DEUR MARIANNE COLLEN
My seun is `n inwoner van Sunfield Wellington. Sunflield is ʼn versorgingsentrum vir verstandelike gestremde volwassenes. Hy is by my vir hierdie inperkingstyd. Ons dag begin met heen en weer stap in die beperkte ruimte by die veiligheidsoord waar ek woon. Elke dag probeer ons een lengte meer stap.
Hy hekel en werk op sy loom. Daar is dikwels steke wat val omdat hy `n tremor het, maar ons maak maar weer die foute reg. Verder het hy werkies in die huis. Hy is mal oor resepte soek. Ek moet net noem dat ek byvoorbeeld mieliebrood wil bak dan soek hy in al wat ʼn resepteboek is.
Lees nog getuienisse hier.
Hy maak vir my seker 5 maal op `n dag `n koppie tee. Verder oefen hy sy handtekening. Elke dag skryf hy ʼn bladsy vol met datum by. Hy het ook die mooiste bruin papiersakkies wat hy vir Desember se Kersmark versier.
Saterdag vra ek hom: “Wat maak jou gelukkig?”
“Sy,” antwoord hy. (Sy is sy meisie in Sunfield en na wie hy baie verlang.)
Sy tweede antwoord was: “As die virus verby is wil ek `n Cappuccino gaan drink.”
Sy derde antwoord was: “Ek is bly ek kan hekel.”
Ek leer so baie by hom en dat geluk niks te doen het met aardse skatte nie.
Confucius het gesê daar is net 3 dinge nodig vir geluk. Iets om te doen, iets om te hoop en iemand om lief te hê.
LEES OOK: Elke dag is nog ʼn stukkie van my liggaam weg.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.