“God is groot! Loof Hom!”
Dié kommentaar van ’n anonieme kyker is by verre die woorde wat by die meeste kykers opgekom het ná hulle na video’s op LiG se nuwe YouTube-kanaal LiG: God se krag in my krisis gekyk het.
“Amen. Ons dien ’n God van wonders,” was weer Adele Pratt se kommentaar op episode 28. In dié episode getuig Eileen Smit van die Strand hoe sy wonderbaarlik herstel het nadat hartchirurg Chris Barnard sowat 60 jaar gelede aan haar ouers gesê het dat Eileen nie ouer as 16 sal word nie.
Dié YouTube-kanaal is die afgelope drie maande deur sowat 52 000 mense besoek om die inspirerende visuele getuienisse te kyk.
“By LiG het ons vinnig besef die stories van gewone mense, wat getuig van hoe God hulle deur swaarkry en pyn gedra het, is dié stories wat die meeste harte raak. LiG: God se krag in my krisis is gewortel in 2 Korintiërs 12:9: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is …’ Met dié kanaal sien ons met elke episode hoe hierdie Bybelvers gestalte kry in mense se lewe,” vertel Conette le Roux, LiG-webredakteur en mede-inhoudsvervaardiger van die kanaal.
Die episodes wat tot dusver die meeste gekyk is bestaan uit getuienisse van ’n 11-jarige kankerheld, ’n brawe ma wat God ontmoet het op die moeilike pad tot haar 4-jarige se afsterwe en ’n man wat ’n aanval en 15 messteke oorleef het. Andrew de Vries vertel dat hy ’n wonderlike ervaring gehad het toe hy in die hospitaal vir sy lewe geveg het: “In my geestesoog het ek goue vuurwerke gesien wat hemel toe skiet. Ek het besef die Vader wys vir my die baie, baie smeekgebede van medegelowiges wat vra dat my lewe gespaar word.”
Maar daar is ook vele ander inspirasieverhale. Jaaco Rademeyer, bekende eiendomsentrepreneur van Stellenbosch, vertel van sy destydse “rock star”-leefstyl toe die drank vrylik en sonder ophou gevloei het. Die keerpunt was toe sy sussie se troudag amper deur sy manewales bederf is. Hy deel die moeilike pad van rehabilitasie en weer aanpas in sy werksomgewing tot waar hy vandag 15 jaar sober is.
Dan is daar ook Marnus Coetzee se getuienis van hoe ’n 2,5 ton-trekker op hom beland het, en hy gewag het om te sterf. Tot hy Jesus se naam begin uitroep het en ’n rits wonderwerke sy lewe gered het.
- Klik hier om die 37 video-getuienisse, wat tot dusver opgelaai is, te gaan kyk.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.