Die meeste kinders word aan musiek blootgestel lank voordat hulle kan kruip, praat, lees of wiskunde doen. Maar besef ons regtig die waarde van musiek vir ’n kind se ontwikkeling?
Ouers gloei gewoonlik van trots wanneer hul kind ’n musiek-instrument kan bespeel, maar min besef hoe goed dit werklik vir die kind is.
Daar word lankal beweer dat musiek luister ’n verbetering in die bemeestering van sekere kognitiewe take tot gevolg het. En navorsers bestudeer reeds jare lank die interessante en dikwels opspraakwekkende verband tussen akademiese sukses en die deelname aan musiek-aktiwiteite.
Onlangse studies deur die Brein- en Kreatiwiteit-instituut by die Universiteit van Kalifornië in die VSA het dit bevestig, en boonop uitgewys dat vroeë blootstelling aan musiek breinontwikkeling versnel, veral wat lees betref, en taalvermoë in die algemeen.
Dan is daar die navorsing aan die Northwestern University in die VSA wat onteenseglik uitgewys het dat die voordele van ’n musiek- of sangklas in meer as die blote luister na die musiek geleë is. Dat heelwat meer daaruit geput word wanneer die kind aktief daaraan deelneem.
Verdere studies oor die waarde van musiek, kyk veral na hoe die aanleerproses tot die verbetering van ander funksies in die brein kan lei, oftewel die sogenaamde “oordra-gevolge” daarvan.
Daar is immers reeds bewys dat musiek-opleiding ook algemene intelligensie verhoog en motoriese vaardighede verbeter.
Die waarde van musiek: Staan op! Beweeg!
Mignon van Vreden, medeprofessor in musiekonderrig aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê musiek en spontane beweging is deel van klein kinders se leefwêreld.
Musiek en beweging is ’n natuurlike kombinasie vir die jong kind, sê sy. En dit vind spontaan plaas. “Kinders het boonop nie opleiding nodig om hul eie musiek te skep en te geniet nie; ook dit is ’n spontane proses. Dis gelukkige kinders wat kan ontdek en kreatief wees in ’n omgewing waar hulle aan musiek blootgestel word, en waar hulle nou kan luister, sing, speel, dans en beweeg.
“Dis tog kinders se werk om te speel! Boonop is musiekspeletjies nie bloot pret nie, dis ook ’n informele manier waarop leer plaasvind. Die ritmiese vertolking van musiek is onder meer ’n belangrike voor-vaardigheid vir formele lees.”
Prof Usha Goswami, ’n hoogleraar in kognitiewe ontwikkeling-neurowetenskap by die Universiteit van Cambridge in Engeland, is daarvan oortuig dat ritmiese aktiwiteite by voorskoolse kinders hul taalontwikkeling aanhelp. Dit sluit rympies in, liedjies, taalspeletjies, klap, voetestamp, aksierympies en grootmotoriese bewegings. Die waarde van musiek dek dus ‘n hele spektrum van ontwikkelingsvaardighede.
Die waarde van musiek lê op vele vlakke
- Kognitiewe ontwikkeling en probleem-oplossingvaardighede, retensie van inligting, leerstrategieë, taalvaardigheid en wiskundige vaardigheid.
- Ontwikkeling van kreatiwiteit, wanneer kinders van jongs af die geleentheid kry om hul eie liedjies te skep en/ of om liedjies te maak oor hul alledaag-se doen en late en bekende wysies daarvoor gebruik.
- Bewuswording van en waardering vir ander kulture, wanneer kinders van jongs af na musiek uit verskillende wêrelddele luister.
- Empatie rakende omgewingsbewa-ring, byvoorbeeld deur middel van liedjies oor rommel strooi en oor ons kosbare planeet.
- Sosio-emosionele vaardighede, omdat musiek ’n kommunikasiemiddel is wat kinders op ’n vroeë ouderdom reeds in staat stel om hul gevoelens uit te druk.
- Grootmotoriese vaardighede, wanneer jong kinders op maat van musiek beweeg. Fynmotoriese vaardighede word ontwikkel wanneer kinders op, byvoorbeeld, perkussie-instrumente speel. Laasgenoemde lê weer die grondslag om later te begin klavier speel en stryk- en blaasinstrumente te bemeester.
- Sensoriese vaardighede, omdat musiek groot vreugde aan jong kinders verskaf. Dis ’n unieke manier waarop hulle idees en gevoelens kan waar-neem en uitdruk.
Prettige musiek-aktiwiteite saam met jou kleinding
- Sing gunstelingliedjies saam met jou kleuter. Dis belangriker dat jy dit geniet as dat jy nootvas is.
- Hoeveel instrumente kan julle uitken wanneer julle musiek luister in die motor?
- Sing ritmiese telrympies wanneer julle op die trampolien of op een been spring.
- Dans op die sitkamermat wanneer ’n bekende liedjie oor die radio of televisie gespeel word.
- Klap op maat van die winkelmusiek wanneer julle in die supermark se ry staan en wag.
- Speel rustige instrumentale musiek om jou kleuter na droomland te begelei.
- Speel ’n verskeidenheid volksmu-siek wanneer jou kleuter met blokkies bou, klei speel, verf, of met ’n ander handwerk-aktiwiteit besig is.
- Leer jou kleuter gereeld nuwe liedjies. Dit brei hul woordeskat uit en bevorder sodoende kommunikasie.
- Neem jou kleuter na musiekkonserte wat gepas is vir kinders.
- Doen “stemgimnastiek” in die bad: Kyk hoe hoog, laag, hard en sag jul stemme kan weergalm.
Nóg idees
- Maak musiekinstrumente van plastiekbottels deur klippies daarin te gooi. Luister dan hoe die klank verander wanneer julle klippies byvoeg of wegneem.
- Gebruik dié tuisgemaakte instrumente om verskillende ritmes uit te tokkel terwyl julle saam sing.
- Hou konsert. Speel musiek en skep jul eie danse.
- Speel “musiekstandbeeld”. Laat almal beweeg terwyl die musiek speel. Stop skielik die musiek. Wanneer dit gebeur, moet almal dadelik tot stilstand kom en net so bly staan.
- “Watter liedjie is dit?” Speel die eerste note van ’n bekende liedjie. Die ander moet raai watter liedjie dit is.
- Ritmiese na-aper. Elkeen kry ‘n kans om ’n bepaalde ritme te klap. Die ander moet die ritme dan presies herhaal. Gebruik sowel eenvoudige as meer ingewikkelde ritmes.
Die waarde van musiek vir ‘n kind met gestremdheid
Niël Jordaan is ’n tienjarige Downsindroomlyer van Potchefstroom. Wanneer hy musiek hoor, léwe sy gesig. En sy lyf begin wikkel op maat daarvan.
Niël se ma, Linda Badenhorst, vertel dat musiek reeds van sy kleuterdae af ’n deurslaggewende rol in sy lewe speel. Hy het sekere lewensvaardighede daardeur aangeleer – onder meer kommunikasie, die bou van verhoudings, en hoe om te luister. Musiek het hom van kleins af die gevoel gegee dat hy “behoort”.
Niël is reeds as kleuter aan musiek blootgestel; wel nie gestruktureerde musieklesse nie, maar as deel van die terapie wat hom sou help ontwikkel.
Linda vertel dat hy gou ritme aangeleer het, en dat hy op ’n manier besef het hy kon deur middel van musiek kommunikeer. Al kon hy in daardie stadium nog nie praat nie, het hy dikwels sy emosies deur musiek uitgedruk.
“Dit was vir hom fantasties,” vertel sy ma. “Wanneer hy na musiek geluister het, het hy eenvoudig gestraal.”
Nou, ’n klompie jare later, speel musiek steeds ’n belangrike rol in sy lewe. “Dit bou sy selfbeeld,” vertel Linda. “Dis vir hom wonderlik as hy een van die bekende gospelliedjies vir my kan sing.
“Musiek vorm ook ’n band tussen hom en ander mense. Kinders met Downsin-droom word dikwels later in hul lewe eenkant toe geskuif, maar Niël se liefde vir musiek het gesorg dat hy altyd ’n plekkie sal hê.”
En steeds het musiek terapeutiese waarde vir hom. Linda vertel: “Wanneer hy, byvoorbeeld, nie lus het om sy tande te borsel nie begin ek ’n liedjie sing. Dan word dié takie sommer pret!
“Ook wanneer hy terneergedruk of ontevrede is, sal musiek hom gou-gou laat bedaar. En hy sal begin saamsing.”
Artikel geskryf deur Maretha Botes.