Alle mense maak foute. Dis deel van ons groeiproses om ook uit ons foute te leer. Vanselfsprekend geld dit ook ons kinders. Ouers moet hul kinders toelaat om foute te maak; só word hulle goed groot.
Deur RENÉ BADENHORST
Die slim mense sê: Suksesvolle ouerskap kan gemeet word aan ouers se reaksie wanneer hul kinders foute maak.
Om foute te maak, is ’n normale deel van elke mens se lewe: Jy doen iets op ’n manier wat jy dink reg is – en dan werk dit nie so uit nie. Jy stamp per ongeluk aan iets – en dit breek. Almal kom dit oor.
Tensy die kind se fout gaan lei tot ’n besering aan ’n mens of ’n dier, mág ’n ouer maar terugstaan wanneer ’n kind fouteer.
Ouers moet weet: Om foute te maak, is nie dieselfde as om ongehoorsaam te wees nie. En dis nie ’n doelbewuste keuse om dinge te doen wat jy weet verkeerd is nie.
Gun jou kinders die foute wat hulle maak!
Daar is kenners wat reken dat om foute te maak een van die beste leermeesters is wat ’n kind maar kan hê. En dat ons ons kinders hul foute behoort te gun. ’n Mens leer uit jou foute, en só ontdek jy wysheid wat jou voortaan goed te pas gaan kom.
Ja, dis pynlik om te sien hoe jou kind swaarkry of teleurgestel word. Maar hierdie soort teleurstelling lei dikwels juis tot die soort groei wat bydra tot hul lewenslange geluk.
Dr Dinelle Faul, ’n kliniese sielkundige in Vereeniging, sê: “Wanneer ons ons kinders toelaat om foute te maak, leer hulle om deursettingsvermoë aan die dag te lê en om met nuwe planne vorendag te kom. Só leer hulle uiteindelik ook om te voltooi waarmee hulle begin het. Om nie op te gee wanneer dit lyk asof dinge nie reg uitwerk nie.”
Dr Siegfried Louw is ’n predikant en ’n spelterapeut in Kaapstad. Hy sê: “Die wyse waarop jy jou kind se foute hanteer, stuur ook ’n belangrike boodskap uit oor wat jy oor jou kind se vermoëns glo. Wanneer jy jou kind toelaat om iets self te probeer doen, foute en al, wys dit dat jy sy/haar pogings om ’n taak te verrig as goed genoeg ag.
“In die proses leer jou kind wat dit beteken om verantwoordelikheid te aanvaar en hoe om teleurstellings te verwerk.”
Gebruik die geleentheid!
Wanneer kinders ’n fout maak – soos om per ongeluk ’n glas koeldrank te laat val – skrik hulle, en hulle verwag om raas te kry. Wanneer die ouers dan oorreageer deur kwaad of ongeduldig te word, kry die kinders ’n boodskap dat hulle foutloos moet optree. Perfek met alles wat hulle doen.
Dinelle sê: “Sulke ouerlike reaksies maak die kinders oorversigtig, dit perk hul waagmoed in, hul eiewaarde ly daaronder en hul selfbeeld bly in die slag. Hulle word gou moedeloos wanneer hulle nie die heeltyd daarin slaag om alles suksesvol te kan doen nie.
“Dit is dus baie belangrik dat ouers kalm bly en nie die kind laat skuldig voel wanneer hy of sy foute maak nie. ‘Normaliseer’ dit eerder deur iets te sê soos: ‘Dit was ’n blote ongeluk.’
“Help jou kind dan om ’n oplossing te vind vir die skade wat op die fout gevolg het. Kinders dink nie altyd aan alternatiewe planne om foute reg te stel nie. Maar met sulke ouerlike begrip kry hulle die geleentheid om nuwe probleemoplossingsvaardighede aan te leer.”
Siegfried voeg by: “Ondersoek die redes vir die fout of mislukking saam met jou kind.
“Vra vrae wat jou kind kan help om rustig aan die gebeure terug te dink. Is daar iets wat hy of sy anders sou kon doen? Besin saam met jou kinders oor hoe hulle dit volgende keer dalk anders kan aanpak.”
Die angstige kind
Sommige kinders is meer geneig tot perfeksionisme – en die dikwels gepaardgaande angstigheid – as ander. Hulle hoor ook hoe volwassenes in hul omgewing hulleself verwyt oor die foute wat húlle gemaak het. Sulke negatiewe selfspraak word baie maklik deur ’n kind aangeleer.
Siegfried sê: “Ouers moet ook onthou dat kinders baie sensitief is vir ons liggaamstaal.”
Dinelle voeg by: “As jy ongeduldig, kwaad of angstig raak, maak dit angstige kinders nog meer só. Hou jou stemtoon kalm en praat sagter en stadiger. Dit dra die boodskap oor dat jy nie kwaad is nie en help om die kind kalmer te laat voel.
“Moedig jou angstige kind aan om ’n gesonde perspektief te behou. In ’n Nike-advertensie vertel die beroemde basketbalspeler Michael Jordan hoe hy meer as 9 000 doelskote in sy lewe verbrou het, hoe sy span byna 300 wedstryde verloor het. En hoe hy 26 keer die doelnet gemis het wat sy span elke keer die wedstryd gekos het.
“Dan voeg hy by: ‘Ek het oor en oor misluk – en dit is waarom ek sukses behaal het.’”
Die onverskillige kind
’n Kind wat totaal onverskillig oor sy foute deur die lewe gaan, loop ook die gevaar om niks daaruit te leer nie. Siegfried sê: “Om jou kinders toe te laat om foute te maak, beteken juis dat jy hulle help om verantwoordelikheid vir die gevolge daarvan te aanvaar.
“Hou jou kinders dus verantwoordelik vir die gevolge van hul foute, want dis uiteindelik hoe dit in die lewe werk. En onthou: Gevolge is iets anders as verwyte of straf.
“Soms neem dit ’n rukkie vir kinders om te begryp wat die verband tussen oorsaak en gevolg is. Dit mag wees dat ’n roekelose kind bloot die regte soort leiding kort om in te sien watter optredes of omstandighede tot ongewenste gevolge lei.
“Help sulke kinders deur vooraf twee of drie scenario’s te skep waaruit hulle hul optrede kan kies. Deur met keuses te werk, leer kinders selfbeheersing aan. En begin hulle om hul eie gedrag aan te pas.”
Laat los!
Menslike foute het al tot besonderse ontdekkings gelei: Een van die grootste mediese deurbrake ooit is deur Alexander Fleming gemaak toe hy vergeet het om sy navorsingsapparaat skoon te maak voordat hy met vakansie is. Toe hy terugkom, het skimmel in die apparaat ontwikkel – en daaruit is die wêreldbekende penisillien ontwikkel!
Mihaly Csikszentmihalyi skryf in sy boek Flow oor wêreldwye navorsing rakende geluk en tevredenheid. Volgens hom is daar twee dinge wat mense gelukkig en tevrede laat voel: Jy moet uitdagings in jou lewe hê wat jy voel binne jou bereik is. En jy moet uiteindelik hard werk en konsentreer om daardie uitdagings suksesvol af te handel.
Siegfried sê: “Dit lyk asof ons brein gerat is om te wil probeer, om ons bes te doen én om dit uiteindelik reg te kry.
“Wil jy dus hê jou kinders moet gelukkige, vervulde mense wees?
“Gee hulle dan die voorreg om uitdagings aan te pak, en om dit met hul eie gawes en inisiatiewe te voltooi.
“Kortom: Laat hulle toe om te skyn!”
Siegfried gee ’n klompie wenke oor hoe om angstige kinders te help:
- Spreek jou bewondering of waardering uit vir die feit dat jou kind probeer het. Sê iets soos: “Enige projek of taak is ’n risiko, want ons weet nie vooraf wat gaan gebeur nie. Tog het jy probeer. Mooi so!”
- Verduidelik aan jou angstige kind dat wanneer jy met ’n taak of projek misluk, dit nie beteken dat jy self ’n mislukking is of dom is nie. Dit beteken bloot dat daardie plan nie gewerk het nie.
- Luister wanneer jou kinders praat oor watter aspekte van die mislukking hulle angstig maak. Weet (en sê) dat ook hierdie angstigheid in orde is, want enige mens is bang om foute te maak.
- Help jou kind om groot take in kleiner takies te verdeel. Soms is ’n groter projek oorweldigend, maar die kleiner stukkies lyk meer haalbaar. Help jou kinders om gereeld te sien hoe hulle vorder.