“Die twee grootste laagtepunte in my lewe was al twee aan die einde van my donker reis as verslaafde. Die eerste was toe my geliefde ouers my opgespoor het nadat ek as vermis aangemeld is. Ek was in daardie stadium by kriminele aktiwiteite betrokke. Daardie dag het my ouers hul respek vir my verloor.”
Só vertel Brescia Bianco-Badenhorst. Sy is 43 jaar oud.
“Die tweede laagtepunt was toe ek vir die eerste keer my voete in ʼn rehabilitasiesentrum gesit het. Ek het ʼn weersin in myself beleef. Ek was verstom om te besef tot watter vlak ek gedaal het.
“Al is ek vandag 43 jaar oud, beskou ek die afgelope 21 sober jare as my werklike leeftyd. Dis nie net ʼn mylpaal nie, maar ook ʼn erkenning van wie ek was en wie ek uiteindelik gekies het om te wees. Dis ʼn blywende simbool van hoop en transformasie.”
LEES OOK: Dwelmverslaafde, bosslaper, dief: ‘Sonder God is dít weer my voorland’
Brescia en haar gesin woon tans in Heidelberg, Gauteng. Sy het twee seuns, Noa (10) en Rayne (16). Sy het haar man Renier ontmoet nadat sy uit die rehabilitasiesentrum gekom het. “My gesin is my veilige plek,” sê sy. “Hulle ondersteuning is grensloos.”
Vele geliefdes se selfdood
Brescia vertel dat sy in ʼn Christelike huis grootgeword het. Sy was maar vier jaar oud toe haar pa homself om die lewe gebring het. Hierna is haar ma met ʼn predikant getroud, wat alles in sy vermoë gedoen het om die stukkende gesin weer aan mekaar te heg. Brescia sê: “Hy is onteenseglik my pa, in alle opsigte.
“My biologiese pa se broer Ricardo was nou betrokke by ons ná ons verlies. Maar ook hy het later sy eie lewe geneem. So ook my geliefde broer Armando. Hierdie trauma het baie diep letsels gelaat. Ons was altyd gespanne oor Armando se welstand, en ons het eintlik gewag vir daardie gevreesde nuus dat hy homself om die lewe gebring het. Hy het my pa se selfdood nooit verwerk nie.
“Boonop het hy met ʼn bipolêre gemoedstoornis geworstel. Hy was ook ʼn verslaafde. Armando se lewe is gekenmerk deur oomblikke vol hoop – wat weer deur ʼn diep donkerte gevolg is.”
Ook haar ouma aan vaderskant het haar eie lewe geneem.
“Ek is daarvan oortuig dat ʼn mens openlik oor geestesgesondheid moet praat sodat ander hierdie innerlike stryd kan begryp.”
Gebrekkige emosionele gesondheid het ʼn groot impak op Brescia en haar familie gehad. Alhoewel sy volle verantwoordelikheid vir haar verslawing aanvaar, reken sy tog dat ʼn kombinasie van genetiese faktore en negatiewe omstandighede haar weerloos gelaat het. Aan die een kant was daar ʼn familiegeskiedenis van selfdood, alkoholisme en depressie. En aan die ander kant die enorme verlies van haar pa, haar oom, haar ouma en haar broer.
‘Kyk mooi oor die Feestyd!’
“Die Feestyd is om die draai,” sê Brescia. “Dis ʼn tyd van nadenke – soms oor goeie dinge, maar soms is dit traumaties. Soms bring dit soveel pyn mee. En daar is dikwels ʼn onvermoë om dit te verwoord. Wees bedag op jou geliefdes se gedrag en emosies in dié tyd.
“Ek het as tiener buite die spreekwoordelike lyne begin beweeg. Ek was ʼn rebel, want ek het in ʼn pastorie gewoon en die gemeenskap se oë was op my. Ek het saans uitgeglip en saam met vriende gedrink en gerook. Ek kon nie wag om vry te wees nie. Maar hiervoor sou ek ʼn duur prys betaal.”
Ná skool is sy na ʼn kunsskool in Pretoria. Maar haar gedrag het verder verswak. Sy het dikwels gedrink, sy wou aanvaar word. En sy het steeds die letsels gedra van ʼn tyd toe sy op skool geboelie is.
Later het sy haar studies by ʼn filmskool in Johannesburg voortgesit. Maar hier het die spiraal van selfvernietiging skerp afwaarts geneig. Dagga, “magic mushrooms”, kokaïen, khat en ecstacy het haar lewe oorgeneem. Dit was ʼn lewe wat uit dwelms, klubs en “hard” kuier bestaan het.
Toe sy uiteindelik aan heroïen blootgestel is, was sy nie meer Brescia nie.
“Verslaafdes is vernuftige manipuleerders,” sê sy vandag. “Jy wil nie altyd iemand anders seermaak nie, maar jy is desperaat om toegang tot dwelms te verkry, ten alle koste.
“Ek het my besittings verkoop, ek het gesteel, ek het bedrog gepleeg. Ek het op ʼn keer selfs van ʼn vals identiteit gebruik gemaak. Ek was voortdurend bekommerd dat ek nie meer dwelms sou kon kry nie. Ek het alle kontak met my ouers verbreek, en later gehoor hulle het my as vermis aangemeld.”
‘Daar is hoop’
Nadat haar ouers, vergesel deur ʼn speurder, haar opgespoor het, was daar talle kriminele klagtes teen haar waarvoor sy verantwoording moes doen.
Haar ouers het haar huis toe geneem, en die volgende dag het sy gesê dat sy gereed is om gehelp te word. Sy is na die Elim-rehabilitasiesentrum in Kempton Park. Hier het ʼn nuwe, lang reis begin, uitmergelend na liggaam en gees.
Tans is sy steeds by hierdie sentrum betrokke. Sy is besig om ʼn nie-winsgewende organisasie op die been te bring wat minder gegoede pasiënte met rehabilitasie wil bystaan.
Sy kyk terug op haar pad en sê: “My reis met God in dié tyd is deur groot veranderings gekenmerk. Aanvanklik was ek totaal van God vervreem. Ek het dikwels gewonder hoe Hy iemand soos ek kan liefhê.
“Vandag het ek ʼn diep verhouding met die Vader. Elke keer as ek terugkyk, besef ek hoe God my gedra het. Dit is net deur sy genade dat ek vandag nog leef. Dat ek my storie kan vertel.”
Brescia sê sy het ʼn persoonlike boodskap vir dié wat met verslawing worstel: “Jy is nie alleen nie en jy is nie verlore nie. Herstel is nie ʼn vinnige opsie nie; dit sal nie maklik wees nie. Maar daar is mense wat die pad saam met jou sal stap sonder om jou te oordeel.
“As jy nie weet waar om te begin nie, soek hulp. Jy sál dit kry. Die eerste stap is dikwels die moeilikste.
“Maar verslawing definieer jou nie. Laat God jou hand vat en jou na ʼn nuwe lewe lei. Daar is hoop, veel meer en veel groter as wat jy kan dink.
“Geen donker plek is te diep vir God nie.”
Raad vir verslaafdes se naasbestaandes
- Wees geduldig en toon begrip.
- Stel ononderhandelbare grense.
- Moedig die verslaafde aan om professionele hulp in te roep.
- Sorg vir jouself.
- Verstaan dat verslawing nie ʼn lineêre proses is nie.
Let hierna op as jy onraad vermoed
Gedragsverandering en buierigheid
Wanneer die betrokkene eensklaps baie geïrriteerd of buierig word, kan dit op ʼn probleem dui.
Liggaamlike tekens
Gewigsverlies of gewigstoename; rooi oë; bewerigheid; geneigdheid om te veel te slaap; skielike slapeloosheid.
Belangeloosheid
Wanneer die betrokkene se werk, gesin en familie, en stokperdjies skielik afgeskeep word.
Finansiële probleme
Dié mense vermy gesprekke oor geld. Soms het hulle groot bedrae kontant in hul besit wat nie verklaar kan word nie.
Leuens, en die verwydering van bepaalde situasies
Verslaafdes jok maklik, of hulle verdraai die waarheid. Hulle verdedig hul gedrag of hul omstandighede. Hulle sal ʼn situasie minimaliseer of ontken.
Die naasbestaandes moet begryp dat hul geliefde siek is en professionele hulp moet kry. Terselfdertyd moet diegene wat na aan die verslaafde is hulleself beskerm en grense stel. En proaktief wees in hul ondersteuning.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.