Jy bestee graag jou geld op mooi dinge, wat nie noodwendig noodsaaklik is nie. Jou maat, daarenteen, draai elke sent drie keer om voordat hy iets koop. Hoe nou gemaak? Kan jy by sy sogenaamde geldpersoonlikheid aanpas, en hy by joune? En wat van elkeen se geldstorie?
Geldsake in verhoudings
Hoe julle twee onderskeidelik oor geld dink en oor hoe julle dit wil uitgee, hoef nie jul verhouding seer te maak nie. Só sê geld- en verhoudingskenners.
Dit is wel so dat geldsake, soos enigiets anders in jul verhouding, harde werk verg as julle dit só wil bestuur dat albei partye tevrede en gelukkig bly.
Julle het egter nodig om eerstens te verstaan watter soort geldpersoonlikhede hier ter sprake is voordat julle jul benadering tot uitgawes, spaar en beleggings kan aanpas.
Volgens die finansiële nuuswebwerf Investopedia bestaan daar, breedweg gesproke, vyf geldpersoonlikhede:
- die belegger
- die spaarsamige
- die groot besteder
- die skuldmaker
- die “ek hou van koop”-persoonlikheid
– Laasgenoemde twee, die skuldmakers en die “ek hou van koop”-mense, is geneig om meer geld uit te gee as wat hulle per maand inkry.
– Die beleggers en die spaarsamiges se onderskeie persoonlikhede kan oorvleuel wat die bestuur van huishoudelike geldsake betref.
– Die “ek hou van koop”-mense en die groot besteders het dikwels ook heelwat in gemeen, maar laasgenoemdes is geneig om hulle nie aan skuld te steur nie. Eersgenoemdes en die “ek hou van koop”-mense, sal dalk baie tyd daaraan afstaan om winskopies te jag.
Ons geldstorie
Die verhoudingskenner en radio- en TV-persoonlikheid Leah Safor sê dat ons elkeen ’n geldstorie het. “Baie keer is ons skaam oor ons geldsake,” sê sy. “Ons is verleë daaroor en wil nie daaroor praat nie.
“Sommiges het nie ’n voorbeeld van ouers ontvang wat hul geld wys bestuur het nie. Of daar is eenvoudig nooit oor geldsake in die huis gepraat nie. Om hierdie redes voer ons dan ook nie geld-gesprekke met ons lewensmaat nie.
“Ons geldstorie word reeds in ons kinderjare gevorm, wanneer ons leer deur dit wat ons in ons ouerhuis sien. Dit lê die grondslag vir ons finansiële waardes, en vir die wyse waarop ons geldsake benader wanneer ons volwassenheid bereik.”
Leah sê ’n mens moet ’n slag oor jou geldstorie nadink, en jy moet jou maat aanmoedig om dieselfde te doen. “Vra vrae aan jouself en aan mekaar, soos: Wat is jy oor geld geleer? Is jy bang vir geld? Respekteer jy dit? Geniet jy dit? En hoekom so, of hoekom nie?
“Deur mekaar se stories en waardes te verstaan, kan die manier verander waarop julle teenoor mekaar reageer wanneer uitgawes of spaar ter sprake kom.”
Ons drome en verwagtings
Christelle Louw, senior adviesvennoot by Citadel Beleggingsdienste, sê swaar verdiende geld moet versigtig bestuur word in ’n verhouding. En met die nodige respek vir jou maat.
“Jy wil nie jou huwelik laat verbrokkel deur iets so bestuurbaar soos jul finansies nie.
“Dit vereis egter oop en eerlike kommunikasie tussen jou en jou maat. Ons almal leef met drome en verwagtings van hoe ons wil leef, in watter woonbuurt ons wil bly, na watter skool ons kinders moet gaan, en watter soort opvoeding ons vir hulle beplan. Ons droom oor ideale vakansies, oor mooi klere en treffende dekor vir ons huis.
“Om dus te verseker dat jou kosbare verhouding nie skade ly oor iets soos finansies nie, is dit nodig om hieroor met jou lewensmaat te praat.”
“Behalwe dat mense se onderskeie geldpersoonlikhede verskil, verskil mense ook in hul bestedingsgedrag. Die rede hiervoor is dat hulle dikwels hul onderskeie inkomstes op verskillende wyses ontvang. Die meeste inkomsteverdieners ontvang ’n inkomste wat soos een of meer van die volgende lyk:
1. ’n salaristrekker met ’n maandelikse inkomste en dalk ’n bonus;
2. ’n kommissie-inkomste wat ongereeld en ongelykmatig is;
3. ’n enkelbedrag-inkomste wat elke dan en wan ontvang word. Hier is ’n eiendomsagent ’n goeie voorbeeld.”
Christelle gee die volgende wenke oor hoe om geldsake te benader as jul onderskeie geldpersoonlikhede van mekaar verskil.
Hoe om geldsake te benader:
- Almal het verskillende behoeftes en prioriteite wat geld betref. Maak seker dat jy en jou maat mekaar se behoeftes verstaan. Dit mag wees dat jy mooi dinge wil koop, en dat jou maat oor die huisverband bekommerd is. Dat jy dalk nie bewus is van die spanning wat die verhoogde rentekoerse tans meebring nie.
- Praat oor jul onderskeie drome en verwagtings – waar julle wil woon; hoeveel kinders julle beplan om te hê; op watter manier julle wil vakansie hou; opvoeding vir jul kinders; voertuie en reiskoste; en of julle ’n verpligting het om jul ouers te versorg.
- Dis baie belangrik om uitgawes, ook wat bogenoemde betref, neer te skryf. Om dan saam ’n begroting op te stel. Elkeen moet weet wat sy of haar finansiële verpligtinge in die huwelik is. Maak seker dat die indeling van verantwoordelikhede prakties is, gegewe jul onderskeie inkomste.
Praat, praat, praat
Volgens Leah is kommunikasie ’n sleutelfaktor. “Huweliksmaats moet hul onderskeie drome en visies met mekaar deel. Daar moet gesprekke wees soos: ‘Ek wil aanstaande jaar graag weer begin studeer. Kan ons dit op ’n manier by ons spaarplan inreken?’
Of: ‘Ek wil graag my fiets opgradeer vir ’n spesiale wedren wat oor ses maande plaasvind. Kan ons dalk die nuwe kombuis ’n rukkie uitstel?’
Of: ‘Ons wil graag aanstaande jaar oorsee vakansie hou. Watter opofferings verg dit van ons om dit te kan bekostig?’
“Deel in mekaar se drome, ondersteun mekaar daarin. En prioritiseer jul finansies om daarvoor voorsiening te maak. Om saam aan ’n toekoms te kan beplan, het julle immers geld nodig.
“Drome is wonderlik, maar dit sal nooit haalbaar wees as julle mekaar nie daarin ken en respekteer nie. Dan skep sulke drome eerder spanning en selfs konflik in jul verhouding.
“Prioritiseer die skep van duidelike finansiële planne sodat al twee se doelwitte bereik kan word.”
Ons twee se storie
Janine* en Ruan* se huwelik het byna in die skeihof beland omdat Ruan geen grense het wat geld uitgee betref nie.
Ruan is ’n tipiese groot besteder: Hy hou van spesifieke handelsmerke op sy klere; hy hou van die nuutste foefies en mode-items; sy selfoon moet van die beste wees.
En hy gee nie ’n duit om vir skuld maak nie. Hy besit byvoorbeeld meer as een kredietkaart. Hy wil ten alle koste byhou by die bure.
Janine, daarenteen, het ’n vrees vir skuld maak. Sy haat kredietkaartaankope, sy het nie klererekenings nie en sy kan elke maand aan ’n neseier bou.
Op ’n dag, ná drie jaar se getroude lewe, het sy eenvoudig haar tas gepak en by ’n vriendin gaan intrek. Dit was nadat Ruan ’n nuwe platskerm-TV vir R60 000 gekoop het.
“Ek kon net nie meer sy spandabelrigheid verduur nie,” het Janine gesê. “Dit het my begin walg, en dit het ondraaglike spanning veroorsaak.”
Uiteindelik het sy en Ruan besluit om by ’n huweliksberader aan te klop eerder as om skeihof toe te gaan.
Janine vertel: “Ons het besluit ons wil kyk of ons ons geldsake as ’n span kan bestuur. Ons berader het voorgestel dat alle uitgawes eers bespreek moes word. Ons moes ’n begroting opstel en daarby hou.
“Daaglikse geldgesprekke is nodig, al hoef dit nie altyd oor ernstige sake te wees nie. Soms praat ons bloot oor iets soos die verskil in die melkprys by twee winkels.
“Ek dink dit was vir my ’n aha!-oomblik toe ek besef het dat Ruan se ouers hom nooit toegelaat het om sy eie sakgeld te bestuur nie. Hulle was baie streng, en nou het hy op ’n manier daarteen in opstand gekom.
“Ek het heel anders grootgeword. My ouers het gereeld gepraat oor hoe ons kan geld wegsit om vakansie te hou; oor hoe ’n mens nie méér uitgee as wat jy inkry nie; en oor hoe die aandelemark werk.
“Tot dusver gaan dit goed met ons, met ons verhouding én met ons geldsake. Ons gaan spreek die berader steeds so een keer per maand, en ons volg getrou haar raad.”
*skuilname
Lees nog artikels oor die huwelik en verhoudings.