Sê die woord “engel” en jy lok uiteenlopende reaksies en emosies uit. Sommige mense dink dadelik aan Kerskaartjies, of musiek, of aan silwer juweliersware. Vir ander bring dit troos, omdat hulle glo dat engele oor gelowiges waak. Maar wat weet ons regtig van engele?
Ons idees oor engele is dikwels gebaseer op glasbeeldjies met pienk wangetjies, of kinderprentjies van ’n engelekoor, kompleet met harpe en stralekranse. Dan is daar vele vertellings van mense wat engele teëgekom het, en die geloof dat ’n bepaalde engel ons elke dag vergesel. Of dat ons geliefdes ná hul dood engele word.
Maar wat leer die Bybel, die primêre bron, ons oor engele?
Baie Bybelse verwysings
In sy boek, Engele – Diensknegte van die Lewende God, verduidelik ds Willem van Schalkwyk die belang van korrekte, Bybelgefundeerde kennis hieroor. Hy skryf: “Mense is nog altyd deur engele aangegryp en gefassineer. Daar bestaan egter baie wanopvattings oor engele. En daar is al baie boeke oor die onderwerp gepubliseer, wat nie noodwendig op Bybelse waarhede berus nie.
“’n Bybelse verstaan van engele help ons om ons fokus reg te hou. Ons moet ons nie in die eerste plek oor engele verwonder nie, maar eerder oor die Een wat hulle gemaak het. Ons mag nooit so aangegryp word deur die dinge wat die Here geskep het dat dit sy majesteit oorskadu nie.
“As die gedagte aan engele ons klein laat voel, moet dit ons selfs meer aanspoor om die almagtige God, wat hulle gemaak het, te aanbid.”
Soms ontken mense die bestaan of belang van engele, of glo dat hulle bloot die geeste van afgestorwe gelowiges is. Daar is egter baie Bybelse verwysings na engele, en gelowiges kan weet dat engele wel bestaan. En dat God hulle in sy diens gebruik.
Waar kom hulle vandaan?
Engele vorm deel van God se skepping en is op ’n bepaalde tyd – dalk reeds voor die skepping van die heelal – deur God gemaak.
In Psalm 148 word die engele aangesê om God te loof omdat Hy hulle geskape het. En in Job 38:7 lees ons dat die hemelse wesens gesing het toe God die aarde se fondament gelê het.
Ons lees ook in die Bybel hoe engele van mense afgeskei is. Hulle is geestelike wesens en kan slegs deur mense gesien word wanneer God dit moontlik maak.
Hoe, en hoekom, gebruik God engele?
Volgens Willem is die engele se vernaamste taak om God te aanbid en te verheerlik. Daar is dag en nag engele om sy troon, wat Hom loof en sy Naam besing. Hulle verheerlik God oor sy skeppingsplan en is saam met die Vader verheug wanneer sondaars hulle bekeer en na Hom terugdraai.
“Engel” beteken “boodskapper”, en word soms beskryf as diensknegte wat deur God uitgestuur word. ’n Mens moet dus nie engele aanroep of hulle aanbid nie; hulle is in God se diens. Hy stuur hulle na die aarde met ’n spesifieke opdrag of boodskap. Die engel Gabriël het, byvoorbeeld, aan Maria verskyn om te sê dat sy gekies is om Jesus se ma te wees.
Engele is ook soms gestuur om gelowiges in nood by te staan of om hulle te versorg. Ons lees hoe ’n engel by die profeet Elia was toe hy moedeloos onder ’n besembos gesit het (1 Kon 19:5-6).
Hoe lyk hulle?
Ons lees dat engele in verskillende gestaltes aan mense verskyn het. Soms het hulle so baie na mense gelyk dat die mense eers later besef het dat hulle eintlik met engele te doen gehad het. Dink maar aan die engele wat aan Abraham en Lot verskyn het.
By ander geleenthede het die verskyning van ’n engel die mense vreesbevange gemaak, wat waarskynlik beteken dat die engele op daardie tydstip nie soos mense gelyk het nie.
Hoe ook al, mense sien engele nie soos hulle regtig is nie; hul ware wese is (nog) nie aan mense geopenbaar nie. Ons sal dit eers in die hiernamaals regtig begryp.
Engele is geestelike wesens, maar hulle is nie, soos God, alomteenwoordig nie. Ons lees dikwels in die Bybel hoe God ’n engel na ’n sekere plek gestuur het.
En nêrens lees ons oor engele wat vroulik is nie; hulle is sterk soldate wat mense op ’n kragtige wyse te hulp snel wanneer God dit so beveel.
Soms moes engele oorlog maak, en soms moes hulle mense vir hul ongehoorsaamheid straf.
En deesdae?
Dis ’n onbeskryflike groot troos om te weet dat God deur sy Gees by ons is, dat Hy ons op verskillende maniere bystaan. Gelowiges kan ook glo dat God sy engele stuur om sy kinders te versorg en te bewaar. Dat engele, op dié manier, steeds aktief in ons lewe betrokke is.
God werk egter ook op ander maniere: Ons lees verskeie kere in die Bybel hoe Hy sy kinders gehelp het sónder om van engele gebruik te maak. Hy gebruik byvoorbeeld ook allerlei wonderwerke in sy plan.
Vandag praat God deur sy Woord en sy Gees met ons; dit is dus nie nodig om engele met spesifieke boodskappe te stuur nie.
En hoewel ons weet dat Hy sy engele stuur om ons by te staan, is daar nêrens in die Bybel bewyse dat elke mens ’n eie beskermengel het nie. Beskerming is in elk geval slegs een van die engele se take. Jesus leer ons, byvoorbeeld, dat God op dié manier baie spesifiek vir “hierdie kleintjies” sorg (Matt 18:10).
Beskrywings van en verhale oor engele laat val die lig op God se grootheid en almag. Dit is die engele se lied, hul boodskap.
Ja, God gebruik engele om ons te troos en te beskerm, maar bowenal besing hulle die wonder van sy skepping en sy voortdurende betrokkenheid by ons, sy kinders.
Slegs twee engele in die Bybel se naam word genoem: die engel Gabriël en die aartsengel, Migael.
Gabriël word gekies wanneer ’n belangrike boodskap oorgedra moet word. In die boek Daniël gee Gabriël se boodskap en openbaring ’n kykie in die toekoms van God se volk. Dit is ook hy wat die geboorte van Johannes die Doper en van Jesus Christus aankondig.
“Migael beklee ’n belangrike plek onder die engele,” skryf Willem. “Hy word ook as die aanvoerder van God se leërmag bestempel. Hy sal eendag saam met Jesus aarde toe kom om, met die wederkoms, die dooies te roep om op te staan.
“Migael se naam beteken: ‘Wie is soos ons God?’ Ook dit herinner ons daaraan dat niemand wonderliker en groter as God is nie.”
Lees meer
- Engele – diensknegte van die Lewende God, deur ds Willem van Schalkwyk
(Lig in Duisternis Uitgewers). Dis ook as ’n e-boek op Amazon beskikbaar. - www.zondervanacademic.com/blog/biblical-facts-angels