Ons word ons lewe lank deur God se Gees gelei. Jy wonder dalk dikwels, hoe hoor ek God se stem? Maar dit verander niks aan die feit dat Hy ons elke dag leer wat ons oor Jesus en oor die Bybel moet weet nie. Kom ons luister!
Jare gelede vra ’n prediker: “Wie is ons belangrikste leermeesters?”
Ek het dadelik die antwoord geken. “Dis al my foute,” het ek gedink.
Want in daardie dae moes ek gedurig hoor: “Jy moet leer uit jou foute!” Ek het later gedink ek moet aanhou foute maak sodat ek kan aanhou leer.
Toe onthou ek dat my ouerhuis darem ook ’n goeie leerskool was …
Hoe hoor ek God se stem? Deur die Bybel
Die prediker het met ’n volgende retoriese vraag losgetrek: “Is die Bybel ons leermeester?”
Om my het die koppe op en af geknik.
Ek was egter nie so seker nie.
Van kleins af het ek geweet die Bybel is God se Woord, en ek is geleer dat ek op die Woord moet “staan”. Maar dit was omtrent al wat ek van die Bybel geweet het.
Nie eens die Sondagskool het my gehelp om af te klim van my rondstanery op die Bybel nie. Ek is deur twaalf jaar se kategese sonder om ooit ’n enkele Bybelboek beter te leer ken.
In Pinkstertyd het ek gehoor die Gees praat met ons deur die Woord, maar ook dit het my nie te veel gehelp nie. Dit was tog net ons dominee wat op ’n Sondag ’n paar gepaste verse uit die Bybel kon opdiep …
En darem my oupa-hulle ook: Daar was so ’n houertjie op die bedkassie en dié was vol Bybelversies op stewige papier getik. Elke dag kon hulle ’n “vers vir die dag” daaruit haal.
O, en daar was ’n tannie by ons kerk wat soms gesê het sy “het Skrif gekry”.
Ek was egter nooit so bevoorreg nie. Die Bybel het vir my altyd ver gevoel, geheimsinnig, ontoeganklik.
Hoe hoor ek God se stem? In God se skatkamers
Dit was eers toe ek teologie gaan studeer het dat ’n splinternuwe wêreld vir my oopgegaan het.
In daardie tyd het ek ’n baie groot geheim ontdek en dit het my lewe vir altyd verander: Ek het ontdek dat God die Bybel in boekvorm aan ons gegee het, nie in versvorm nie. Ek het geleer dat Bybelverse, soos ons dit vandag ken, eers teen die sestiende eeu hul opwagting gemaak het in Bybelvertalings.
Van toe af het ek begin om die Bybel te verslind – boek vir boek en hoofstuk vir hoofstuk. Ek het dit op dié manier bestudeer, oordink, dit alles ingedrink.
Wat ’n lewensveranderende ontdekkingsreis was dit nie! Dit het vir my gevoel ek het die aardse skatkamers van die Allerhoogste ontdek.
Hoe ryk is ek nie van toe af nie – skatryk!
Nog ‘n tweede ontdekking in die Woord se skatkamers was dat die Heilige Gees altyd teenwoordig is wanneer ons die Bybel lees.
Die Bybel is die Gees se lewende boek. Dis sy skerp swaard. Hy stel God aan die woord in die Woord. Hier praat Hy van boek tot boek, en in twee testamente.
Dus, hoe hoor ek God se stem? Hy praat die duidelikste deur Jesus, die mensgeworde Woord.
Daar het ook ’n derde aardskuddende ontdekking gevolg: Ek het ontdek dat wanneer ons tyd in die skatkamers van die Woord deurbring, ons hart die skryfpapier van die Heilige Gees word.
Dit is wat Paulus ons in 2 Korintiërs 3 leer. Die apostel vertel daar van die Gees se ou én nuwe skryfmateriaal. Van hoe God se wet in Moses se tyd nog op klip gegraveer was. Maar dit het nie regtig gewerk nie, want Israel se hart en kop was ook van klip.
Gelukkig het die Heilige Gees se tyd aangebreek. Toe die Gees op Pinksterdag uitgestort is, het Hy dadelik begin om nuwe skryfmateriaal te gebruik.
Sedertdien skryf die Gees op God se kinders se hart. Ons is nou lewende briewe van Christus. Terwyl ons die Woord lees en oordink en uitleef, skryf die Gees dit oor – in ons.
Ons is Geesdeurdrenk
In die goudmyne van die Woord het ek die Gees persoonlik raakgeloop.
Of, wag, dit werk net mooi anders-om: In die Woord se skatkamers het Hy kom wys Hy is aan elkeen gegee wat bely dat Jesus die Here is (Rom 8:9). Hy maak ons deel van God se nuwe volk en van sy nuwe liggaam hier op aarde (1 Kor 12:13). Boonop gee Hy aan ons verskillende geestelike geskenke (oftewel genadegawes) waarmee ons God dien en waarmee ons mekaar se geloof opbou (1 Kor 12–14).
Die Gees is ook die hemelse binnenshuisversierder: Hy omskep ons in ’n lewende tempel van God (1 Kor 3:16; 6:19). Hy sorg dat ons God se heerlikheid meer en meer weerkaats (2 Kor 3:17-18).
Ons is dus nou, van kop tot tone, Gees-deurdrenk, Gees-versier en Gees-beskilder.
Daarom bid ons elke dag dat die Gees ons met sy hemelse teenwoordigheid sal vul (Ef 5:18-20). Dan groei die regte vrug in ons lewe, daardie vrug wat God verheerlik (Gal 5).
’n Nuwe leermeester met ’n nuwe sillabus
Van skattejagte in God se Woord gepraat: Die grootste waarheid wat ek die afgelope tyd oor die Gees ontdek het, is dat Hy ook ons voltydse nuwe leermeester is. En dat Hy ’n splinternuwe sillabus volg.
Dit leer Jesus ons in Johannes 14–16 wanneer Hy praat oor die Gees as ons spesiale helper. Jesus sê dat die Gees alles wat Hy (die Gees) by Hom (Jesus) hoor ook vir ons sal leer (Joh 14:24).
Hy sê dit later weer: “Wanneer die Gees van die waarheid kom, sal Hy julle in die volle waarheid lei. Hy besluit nie self wat Hy vir jul-le gaan sê nie, maar lei julle volgens wat Hy gehoor het. Hy sal ook vir julle uitlê wat nog moet gebeur. Hy sal dit wat Hy van My kry, aan julle verkondig en so wys hoe groot en be-langrik Ek is” (Joh 16:13-14, Nuwe Nuwe Testament-vertaling).
Presies dit wat Jesus oor die Gees beloof het, het vanaf die eerste dag in die gemeente in Jerusalem gebeur. Skaars is die Gees uitgestort, of ons lees in Handelinge 2 hoe die nuwe gelowiges deur die apostels onderrig is.
Sedertdien is Jesus ons almal se sillabus, ons leerplan. Die Gees vul ons woorde, ons dade en ons gedagtes met Jesus.
Waarom wonder jy dan nog, hoe hoor ek God se stem? Die Gees maak ons honger vir méér van Jesus. Die Gees laat ons Jesus se volmaaktheid najaag, asof ons dit kan gryp. Hy laat ons Jesus se kruis dra, Jesus se taal praat en Jesus se lewe naleef. Hy laat ons uitroep dat Jesus ons hele lewe is.
Hoe hoor ek God se stem? Ons leer mekaar
Daar is dus nou ’n voltydse nuwe leermeester in ons lewe – die Heilige Gees. Sy sillabus is Jesus. Sy studiemateriaal is die Woord.
Die Gees self is altyd by ons as ’n hemelse Tutor wanneer ons die Woord lees en naleef. Ons is voltydse studente van die Gees en sy Woord. Ons oordink dit dag en nag.
Ons glo Paulus wanneer hy in 2 Timoteus 3:16 sê die hele Skrif is deur God geïnspireer en deur sy Gees aangeraak. Daarom delf ons sommer self in die skatkamers van die Woord.
Maar ons hou nooit enige van hierdie hemelse skatte vir onsself nie. Alles wat ons in die Woord raakloop, deel ons met mekaar. En ons doen dit graag. Juis wanneer iemand anders vra, hoe hoor ek God se stem?
Ons leer dit wat die Gees ons leer ook aan ander. Ons doen wat Paulus vir Timoteus sê: “Jy moet heeltyd besig wees om vir mense uit die Bybel voor te lees. En om mense aan te moedig. En om hulle reg te leer” (1 Tim 4:13, Nuwe Nuwe Testament-vertaling).
Jesus het belowe dat strome lewende water uit ons binneste sal vloei wanneer die Gees uitgestort word (Joh 7:38).
Wel, ons leef nou in daardie dae. Die strome vloei. Dit reën hemelse seën.