Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek het besef God het Lielie Muis net vir my geleen’

Gerrit de Jager (38) het in 2019 sy dogtertjie Leah aan die dood afgestaan.

Hy vertel: “As daar ʼn groot boom in die veld uitgehaal word, bly daar ʼn selfs groter gat agter. Dis waar my pyn lê oor my Lielie Muis, soos ek haar genoem het. Ek gaan wel nie dikwels na daardie plek toe nie, want ek kry te seer.

“Ek het met God baklei; ek wou antwoorde hê. Ek kon hoegenaamd nie verstaan waarom Hy my kind kom haal het nie. Maar sy stem was duidelik: ‘Moes Ek haar nie vir jou gegee het nie?’

“Dit was toe dat ek besef het sy is net aan my geleen.”

LEES OOK: Jan Bloukaas: ‘Doodgaan is nie verloor nie’

Sondag is gebruik om van Saterdag te herstel

Gerrit probeer tans om baie balle in die lug te hou. “Maar van al die ysters wat ek op die oomblik in die vuur het, is radio my werklike passie.”

Hy is ʼn omroeper by Luister FM. “Ek is reeds tien jaar lank hier. My liefde vir radio kom van my ouma. Haar radio was die hele dag op RSG ingeskakel.”

Hy is ook ’n akteur en hy doen oorklankingswerk. Gerrit is egter veral as komediant bekend. “Gertjie, ou buddy, ou pjel,” is hoe sy bewonderaars hom ken. 

“Ek was nog altyd ’n mens wat ander wou vermaak, en ek het probeer om dit in my vertonings uit te leef. Dit het wel soms die grense oorskry. Met my lewe wat nie onbesproke was nie, het my geloof en my lewe nie altyd met mekaar ooreengestem nie. Ek het my in ’n situasie bevind waar Sondag gebruik is om van Saterdag te herstel. 

“Tans werk ek elke dag daaraan om alles te verbeter wat ek op die verhoog verkeerd doen. Alhoewel ek nooit kru is nie, is my taalgebruik soms nie hoe ek wil hê dit moet wees nie. Dit moet verander. Ek kan nie ’n dubbele lewe lei nie. My siel is belangriker as my loopbaan.”

Gerrit sê sy liefde vir musiek kom van sy pa se CD-versameling. “As ek alleen gevoel het, wat dikwels gebeur het, het ek die ure omgedroom met die klanke van Charlie Pride, Slim Whitman en Jim Reeves in my ore.”

Gerrit se ma en pa is geskei toe hy baie klein was. Dit was nooit vir hom lekker  om tussen die twee pole te beweeg nie. Later het hy permanent by sy pa gaan woon; hy het sy ma net af en toe gesien. Tog is daar by hom geen oordeel nie, en hy en sy ma het ’n gesonde verhouding.

Gerrit sê Jan Bloukaas se positiwiteit, ten spyte van slegte nuus en swaarkry, het vir hom vrede in sy hart gegee ná die verlies van sy dogtertjie. Hier is ‘n babafoto van Leah oftewel Lielie Muis. Foto verskaf

Hy ken my seer, en ek ken sy almag’

“Maar ek het metteryd ʼn ‘verlore tiener’ geword. Ek het nie akademies of op die sportveld presteer nie. Ek het nie gevoel ek behoort iewers nie. Alles het net te veel geword, en dié gevoelens het in my alledaagse lewe posgevat.

“My pa se ysterhand het my sterker gemaak, al het ek dit nie as tiener so beleef nie. Ons twee het ʼn spesiale band.

“Maar drank het ʼn groot rol in my lewe gespeel. Ek was maar 14 toe ek begin drink het. Op 16 het ek met dwelms begin eksperimenteer.

“ʼn Mens dwaal so ver af dat jy in ʼn onrealistiese lewe vasgevang word. Ek was nie so verslaaf aan die dwelms en drank as aan my vriendekring nie. Hier is ek sonder oordeel aanvaar. En dis waarna ek altyd op soek was. 

“Ná skool is ek Engeland toe. Dit was ʼn reusefout! Ek wou my lewe omdraai, maar ek het al hoe vinniger in ʼn misbruik-spiraal verval. Dwelms en drank was al taal wat ek verstaan het.

“Ek was maar 21 toe ek teruggekom het nadat dwelms my byna my lewe gekos het.

“Daar is geen suikerlagie om my lewe nie. Ek is eerlik oor wie ek was, en ek is vol vertroue dat God besig is om hierdie stukkende lewe heel te maak. Hy ken my seer, en ek ken sy almag.”

‘My ouma se gebede’

Gerrit sê sy ouma was altyd ’n sagte tuiskoms vir hom. “Ná my oupa se dood het my ouma by ons kom woon. Sy het Jesus se teenwoordigheid met haar saamgebring. Ek is tot vandag toe daarvan oortuig dat my ouma se gebede die rede is waarom ek nie nou iewers in ʼn tronk sit of reeds in ʼn graf lê nie.

“Ek is haar ewig dankbaar dat ek die nederige Jesus leer ken het by die nederigste mens op hierdie aarde. Sy het my geleer om respek vir die Here en sy huis te hê. Daardie waardes het my gehelp toe ek die pad byster was.

“Ek moes eers deur hel gaan voordat ek die Vader se genade onthou het. 

“My ouma is steeds ʼn groot deel van my lewe. My ma was nie altyd daar nie en my pa was nie die soort mens by wie jy jou hart kon oopmaak nie. Ek het maar altyd op Ouma se skouer gaan huil – of ek het dinge vir myself gehou. Daar is tye in my kinderlewe wat ek emosioneel ‘uitgeblok’ het.

‘Daar is nie ʼn pil wat die pyn kan wegvat of die verlange kan laat verdwyn nie’

“Klein Leah, my Lielie Muis, het op drie maande haar roetine-inspuiting gekry. Maar sy het ’n koors ontwikkel en ons kon dit nie onder beheer kry nie. Die dokter het haar ondersoek en sy is dadelik in die hoësorgeenheid opgeneem.

“Volgens die dokter het sy nie genoeg suurstof gekry nie. Sy is aan  ʼn masjien gekoppel wat haar gehelp het om asem te haal. 

“Ná sewe dae is sy na ʼn provinsiale hospitaal oorgeplaas. Nog dokters, nog toetse. Die dokters het meer verlore gelyk as ons. Leah het ʼn beroerte gehad, daar was gereelde konvulsies.

“Ek het nog nooit in my lewe so magteloos gevoel nie. Ek kon haar nie eens optel nie.

“Uiteindelik is Lielie Muis met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer.

“Sy het breinskade opgedoen. Ek het steeds bly bid, bly onderhandel. Uiteindelik het ek my pleit om genesing verander na een dat God se wil moet geskied. Ek moes Leah se ma en grootouers ondersteun. My emosies moes vir eers ‘skuiling soek’. Dis iets wat ek by my pa geleer het.

“Ek is voortdurend aangemoedig met geykte woorde van mense wat nie verstaan het wat ek deurgemaak het nie. Ek was baie kort van draad in die hospitaal. Ek was totaal uitgeput, liggaamlik en emosioneel.

“Elke dag het ons alles van vooraf beleef. Die dokters het drie maal bevestig dat sy sou sterf – maar ʼn mens bly hoop …

“Uiteindelik het my Lielie Muis gesterf, ná 98 dae in die hospitaal. Ek is nie kwaad nie; net bitter seer. Ek wens dit vir geen mens toe nie. Tog het ek die Here se hand beleef in die uitwerking wat Leah op ander se lewe gehad het. Daar was tot mense in New York wat vir haar herstel gebid het.

“Daar is nie ʼn pil wat die pyn kan wegvat of die verlange kan laat verdwyn nie. Maar ek het geleer om oor haar te praat. My Lielie Muis is in my hart gegraveer, en ek sal haar nooit vergeet nie.”

Gerrit en Leah se ma het op verskillende maniere gerou. Sy het onttrek; hy het stil geword. Hul weë het later geskei.

Vandag is Gerrit getroud met Roelandie en nou die pa van Anlia (hooffoto). Dit lyk of sy lewenspad die steil bult oorgesteek het. Dis vir hom nou belangrik om vrede te vind, om nie oor sy skouer te kyk na waar hy vandaan kom nie.

“Daar is nie ʼn pil wat die pyn kan wegvat of die verlange kan laat verdwyn nie. Maar ek het geleer om oor haar te praat. My Lielie Muis is in my hart gegraveer, en ek sal haar nooit vergeet nie,” sê Gerrit. Foto verskaf

‘Jan Bloukaas het my vrede in my hart gegee’

“Ek volg nou al jare lank Jan Bloukaas se verhaal. Ek het hom leer ken as ʼn stoutseun met aweregse rympies en ʼn skewe glimlag. Toe sy lewe deur siekte lamgelê is, het almal hom geestelik ondersteun deur daagliks vir hom te bid. En deur al die terugslae heen bly daardie glimlag wanneer hy oor God se genade praat.

Jan Bloukaas het onlangs sy aangrypende #liggetuienis gedeel.

“Jan kry slegte nuus op slegte nuus, maar onverpoosd prys hy die Here. Hy bevraagteken niks en bly deurentyd positief. Wie sal hom nie verwonder aan iemand soos hy nie?

“Jan het vir my vrede in my hart gegee ná die verlies van my dogtertjie. 

“Ja, dankie, Jan Bloukaas, dat jou positiewe gesindheid ons meer van die Here leer. Ek is lief vir jou. In jou leeftyd op aarde het jy my van Jesus se liefde geleer, en daarvoor is ek jou ewig dankbaar.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF