“Sommige mense veroordeel geskeides. Die Bybel sê God haat egskeiding, behalwe waar owerspel gepleeg is. Maar ek weet ook Hy wil nie hê sy kinders moet goedsmoeds en aanhoudend seergemaak word nie.”
Só vertel Sonja Goldberg, wat dekades lank ’n grondslagfase-onderwyseres was. Vandag is sy ’n pastoor wat vol vreugde God se Woord in die kerk en deur radio-oordenkings en in haar oordenkingsdagboeke uitdra.
Sonja se worsteling met ’n ongelukkige huwelik en haar uiteindelike besluit om te skei was deel van ’n lewe vol groot uitdagings. In swaarkry-tye het sy egter ook die krag van gebed leer ken, soos toe haar jongste ná ’n moeilike swangerskap en problematiese geboorteproses byna dood is. Die spesialiste het sy herstel as ’n onverklaarbare wonderwerk beskryf.
Ek ken dit alles …
Hier is Sonja se verhaal in haar eie woorde:
Ná ’n huwelik van 21 jaar, met baie spanning en vol hartseer, het ek besluit om te skei. Ek ken dus die reuk van ’n hofgebou en die finaliteit van ’n egskeiding.
Ek ken die vernedering van elke vorm waarop ek moes skryf ek is ’n geskeide vrou. Ek, wat my lewe lank so lief is vir Jesus …
Wel, ek het drie wonderlike kinders. God het nog al die tyd ’n plan, het ek bly glo.
Maar ek ken die soort armoede waar daar net brood is, en ’n bottel melk in die yskas. Ek ken die vernedering om koevertjies met geld, ’n pakkie kos en ’n klompie tweedehandse klere te ontvang. Hoe goed die gewers dit ook al bedoel het.
Ek ken die skok as die molesteer-monster aan jou deur kom klop. Ek ken die seer wanneer geliefdes sterf – my ouers en my broer.
Ek ken opstandige tieners in die huis. En ek ken ’n baba wat tande kry en sukkel om te slaap, terwyl jy jou werk getrou en perfek moet kan doen.
Ek ken die eensaamheid van alleen wees terwyl gelukkige gesinne dinge saam doen. Ek ken die gevoel van mislukking, teleurstelling, kwaad wees, hartseer wees en depressie, wat my hart wou donker maak.
Ek ken die stremming op menswees wanneer jy probeer om jou kop hoog te hou en voor te gee dat dit goed gaan, terwyl jy weet jou hele bestaan lê by die huis aan skerwe.
Maar ek wil nooit klink soos iemand wat te na gekom is nie. Die Here het my deur alles heen nader getrek en my geleer om desperaat afhanklik van Hom te leef.
Hy het my ook geleer van vergifnis, van mense se goedheid, en van die groot voorreg om kinders te kan hê.
Die besef dat ek moet skei
Toe ons getroud is, het ek opreg geglo God het ons vir mekaar bedoel. Ons pad het egter op emosionele, finansiële en ander vlakke baie steil geword. Buiten die gewone “kom ons praat hieroor, kom ons bid saam,” het ons nege beraders in nege jaar besoek. Niks het egter verander nie.
Ten spyte daarvan dat ek voltyds én na-uurs gewerk het, het ons finansieel gesproke bitter swaargekry, aangesien ek die alleen-broodwinner was. Ek het ’n front voorgehou, maar (genadiglik!) het van my kollegas agtergekom iets skort en hulle het begin help waar hulle kon. Dit was vir my erg omdat ek niks kon teruggee nie.
Ek het geglo ek moes sorg; ons kon tog nie van aalmoese lewe nie!
“Here, vat hierdie pakkie,” het ek gebid – maar toe sukkel ek om Hom daarmee te vertrou. Vanweë my werk-ure moes my kinders my teenwoordigheid en emosionele sorg ontbeer. Dis verlore tyd wat ek nooit weer sal terugkry nie.
Mettertyd het ek besef dat dit nooit God se bedoeling was dat die vrou die versorger moes wees nie. Sy is haar man se helper, maar sy moenie die “pa” wees nie. Enkelma’s, dit weet ek, is in ’n heel ander posisie …
Die huwelik kan net werk as albei partye aan God gehoorsaam is, het ek gereken. Paulus skryf in 1 Timoteus 5:8: “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ’n ongelowige.”
Die eensame paadjie
Daardie jaar waarin ons geskei is, was my Here en my Bybel meer as ooit my anker. Ek was desperaat in my soeke na sy hulp. Hy was die Een by wie ek altyd kon skuil, kon veilig wees, kon geliefd voel.
God sélf het my gedra; ek het die bewys daarvoor: Wanneer ek Bybelstudie doen, merk ek die verse wat my op ’n spesiale manier raak. Ek doen dit in rooi of blou of swart, met die datum langsaan. In daardie jaar het ek ’n groen pen gebruik, en toe ek later die betrokke verse chronologies neerskryf, was dit vir my ’n openbaring. God het die pad saam met my gestap, met verse uit sy Woord.
Op die dag van die hofsitting het ek, byvoorbeeld, tydens my oggendstiltetyd Jesaja 51:7 gelees: “Die Here my God help my; ek sal nie teleurgesteld staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.” Asook Johannes 2:27: “… die Gees waarmee Hy jou gesalf het, bly in jou en jy het niemand anders nodig om jou te leer nie. Sy Gees leer jou alles, en wat Hy jou leer is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy jou geleer het, moet jy in die Seun bly.”
Ek het nie dié verse lukraak raakgelees nie; dit was gedeeltes wat uitgestaan het in die Bybelstudie wat ek soggens en saans doen.
Kosbare vriende het my finansieel gehelp om te skei; ander was elke dag daar met troos, bemoediging en gebed. Ek bid vandag graag vir ander mense, want dit was ander se gebede wat my gedra het toe ek gevoel het my bene gee mee onder my.
’n Egskeiding is die eensaamste paadjie wat jy kán stap, veral as dit jy is wat die besluit geneem het om te skei. Sekere kerke plaas jou onder sensuur. Sommige mense beskou dit as sonde en vermy jou. Ander weet bloot nie wat om vir jou te sê nie.
Ek het nie geld gehad vir sielkundiges nie. Ek was werklik slegs op Jesus aangewese. In die twee jaar ná my egskeiding het die Here my geleer wat totale vergifnis en oorgawe is, en daarom kon ek weer heel word.
My werk as grondslagfase-onderwyseres was vir my soos terapie. Dit het gehelp om my dae vol en besig te hou.
My daaglikse hulplyn was vriendinne wat Jesus intens liefhet. Hulle het my toegelaat om te praat, te huil of te kla. Hul gebede en moed inpraat was vir my ’n bewys van God se genade.
Een vriendin se man het gehelp om my finansies in orde te kry. Danksy hulle het ek ook geleer om my tiende vir God te gee, al het ek niks. Maand ná maand was God dáár vir my. Hy het voorsien soos nooit tevore nie.
’n Ander vriendin het gereeld kos gegee, so op ’n “ons-praat-nie-hieroor-nie”- grondslag. Vriende het vir my ’n kar gegee en nog iemand ’n wasmasjien. Wanneer daar nood was of ’n krisis opduik, het God ’n oplossing gestuur. Soms voor ek kon vra.
Ja, God is ons Voorsiener, en Hy gebruik mense om ons te help.
’n Droom word ’n werklikheid – ná 49 jaar
In 2024 is my droom om voltyds pastoor te word verwesenlik – ná 49 jaar. Ek wou reeds op skool graag ’n predikant word, maar toe ek in matriek was, is vroue nog nie op die kansel toegelaat nie. Daarom is ek onderwys toe.
Maar deur die jare was die Bybel my passie, en ek was voortdurend besig met die een of ander Bybelkursus.
Reeds voor my aftrede as onderwyseres het ek in die teologie begin studeer. En uiteindelik het God my in ’n gemeente geplaas om, saam met ander, voltyds vir Hom te werk. Ek voel so begenadig!
Ek geniet hierdie werk met my hele hart. Dis eintlik nie ’n werk nie; dis deelname aan die bou van God se koninkryk. Ek is oneindig dankbaar dat Hy my op hierdie ouderdom nog kan gebruik.
Die lewe het my geleer daar is altyd hoop op ’n beter môre. God gee altyd uitkoms vir dié wat aan Hom vashou. Kies daarom elke dag om Jesus Christus die hoof van jou hart te maak, en vertrou Hom dan blindelings.
- Sonja is jare ná haar egskeiding met Eddie Goldberg getroud. Sy was daarna ’n departementshoof vir die grondslagfase by ’n skool vir serebraal- en liggaamlik-gestremde leerders in Brackenfell, Kaapstad. Ná haar aftrede het sy die geestelike leier by FamilieKerk Bottelary geword. Hier is Eddie die leier van die musiekbediening. Sonja tree op as spreker en berader en gebruik graag ’n sandbak vir spelterapie-ingryping tydens berading.
- Sonja is die skrywer van drie oordenkingsdagboeke: Leef jou nuwe lied (NB-Uitgewers), wat sy saam met haar suster Elsa Winckler aangepak het; Kom saam: Inspirasie vir jou lewensreis (LUCA); en Kom saam: Wysheid vir jou lewensreis (LUCA).
- Sonja en Eddie behartig drie dae per week “Vroegoggend met Eddie en Sonja” op Radio Kaapse Kansel en sy skryf graag stukkies vir die YouVersion Bybel-toepassing. Van haar oordenkings word soms op RSG uitgesaai in die programme “Oggendgedagte” en“Aandgedagte”.
Webwerf: https://sonjagoldberg.co.za/
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.