Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Dis ’n troos dat my kindertjies by God is’

“Ek kon nie wag om eendag ’n mamma te word nie. My ouers het altyd gespot en gesê ek gaan tien kinders hê!”

Só vertel Soné van Niekerk. Die werklikheid was egter heel anders as haar drome …

LEES OOK: ‘Ons baba is net ’n dag lank vir ons geleen,’ vertel jong vrou ná beroerte

Nie ’n maklike pad nie

Soné en haar man Tinus het, soos menige ander jong egpaar, besluit op ’n geskikte tyd om swanger te word. Maar daar was uit die staanspoor probleme en later het hulle met fertiliteitsbehandeling begin.

Dit was nie ’n maklike pad nie. Soné sê: “Ek was die hele tyd moeg, en ek moes gereeld medikasie gebruik. My badkamer het later soos ’n apteek gelyk!”

Twee laparoskopies later, en nadat byna twee jaar verloop het, het hulle oplaas goeie nuus ontvang. Dit was egter ’n problematiese swangerskap en Soné is op 33 weke in die hospitaal opgeneem. Haar vrugwater was bitter min en klein Tinus het ophou groei.

Die dokters het dadelik met aarvoeding begin en Soné het steroïede ontvang om die kind se longe te help versterk.

Op 9 Oktober 2015 is die Van Niekerks se seuntjie gebore.

Ná klein Tinus se geboorte het Soné volgehou met die fertiliteitsbehandeling omdat sy graag nog ’n kind wou hê. “En dié keer,” vertel sy, “het ek gouer swanger geraak. Ons was in die wolke!”

Soné kon nie wag om tydens haar 18 weke-besoek aan die ginekoloog haar baba se hartklop te hoor en die geslag vas te stel nie.

Maar toe draai die ginekoloog sy gesig van die skerm af weg. “En ek het onmiddellik besef daar is fout.”

Bion is op 21 weke gebore, sy lyfie perfek gevorm, maar hy het nie geleef nie. Foto verskaf

‘Hanlie het in my hand gepas’

Soné se dokter het met trane in die oë vir hulle gesê dat hul klein dogtertjie nie meer leef nie.

“Hanlie het in my hand gepas,” vertel Soné. “Ek het my verkyk aan hoe perfek so ’n klein lyfie reeds kan wees.

“En al wat ek kon uitkry, was: ‘Ai my lyfie, hoekom moes jou hartjie gaan staan?’”

Verskeie laparoskopies het gevolg. En die een miskraam ná die ander. Soné was emosioneel uitgeput en haar lyf kon nie meer die opeenvolgende swangerskappe hanteer nie. Op ’n dag het ’n sist gebars, en die medici het gesê dat sy nie weer kon swanger raak nie.

“Ek sal daardie moedelose gevoel nooit vergeet nie,” sê sy.

Boonop het hul huwelik in dié tyd deur diep waters gegaan – met ’n koliekbaba, met Tinus wat nagskof gewerk het, en met die Covid-19-pandemie wat sy tol geëis het.

Iéts moes skietgee.

Ivan se storie

Die Van Niekerks het besluit om ’n nuwe lewe in Douglas in die Noord-Kaap te begin. Toe vind Soné uit, net ná die trek, dat sy swanger is.

“Skielik het alles weer begin sin maak. Tinus het normale ure gewerk, klein Tinus was gelukkig in sy nuwe skool, én daar was ’n boetie of sussie op pad.”

Soné se swangerskap met klein Ivan was aanvanklik maklik. Tot op ses maande, toe sy oornag erg naar geword het. Sy is met Covid-19 gediagnoseer en dadelik in die hospitaal opgeneem.

Met die eerste ondersoek nadat Soné uit die afsonderingsaal gekom het, het die dokter ’n klein kolletjie op Ivan se een nier gesien. Dit het hom bekommer.

Drie dae later het hy weer gekyk, en die kol was groter. Daar was boonop nog een.

Soné se vrugwater het ál minder geword en die kolletjies op Ivan se niere ál meer.

Soné en Tinus is na ’n spesialis in die Kaap wat in niersiektes by ongebore babas spesialiseer. Hy was egter self onseker oor die pad vorentoe. Klein Ivan se niere was vergroot, terwyl sy longe nog nie sterk genoeg was om sy geboorte te oorleef nie.

Uiteindelik het die niere ophou werk. Ivan is op 19 Januarie gebore, op dieselfde dag wat sy ouboet met graad een begin het.

Hy is onmiddellik aan ’n ventilator gekoppel. Sy nierfunksie het egter steeds swakker geword.

En ses dae later is die masjiene ontkoppel.

Kort hierna het Ivan se oupa dié hartseerboodskap op sosiale media geplaas. “Hi julle, klein Ivan het aan die slaap geraak en is nou veilig by Jesus, met geen lyding meer nie.”

Die Van Niekerks se seuntjie Tinus. Foto verskaf

Genetiese toetse

Maar Soné en Tinus was verpletter. “Terwyl ons Ivan se lewelose lyfie bad, hom aantrek en van hom afskeid neem, het dit gevoel asof my hele lewe uitmekaar val. Hoe verduidelik ek vir klein Tinus dat sy boetie nie huis toe kom nie?”

Soné het besluit om genetiese toetse te laat doen, en daar is vasgestel dat sy en Tinus ’n geen dra wat outosomale resessiewe polisistiese niersiekte (ARPKD) meebring. Die dokters reken dit was heel moontlik ook die oorsaak van Soné se vorige miskrame.

ARPKD is ’n seldsame genetiese afwyking wat 1 uit elke 20 000 kinders raak. ’n Fetus of baba met ARPKD het vloeistofgevulde niersiste wat die niere vergroot en tot swak nierfunksie lei. Dít het ook asemhalingsprobleme tot gevolg, lewensbedreigend vir ’n fetus of baba. Ongeveer 30 persent van pasgebore babas met ARPKD sterf enkele dae later.

Aanvanklik wou Soné haar onmiddellik laat steriliseer, maar die dokters het haar aangeraai om ’n maand lank te wag voordat sy so ’n ingrypende besluit neem.

Te bang om te hoop

En toe, ten spyte van voorbehoeding, vind Soné uit sy is weer swanger.

“Hoe vertel ek dit vir my man?” het sy gewonder. “Ons het dit nie beplan nie. Nie een van ons wou weer daardie pynlike pad stap nie.”

Sy het toe maar ’n briefie geskryf …

Sy het ook nie geweet hoe sy self die nuus moes hanteer nie. Sy was te bang om te hoop.

In die daaropvolgende klompie weke het Soné se emosies gewissel van vreugde en blydskap tot angs en wanhoop. Op 16 weke is ’n amniosintese gedoen, en haar vrugwater is na die VSA gestuur om dit vir ARPKD te toets. Daar was ’n 25 persent kans dat die baba ook die geen geërf het.

Soné sê sy het altyd geweet daar is so ’n kans. Twee weke later is haar vrees bevestig.

Die moeilikste besluit ooit

Wat nou? Die dokters het hulle aangeraai om die swangerskap te beëindig. Hoe doen jy dit? het Soné gewonder. Hoe besluit jy oor jou kind se lewe?

In dié tyd het sy en haar man met dokters en ondersteuningsgroepe gesels, en met ouerpare wat in dieselfde bootjie was. Die kans dat ’n baba met dié soort afwyking oorleef, is uiters skraal. Buitendien kwalifiseer babas eers as hulle ’n jaar oud is vir ’n nieroorplanting. En skenkers is bitter skaars.

So ’n oorplanting is ook nie ’n permanente oplossing nie omdat die kind ná drie jaar ’n nuwe nier moet kry.

Soné moes die moeilikste besluit ooit neem.

Klein Bion Noah is op 21 weke gebore, sy lyfie reeds perfek gevorm.

’n Spesiale gesinsfoto. Soné en haar man Tinus, klein Tinus en herinneringe en ’n foto van klein Ivan wat ná ses dae gesterf het. Foto verskaf

Haar groot troos

Soné sukkel steeds om oor daardie hartseerdag te praat, maar sy besef hoe belangrik dit is om nie haar emosies te onderdruk nie. Die bewustelike belewing van pynlike emosies help met die genesingsproses, sê sy.

“Ek het die Here gesê ek wil nie my kind só sien nie, maar toe kom staan Hy langs my en vou my toe in sy arms. En Hy sê: ‘By My is jy veilig. By My is daar nie meer lyding nie, net liefde.’

“Dis belangrik om te onthou dat jy nie alleen hierdeur gaan nie. Ons leef in ’n gebroke wêreld; jy moet vasklou aan jou geloof. Daarsonder sou ek dit nie gemaak het nie.

“Moet nooit toelaat dat die letsels van die pyn en hartseer jou bitter maak nie. Littekens is ’n trofee van triomf oor wonde wat genees. Dis ’n teken van God se genade. Die wêreld is ’n onvolmaakte plek waarin daar altyd seer sal wees.

Laat toe dat God jou seer bedek, en vertrou op Hom.”

Soné se groot troos is dat haar kindertjies reeds by Hom is, in ’n plek sonder hartseer of pyn. En eendag sal hulle almal weer saam wees.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.