Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Ek is mishandel, verkrag, verwerp, verlaat – maar God het ’n plan met my lewe’

WAARSKUWING: Dié verhaal kan sommige lesers ontstel

“My lewe was nie maklik nie. My pa was ’n manipulerende, gewelddadige mens. Die dag toe hy uitvind my ma is swanger met my, het hy haar gedwing om ’n aborsie te ondergaan.”

Johannes Wolfaardt, vandag ’n 40-jarige Bloemfonteinse motiveringspreker, het dié aanslag op sy lewe wonderbaarlik oorleef.

Geborg

Toe sy pa egter hoor dat hy steeds leef, het hy nog ’n keer probeer om hom dood te maak. “Tydens ’n woedeuitbarsting het hy met sy vuis op my ma se baarmoeder geslaan,” vertel Johannes. Sy ma het hom vertel dat hy drie dae lank nie in haar beweeg het nie.

Maar ná drie dae was die beweging terug en sy ma het besef hy leef.

LEES OOK: Dapper vrou se stryd: ‘Hoe kón my man dit doen?’

Sondag was ’n ‘rusdag’

“Ek is op 19 November 1984 in die destydse Transvaal gebore. Toe ek twee jaar oud was, het my ma besluit dat sy nie meer die mishandeling kon verduur nie en sy het ons verlaat.”

Johannes was maar vier toe sy pa begin het om hom aan te rand. Dit het gereeld gebeur. “Die enigste dag wat my pa my nie geslaan het nie was op ’n Sondag. Hy het geglo dis ’n heilige dag en dat daar dan nie geweld mag wees nie. Dit was vir hom ’n ‘rusdag’.”

Geborg

In daardie tyd het Johannes en sy pa in ’n mynhuis in Virginia gewoon. Hy moes elke dag ongeveer sewe kilometer skool toe stap. Hy was ses jaar oud toe sy pa te ver gegaan het: Toe Johannes, een middag ná skool, nie ’n vreemde rooikopvrou in hul huis gegroet het nie, het sy pa hom van agter met ’n hamer gegooi. Die hamer het hom teen sy skouer getref en hy het geval. “My pa het op my afgestorm en gesê dat hy my maniere sal leer. Hy het my geskop, my aan my nek opgetel en gewurg.”

Dié aanranding het Johannes met gebreekte ribbes gelaat. Hy was vol bloed.

‘Dit was bitter seer’

Die volgende oggend moes Johannes hom gereed kry vir skool. Die pyn was feitlik ondraaglik, en hoewel dit ’n warm somerdag was, het hy ’n langbroek en ’n trui aangetrek om die seerplekke weg te steek.

Hy het die ander kinders vermy en op sy plek heel agter in die klas gaan sit.

“Ek kon nie my hand beweeg nie, so geswel was dit. Ons juffrou het deur die klas gestap en by my tot stilstand gekom. Sy het aan my skouer gevat en ek het ineengekrimp. Dit was bitter seer. Toe sy my vra wat fout is, het ek haar vertel.”

Daarop het sy hom na die skoolhoof geneem en dié het die polisie ontbied. Twee konstabels het Johannes huis toe vergesel. Hulle het hom belowe dat senior polisiebeamptes die volgende dag sal kom om hom na ’n veilige plek te neem.

Sy pa was woedend, en Johannes is daardie aand sonder kos bed toe.

Geborg

“Die polisie het woord gehou en twee inspekteurs het my die volgende oggend kom haal. Ons het my klere ingepak. Die rooikopvrou was ook daar. Ek sal nooit die duiwelse kyk in haar oë en die glimlag op haar gesig vergeet toe ons by die huis uitgaan nie. My pa het gehuil toe hulle my wegneem; ek weet nie regtig hoekom nie.”

Toe na nog een, en nog een

Johannes is na verskeie veilige plekke geneem. Hy was sewe jaar oud toe hy tydelik in ’n gesin se sorg geplaas is. Maar die ma van die huis het hom seksueel misbruik wanneer die res nie tuis was nie.

Hierdie mishandeling het ongeveer ’n maand lank geduur, tot die maatskaplike werker tydens ’n roetinebesoek daarvan uitgevind het. Johannes is na ’n ander plek geneem. Toe na nog een, en nog een.

Johannes vertel dat hy soms weer mishandel en verkrag is. Daar was egter ook plekke waar dit goed gegaan het.

‘Ma is lief vir jou’

Johannes was 18 toe hy sy ma vir die eerste keer weer gesien het. Die verhouding was maar strammerig en hy het besluit om sy eie potjie te krap. Hy het by ’n konstruksiemaatskappy in Viljoenskroon begin werk.

Maar dit het nie goed gegaan nie en Johannes is terug Bloemfontein toe. Hy vertel: “Ek kon nêrens heen gaan nie; ek het niemand gehad nie. En ek moes noodgedwonge by my ma intrek. Ek het in dié tyd weer werk gekry en ’n goeie salaris verdien.

“Op 5 Januarie 2015 het my ma vir my gesê: ‘Seuna, Mamma wil met jou praat.’

Geborg

Sy het nog nooit so iets gesê nie. Toe het sy my vertel dat sy onlangs vyf epileptiese aanvalle gehad het. Sy het gesê sy weet dat sy nie ’n goeie ma vir my was nie. Sy het ook erken dat sy by my gesteel het en sy het om vergifnis gepleit.

“Die Here het my die krag gegee om haar te vergewe. Sy het begin huil, en ek het vir haar gesê om te gaan stort. Daarna sal ons rustig kan gesels.”

Hy was besig om kos te maak toe hy ’n harde slag hoor. Hy het aan die badkamerdeur gaan klop, maar daar was geen antwoord nie. Hy het sy halfbroer gebel en hulle het die deur oopgebreek. Sy halfbroer se meisie het ingegaan.

“Sy het uitgekom en gesê ons ma se gesig is blou. Sy het ’n oomblik lank haar bewussyn herwin en saggies gesê sy is lief vir my.

“Kort daarna het sy gesterf.”

‘God gebruik my verhaal’

Dié traumatiese voorval het ’n groot impak op Johannes gemaak en hy het in ’n depressie verval. Drank en dwems het uitkoms gebied en só ’n houvas op hom gekry. Dit het so sleg gegaan dat hy ses maande lank op straat gebly het. Hy het verskeie kere probeer om sy lewe te neem.

God het egter ’n groter plan vir hom gehad: In 2021 het hy Annelle ontmoet en hulle is in 2022 getroud. Hy vertel: “Annelle bid sonder ophou vir my, en sy stap saam met my op die pad na genesing. Ek het God ontmoet en ook berading ontvang.

“Die letsels van die trauma wat ek moes deurmaak, sal by my bly. Maar dit maak nie meer seer as ek daaroor praat nie.”

Hy glo dat God Annelle gebruik het om hom te inspireer om sy lewensverhaal te skryf. Hy noem dit Struggling Stains*.

“Ek glo dat  God my verhaal wil gebruik om ander te wys dat dit nie saak maak hoe hopeloos ’n situasie is nie; daar is áltyd hoop. Niks op hierdie aarde kan God se plan vir jou in die wiele ry nie. Elke dag is ’n tree nader aan genesing.”

Johannes sê hy kyk vandag terug op sy moeilike lewe en hy is dankbaar dat God dit nou gebruik om ander te inspireer en hoop te gee. Sy raad aan mense wat erge trauma beleef het, is dat hulle die seer nooit vir hulleself moet hou nie. “Ek het op my pad na genesing geleer om te praat oor hoe ek voel. En wanneer niemand naby my was nie, het ek my gevoelens neergeskryf.

“Maak seker jy is tussen mense wat jou kan opbou. Mense wat luister as jy met hulle praat. Mense wat jou nader aan God se liefde bring.”

*Spoor die verhaal hier op: https://nskrywershuis.co.za/product/struggling-stains/

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.