Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Ek wens ek het vroeër vrede gemaak,’ – en ander lesse van sterwendes

’n Mens kyk anders na die lewe as jy op ’n laaste siekbed lê. Daar is dikwels te veel berou, te veel woede. En gans te veel selfverwyt. Maar hoekom nou eers? Hoekom het jy dan nie vroeër, toe jy nog kón, iets daaraan gedoen nie?

Ds Christo de Witt van die NG gemeente Plooysburg in die Noord-Kaap was jare lank be­trokke by gemeentelede wat aan die einde van hul lewenspad gekom het. Hy sê: “Die spreekwoord ‘spyt is ’n goeie ding, maar dit kom dikwels te laat’ het in vele gevalle by my opgekom wan­neer ek na sulke mense geluister het.”

En deur die jare, sê Christo, het hy besef daar is ’n klompie sake waaroor die meeste mense spyt is wanneer hulle besef het hul lewe het te vinnig verbygeskiet.

Geborg

‘Ek is spyt dat ek my lewe lank aan ander mense se wense wou voldoen. Ek wens ek het die moed gehad om my ware self te wees, om nie gedurig te gedoen het wat ander mense van my verwag het om te doen nie.’

Baie mense besef eers hoeveel drome hulle op hul lewenspad prysgegee het wanneer hulle die einde van hul aardse bestaan nader. Dis gewoonlik keuses wat gemaak is (of nie) en besluite wat geneem is (of nie).

Christo sê: “Ons het almal drome, maar baie daarvan is nooit ontgin of nagejaag nie omdat ons toegelaat het dat ander mense ons manipuleer.

“Ons word dikwels wat ons ouers wil hê ons moet word. Ons lyk soos ons familie en vriende van ons verwag om te lyk. Ons doen wat die samelewing voorskryf. Eintlik is ons bloot pionne in ’n wêreld waar ons kon en moes blom.”

Ook hier kom spyt dikwels te laat. Daarom moet ons daadwerklik probeer om soveel moontlik van ons eie drome na te jaag voordat ons gesondheid ons in die steek laat. Voordat ons finaal agterkom dat tyd nie meer aan ons kant is nie.

‘Ek wens ek het nie so hard en aanhoudend gewerk nie.’

Aanvanklik is dit ’n soort statussimbool om te kan sê jy het vyftien uur per dag gewerk – maar dis eintlik ’n ramp.

Geborg

Christo sê dis as gevolg hiervan dat kinders se grootwordjare en belangrike mylpale by hul ouers verbygaan. Dis ook ’n belangrike rede vir huwelike wat misluk.

Dis eers later in ’n mens se lewe dat jy besef hoe min werd dit was dat jy jou so afgesloof het. Die enigste mense wat uiteindelik onthou hoe hard jy elke dag gewerk het, is jou gesinslede. Nie jou kol­legas nie en beslis nie jou werkgewer nie.

Leef dus eenvoudiger en verander doelbewus jou leefwyse. ’n Mens kán met minder oor die weg kom. Uiteindelik is dit verhoudings wat jou lewe vol maak, nie mooi besittings of ’n strandhuis of ’n luukse vakansie nie.

‘Ek wens ek het meer gewaag.’

Dis veel makliker om die status quo te aanvaar as om tot daadwerklike aksie oor te gaan. Hoekom het ek nie méér probeer doen nie? Nie groter gewaag nie?

Ek móés daardie geleentheid benut het! Ek moes meer gereis het, langer ver­toef het. Ek moes my voet neergesit het.

Was my versigtige, voetjie-vir-voetjie-benadering ooit die regte een? Is dit te laat om dit nou te verander?

‘Ek wens ek het die moed gehad om ander te vertel hoe ek regtig voel.’

Baie mense onderdruk hul gevoelens ter wille van die sogenaamde vrede. Dit loop dikwels uit op ’n lewe wat nooit sy volle potensiaal bereik nie.

Geborg

Nee, jy het nie beheer oor hoe ander mense op jou optrede reageer nie; deur egter eerliker te leef en openliker te wees, ook oor jou emosies en behoeftes, kan jy ’n meer vervullende lewe hê.

‘Ek wens ek het kontak met vriende behou.’

Met verloop van tyd raak ons besig met ons eie lewe en behoeftes, en die sleur van elke dag vreet aan ons energie. Soms is die gevolg daarvan die afsterf van ou vriende.

Dis dikwels eers op ’n laaste siekbed dat baie mense die waarde van ou, vergane vriendskappe besef. En dan is dit waarskynlik nie meer moontlik om iets daaraan te doen nie.

Die liefde vir ander en die verhouding met hulle gee aan die lewe ’n kleur wat ons nie eintlik kan ontbeer nie. En tog gebeur dit. Dit kan so anders wees …

‘Ek wens ek het vroeër vrede gemaak met ’n familielid of ’n ou vriend.’

Christo sê: “Ons verkeer almal, in die een of ander stadium, in konflik met ons­self, met mense na aan ons, en selfs met vreemdelinge. Ongelukkig laat ons dit dikwels daar en maak nooit vrede ná ’n on­deronsie of meningsverskil nie. Dit gebeur selfs dat vriende en familie jare lank nie met mekaar praat nie.

“En as jy jou tien jaar later afvra waaroor dit nou eintlik gegaan het, kan jy nie meer die presiese besonderhede of omstandighede onthou nie.

“Maar dan hoor jy iewers ’n preek of jy lees iets wat jou diep raak en jy voel jy moet vrede maak – en dan is dit te laat.

Geborg

“Sorg dus dat jy betyds hiérop ’n antwoord kry: Is dit regtig die moeite werd om jare se saamwees en vriendskap af te skryf vanweë ’n (twyfelagtige) grief?”

‘Ek wens ek het meer tyd saam met my kinders deurgebring.’

Kinders onthou of hul ouers regtig teen­woordig was toe hulle grootgeword het. Was jy langs die rugbyveld en netbalbaan? Was jy by die kooruitvoering en prysuitde­ling?

Was jou loopbaan en werkverpligtinge dit régtig werd dat jy daar moes wegbly?

‘Ek wens ek het liefde ’n kans gegee.’

Hoeveel van ons is spyt oor dáárdie ver­houding?

Dalk het jy die verhouding beëindig; dalk was jy die een wat die trekpas gekry het. Die waarheid is dat dit jou altyd sal bybly. “Wat as …?” treiter jou heel dik­wels.

’n Mens weet natuurlik nooit hoe jou lewe sou verloop het as daardie verhou-ding wel geslaag het nie …

‘Ek wens ek het myself toegelaat om gelukkiger te wees.’

Geluk is ’n keuse, en ongelukkig besef te veel mense dit as dit te laat is. Ou patrone en gevestigde gewoontes word moeilik gebreek omdat dit gerieflik geword het.

Daarom is ons onredelik bang vir enige verandering in gedagtes, standpunte en leefwyse; ons bly eerder by die bekende. Op dié manier kies ons om ongelukkig te wees en só te bly.

‘Ek wens ek het beter na my gesondheid omgesien.’

Jy weet jy moet oefen, gesonder eet, genoeg water drink. Dis egter eers wan­neer jy ’n werklike gesondheidskrisis in die gesig staar dat jy iets daaraan (probeer) doen. Soms is dit, helaas, te laat.

Begin daarom nóú om klein verande-rings in jou leefwyse aan te bring, wat met verloop van tyd ’n groot verskil sal maak. En wees stiptelik met jou ouder­domtoepaslike mediese ondersoeke.

  • Lees meer hieroor: Dié artikel is gebaseer op Bronnie Ware se boek The top five regrets of the dying: A life transformed by the dearly departing. Lees dit gerus!

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.