Deur Milanie Vosloo
Wat sou jy vanjaar onder jou Kersboom wou sien?
Dis twee weke voordat ons die Kripkind se koms vier. Dié Kind wat meer as 2 000 jaar gelede gekom het om nie alleen aan ons léwe te gee nie, maar vier reuse-geskenke onder ons lewensbome te pak: Hoop. Vrede. Vreugde. Liefde.
Ongeag die plek of omstandighede waarin ons is, is dít die vier dinge wat ons kan help om ánders na die lewe te kyk. Om die lewe nie net in die Feestyd nie, maar heeljaar te vier.
Mag jy vanjaar die pakkie van hoop oopmaak en kies om met nuwe moed na môre te kyk. Haal gerus ook sy groot vrede uit die geskenksak, maak dit jou eie en deel dit en vergifnis aan almal om jou uit. Maak veral tyd om in stilte by Hom te sit en vra dat die Gees jou met sy diep vreugde sal vul. Belangrikste van alles: Ontvang God se groot pakkies onvoorwaardelike liefde vir jou. Ja, onthou, Hy verlang na ’n innige verhouding met jou … omdat jy so diep in sy hart is.
LEES OOK: Jy kan kaalvoet in sy hart lê
Dink vanjaar met die versiering van julle Kersboom sommer net aan al die genade-dinge wat God vanjaar aan die takke van julle gesin se lewe gehang het. Begin sommer nou al om sy geskenke vir dié Adventstyd een-een oop te maak en te geniet. Dís mos wat Hy sou wil sien.
U geskenke
Here Jesus,
ek is so dankbaar oor baie dinge:
oor u genade – ook in hierdie jaar.
Oor u onbeskryflike géé-hart.
U sonder-einde genade.
Ek ontvang die hoop wat my help om
ánders na die lewe te kyk.
U diep vrede wat my verstand te bowe gaan.
Die diep vreugde wat net van U kan kom.
Maar Here, die meeste van alles,
staan ek bakhand om u liefde my eie te maak.
Ek wil hierdie geskenke op die rakke van my hart uitpak
sodat ek en my gesin
dit heeljaar kan sien.
Vir altyd kan geniet!
Amen.
Skrif:
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie …sê die Here, wat jou liefhet” – Jesaja 54:10.