Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God is nie die storm nie; Hy is die Een wat met ons saamloop,” en 21 ander lewenslesse

Die lewe is vol lesse, en dis ons verantwoordelikheid om dit raak te sien en iets daaruit te leer. Ek deel graag die lesse wat ek op my lewenspad geleer het met ander. Soms maak dié lesse seer; ander kere is dit goed om dit te leer.

Hier is 21 lesse wat ek die afgelope ses maande geleer het:

1. Moenie die kans laat verbygaan om aan ’n ander mens te sê jy is lief vir hom of haar nie. Die lewe is kort!

2. Mense onthou hoe jy hulle laat voel het. Eerste indrukke is blywende indrukke.

3. Spaar soveel jy kan. Draai daardie sente om. En al frustreer die winkel se Smart Shopper- of Xtra Savings-kaart jou, die R5 wat jy spaar, is ’n waardevolle R5.

4. Skryf jou wagwoorde neer. Dan hoef jy nie agteroor bollemakiesie te slaan om dit te probeer onthou of te herwin nie, of daarna te soek totdat die perde horings kry nie.

5. Staan op wanneer jy iemand anders groet. Dit wys dat jy daardie persoon se waardigheid erken. Ons het galante here en dames nodiger as ooit.

6. Ons mág maar huil; trane is seep vir die siel. Maar ons mag nie moed opgee nie.

7. “Nee” is ’n volsin. Geen verdere verduideliking is nodig nie. Jy mag “nee” sê.

8. Om so af en toe in die middag te dut is geen swakpunt nie. Die wetenskap het bewys dat dit wonders vir die liggaam verrig. Dit bevorder selfs jou gesondheid. Maar hou by so 40 minute op ’n slag.

9. Glimlag en lag. Die wêreld het oorgenoeg nors en negatiewe mense. Jy en jou positiwiteit kán ’n verskil bring in iemand anders se dag.

10. Waai vir dié wat verby jou draf of fietsry wanneer jy in jou motor ry. En wees dankbaar dis nie jy wat nou draf of fietsry nie.

11. Geestesgesondheid is nommer 1, 2 én 3 op jou prioriteitslys. Slegs jy is daarvoor verantwoordelik. En as daar probleme kom, gaan soek hulp!

12. Dis goed om te oefen. Al stap jy om jou huis of dans op jou gunstelingwysie of -liedjie. Maak ’n slag daardie hartklop vinniger. Om gewig af te skud is moeiliker as om dit by te voeg.

13. God se tyd en my en jou tyd sal nie altyd met mekaar ooreenstem nie. Maar Hy weet beter, altyd. Iemand het eendag gesê: “God is mightily slow, but never late.”

14. Maak seker van jou feite. Google; blaai in die woordeboek; kyk in die Bybel. Maar maak eers seker voordat jy iets oorvertel. Anders lyk jy dalk dom – en almal lag agter jou rug.

15. Jou verhouding met God, met jou man of vrou, en met jou kinders is die drie belangrikste verhoudings in die wêreld. Pas dit op soos die skat wat dit is. 

16. Maak seker ’n maatskappy bestaan werklik voordat jy toelaat dat hulle jou yskas oplaai om te gaan herstel. Dalk sien jy jou yskas nooit weer nie. (Soos dit inderdaad met ons gebeur het.)

17. Wees versigtig met wie jy jou hart se dieptes deel.  

18. Maak gereeld seker dat jy en jou maat op dieselfde bladsy is. Dis so maklik om verby mekaar te leef. Moenie toelaat dat dit gebeur nie. Bid dat God julle aan mekaar sal vasbind.

19. As jy val, val jy nooit verder as jou knieë nie. Daar kan jy jou “oopmaak” vir God die Almagtige, en Jesus, sy Seun.

20. Leef die leuen dood. As iemand iets sê wat onwaar is, lééf dit dood.

21. Alles sál oukei wees. Ons dien ’n God wat goed bekend is met al ons planne.

22. God is nie die storm nie; Hy is die Een wat saam met ons in die storm loop.

  • Dr Nico Smit is ’n leraar en kliniese berader by Dalpark-gemeente aan die Oos-Rand, waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.