Die beginsel van ‘n goeie rentmeester is dat ’n mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir wat jy ontvang en omsigtig daarmee moet werk, omdat jy eendag rekenskap moet gee oor hoe jy dit wat jy ontvang het, aangewend het.
Daar is ‘n toets of jy die beginsel van rentmeesterskap ten opsigte van jou persoonlike geldsake uitleef, deur ’n paar eenvoudige vrae aan jouself te stel.
Het jy ’n noodfonds?
Dit is seker dié belangrikste komponent van welvaartskepping. Beskou dit as die eerste steen wat in die fondament gelê word. Met noodfondse tot jou beskikking hoef jy nie skuld aan te gaan om onvoorsiene uitgawes te dek nie. Dit gee jou ook ’n beter kans om uit die skuldlokval te bly.
Hoeveel skuld het jy?
Wees bedag op jou aankope! Moenie goed koop wat jy nie nodig het nie en bly weg van duur handelsmerke as jy dit nie kan bekostig nie. Natuurlik kan jy jouself bederf, maar nie as jy skuld moet aangaan om dit te doen nie. Beskou ’n kredietkaart as ’n spaarwiel in uiterste nood (indien jy nie ’n noodfonds het nie), omdat die rente op hierdie terugbetalings baie hoog is.
Lenings moet slegs uitgeneem word om ’n bate te bekom wat jy aan die einde van die terugbetalingstermyn sal besit. Die meeste mense dink ’n motor is ’n bate maar onthou, die waarde van ’n voertuig wat daagliks gebruik word, daal oor tyd. As jy dus vir motorfinansiering moet aansoek doen, koop ’n voertuig wat voldoen aan die behoefte waarvoor jy dit wil gebruik en waarvan jy die paaiemente kan betaal sonder om vas te brand.
Spaar jy vir die toekoms?
Indien jy kinders het wat universiteit toe moet gaan, begin so vroeg as moontlik spaar, sodat jy genoeg tyd het om die nodige kapitaal vir hul studies bymekaar te maak. Dit is makliker om vroeër te begin en minder te spaar, as om later te begin en meer te moet wegsit, wat jou begroting onder druk kan plaas.
Dieselfde geld vir aftrede. ’n Finansiële adviseur kan jou bystaan om presies te bereken hoeveel jy nou moet spaar om op ’n bepaalde tydstip by jou doelwit uit te kom.
Het jy ’n testament?
Ek wil sover gaan om te sê ’n testament en ’n huweliksvoorwaardekontrak moet eintlik dieselfde tyd opgestel word. Baie mense wag tot dit te laat is, wat gevolge vir jou naasbestaandes inhou en kan meebring dat jou boedel nie volgens jou wense vererf nie. As jy deur die loop van jou lewe ’n goeie rentmeester is, maar sonder ’n testament sterf, is dit amper soos om die huis klaar te bou maar nie die dak op te sit nie.
‘n Goeie rentmeester spaar, spandeer en saai
Hierdie drie woorde vat vir my die beginsel van rentmeesterskap perfek saam. ’n Mens spandeer ’n deel van jou inkomste om van te leef. Stel vir jouself ’n begroting op sodat jy altyd weet wat die verhouding tussen jou inkomste, uitgawes en skuld is. Deur dit op papier vas te lê, kan jy vinnig identifiseer waar jy kan besnoei op wat jy spandeer, indien jou omstandighede verander. Spaar vir die dag van môre, sodat jy jou lewe lank selfversorgend kan wees, en saai vanuit jou oorvloed met ’n blymoedige hart.
Jacqui Kruger is ‘n finansiële adviseur by PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd, ‘n goedgekeurde finansiële diensverskaffer. Sy kan gekontak word by Jacqui.Kruger@psg.co.za of
071 491 8004.