (65), wat as jong ma haar eersteling, ’n babadogtertjie, drie weke ná dié se geboorte verloor het. Toe, sowat 24 jaar later, het sy haar oudste seun aangetref waar hy hom in hul huis se buitekamer opgehang het. 

Sy het geen twyfel daaraan nie dat die Here haar deur daardie bitter moeilike tye gedra het. “Hy is my Rots,” sê dié moedige weduwee. Haar man Sampie is verlede jaar ná ’n hartaanval oorlede. 

LEES OOK: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf

Soms, terwyl ons gesels, skiet haar blou oë vol trane. Ons sit by ’n groot houttafel in die knus tweeslaapkamerwoonstel wat sy met haar jongste deel – Harold, ’n aspirant-akteur.

Bo-op ’n rak is ’n groot kleurportret van haar en Sampie op hul troudag net meer as 40 jaar gelede. Later gaan haal Fienie ook twee groot houtraamportrette vol kleurfoto’s.

‘Hy het altyd geglimlag’

Bo-aan die een raam is ’n metaalplaatjie met “Joseph Smiley Moses” daarop. Dit het sy vir hul oudste seun gemaak, hy wat altyd so vriendelik was en wie se vriende hom “Smiley” genoem het. Sy is nie meer seker waar die bynaam “Moses” vandaan kom nie. Dis reeds 13 jaar ná sy dood.

Die ander fotoraam is nog ouer. Tussen die foto’s van Fienie en ander familielede wat ’n baba vashou, toegedraai in wit, is ’n swart papier met ’n kartelrandjie waarop daar in netjies blokletters “Elizabeth Hendricks” geskryf staan. Daar is twee datums onder mekaar aangebring – 19.7.1984 en 9.8.1984.

Fienie vertel sy en haar Sampie was stukkend toe hul eerste kind, ’n dogtertjie, op 38 weke met ’n noodkeisersnee gebore is, so met die oop ruggie. “Ek het daar gelê en ek wou haar nie sien nie. Ek was bang,” onthou sy daardie verskriklike nag in die hospitaal in Pretoria. Al wat hulle vooraf geweet het, is dat hulle ’n “brugbaba” verwag. “Dit beteken die baba sal met die boudjies eerste in die wêreld kom.”

Die neurochirurg het hulle ná die geboorte gewaarsku dat selfs al ondergaan hul babatjie ’n operasie om die rug toe te maak, daar ’n kans was dat sy ander gesondheidsprobleme kon opdoen, dalk ’n waterhofie. Die kleinding is drie weke later in die hospitaal oorlede. “Ons het maar net gesê dat as dit die Here se wil was, Hy ons ook hierdeur sal dra.” 

’n Paar maande later was sy weer swanger, en dié keer het alles normaal verloop. Hul seun Joseph is ook met behulp van ’n keisersnee gebore en alles het goed afgeloop.

Sewe jaar later was hulle ’n tweede seun ryker – Harold.

Namate die seuns groter geword het, het Fienie haar toenemend bekommer oor die vriende wat haar oudste gemaak het. Van hulle het gerook, en ná matriek het hy sommige aande tot laat uitgebly om saam met die vriende te kuier en te drink. Dan het hy haar gebel en gevra om hom te kom haal. Hy is selfs ’n keer deur die polisie opgesluit omdat hy dagga by hom gehad het.

Sy het baie vir hom gebid, vertel sy. Hulle het toe in Vishoek in die Kaap gebly. Een aand, in 2010, het hy weer tot laat uitgebly. Maar dié keer het hy op eie stoom by die huis gekom en in die buitekamer gaan slaap. Toe Fienie die volgende middag daar gaan klop en nie ’n antwoord kry nie, het sy ingegaan.

Hy was reeds koud. “Ek het net gesê: ‘Here, wat nou?’” Sy was alleen by die huis; Sampie was by die werk en Harold by sy skool. Toe bel sy haar man. Hul dominee het aangebied dat hy en die jeugouderling Harold sal gaan haal.

Sy weet tot vandag toe nie waarom Joseph dit gedoen het nie. Daar was nie ’n briefie of enige ander verduideliking nie.

Sy kyk lank na die foto. “Hy het altyd geglimlag,” sê sy.

Twee lewenslesse 

Joseph se dood was bitter moeilik vir die gesin. Sampie en Harold het nie daaroor gepraat nie. Maar dié vrae het deur Fienie se kop bly maal: “Wat het ek verkeerd gedoen? Was ek dalk te hard op hom?” 

Later het hul dokter voorgestel dat sy ’n geestelike berader gaan spreek. Fienie onthou hoe sy elke keer gehuil het wanneer sy by die berader was. Maar die sessies, wat drie maande lank geduur het, het haar gehelp.

Sy vertel dat sy twee lewenslesse uit daardie swaar tyd geleer het: Een was om te besef dat die “waarom ek?”-vrae haar nêrens gaan bring nie. “Dat ek my seun moet laat gaan.”

Die tweede les was ewe belangrik: “Ek het besef die Here stap hierdie pad saam met my.”

Dít is wat haar krag gee, ook nou dat haar lewensmaat van byna 40 jaar so skielik oorlede is. Sy vertel hoe kalm sy die aand van sy afsterwe was, terwyl haar suster en al die ander mense om haar gestaan en huil het. Sy het ’n Godsvrede beleef wat op haar neergedaal het.

Juis daarom wil sy graag dié storie vertel, die verhaal van haar geloofsreis deur al die swaarkry heen. Sy is daarvan oortuig sy kan op dié manier ander mense bemoedig wat ook sulke hartseer dinge moet deurmaak. “Ek wil vir hulle sê om te bly bid, om te bly glo in God.

“’n Mens vra nie dat sulke dinge met jou gebeur nie. Maar as dit gebeur, moenie van God weggaan nie. Ons is bloot vir mekaar geleen.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF