Soms staan jy voor ’n boekwinkel se rak en staar na die magdom verskillende Bybels – en jy wonder watter een om te kies: die pienke of die groene, ’n ouer vertaling of ’n nuwer weergawe, Afrikaans of Engels. Daar is ’n legio moontlikhede. Hoe kies jy ’n betroubare Bybelvertaling? DEUR JACOBIE M HELENA
Het jy al ooit gewonder watter proses die teks in jou Bybel deurgegaan het voordat dit op jou bedkassie beland het? Ja, dit was inderdaad ’n hele proses. Jou geliefde Bybel, soos al die ander, het nie reguit uit die hemel geval en in jou skoot beland nie.
Die teks moes, onder meer, uit die oorspronklike tale vertaal word. Paulus en Moses en Jesaja (en Jesus) het nie Afrikaans gepraat nie, en Engels was immers nie die destydse Israeliete se omgangstaal nie.
Die vraag is: Hoe weet ek die Bybelvertaling wat ek kies om te lees is betroubaar?
’n Eerste onderskeid
“Dit is belangrik om te onderskei tussen kommersiële vertalings en vertalings wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer is.”
Só sê prof Christo van der Merwe, hoogleraar in Hebreeus en direkteur van die Sentrum vir Bybelinterpretasie en -vertaling in Afrika (CEBITA) aan die Universiteit
Stellenbosch (US). “Die gehaltebeheer by kommersiële vertalings is meestal nie ’n hoë prioriteit nie en die vertaalproses is van korte duur.”
Prof Louis Jonker, professor in Ou Testament aan die US en voorsitter van CEBITA, beaam dit: “Kommersiële vertalings moet dikwels, onder meer weens die befondsingmodel en soms ook vanweë teologiese vereistes, aan bepaalde verwagtings voldoen.”
Daarteenoor is vertalings wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer word onderhewig aan ’n vertalingsproses wat tussen 15 en 20 jaar lank duur. So is die Bybelgenootskap tans besig om ’n nuwe vertaling, Die Bybel: ’n Direkte Vertaling (BDV), vir publikasie voor te berei – wat moontlik teen 2020 voltooi sal wees. Die Nuwe Testament en Psalms is reeds in 2014 gepubliseer.
Daar is ’n hele reeks vakkundiges by dié proses betrokke. Dr Elma Cornelius, professor in Nuwe Testament by die Noordwes-Universiteit, verduidelik: “Daar is brontaalkenners van Hebreeus, Aramees en Grieks, en eksegete, en Afrikaanse vertalers, en letterkundiges en taalkundiges.”
Om verskillende vertalings saam-saam te lees, help gelowiges egter om ‘n dieper insig in God se Woord te kry. Bybelvertaling as proses “Bybelvertaling is niks minder nie as ’n wetenskap,” sê Cornelius. “En soos alle wetenskappe behels dit ingewikkelde en omvangryke prosesse wat deur baie faktore beïnvloed word, én wat met baie ander wetenskappe moet tred hou.
“Om mee te begin: Bybellesers moet weet dat Bybelvertalers nié met die oorspronklike tekste werk nie – die materiaal waarop die oorspronklike tekste geskryf is, het doodgewoon nie die tyd oorleef nie. Daarom is hierdie tekste gedurig gekopieer en moes dit gereeld vervang word. Die kopiëring was natuurlik ook nodig sodat die tekste in die destydse wêreld versprei kon word.
“Die noodwendige gevolg was dat daar kopiëringsfoute ingesluip het; soms het die kopieerders sommer hul eie korreksies aangebring! Wat dus vir Bybelvertalers oorgebly het, is kopieë van kopieë van kopieë …
“Bybellesers weet ook dat die Bybel oorspronklik in Hebreeus en Aramees (die Ou Testament) en in Grieks (die Nuwe Testament) geskryf is. Taalwetenskappe ontwikkel voortdurend, en só neem Bybelvertalers se kennis van hierdie grondtale ook toe. Dit maak voortdurende Bybelvertaling noodsaaklik.”
Die Bybel is natuurlik ook nie in (en vir) een-en-twintigste eeuse Suid-Afrika of in (en vir) hedendaagse Amerika geskryf nie.
Cornelius sê: “Die Bybelse tekste het in antieke kulture ontstaan. Daarom moet Bybelvertalers hulle voortdurend vergewis van nuwe kennis op hierdie gebied, en ook dit kan die vertalings beïnvloed. Hoe meer daar van die antieke kulture ontdek word, hoe meer moet dit in die vertaling verreken word.
“Voeg hierby die steeds ontwikkelende dissiplines van vertaalteorie en vertaalmetodiek, en jy besef: Bybelvertaling is nie ’n lukrake proses nie; dit is ’n wetenskap.”
Die omvangrykheid van die vertaalproses word só deur prof Bernard Combrink, projekbestuurder van die BDV, verduidelik: “Die nuwe vertaling ondergaan ’n proses wat uit vyf fases bestaan:
Die eerste fase behels die identifisering van kundiges vir elke Bybelboek. In elke span kundiges is daar ’n eerste en ’n tweede eksegeet, en een brontaalkenner. En ’n intra-vertaler, wat moet seker maak dat die vertaling in goeie Afrikaans is.
“Nadat die vertaling deur al die kundiges se hande is, word dit terugverwys na die eerste eksegeet om seker te maak die vertaling het nie van die bronteks weg beweeg nie. “In fase twee gaan die vertaling na ’n ander Afrikaanse taalkundige asook na ’n Afrikaanse letterkundige. Daarna gaan die vertaling weer terug na die eerste eksegeet. Aan die einde van fase twee gaan die vertaling na ’n redaksionele komitee wat uit agt kundiges bestaan om wéér die vertaling na te gaan.
“In fase drie gaan die vertaling na kerklike lesers toe. Die kommentaar van die kerklike lesers word deur die redaksionele komitee verwerk.
“In fase vier word daar konsekwentheidbeheer op die vertaling toegepas, en in fase vyf word die vertaling na ’n begeleidingskomitee verwys. Hierdie komiteelede moet klarigheid kry oor of die vertalers by die oorspronklike vertaalopdrag gebly het én of daar genoeg prosesse en beheermaatreëls in die proses betrokke was ten einde getrou aan die Bybelse bronteks te bly. Dit is die begeleidingskomitee wat die vertaling finaal moet goedkeur voordat dit gepubliseer word.”
Uiteindelik: die Bybelleser
Jonker sê: “Bybelvertalers doen wat die Here hulle gegee het om te doen, en met die toerusting wat Hy tot hul beskikking gestel het: om deeglike taalkundiges, letterkundiges, Bybelwetenskaplikes te wees. Dit is nou die lidmate se verantwoordelikheid om met die hulp van die Gees met die Bybel om te gaan.
“Dit is hulle en hul openheid wat sal bepaal of die Bybel vir hulle geloofsversterkend is of nie. Jy kan nie van ’n Bybelvertaler verwag om só te vertaal dat mense sal glo nie.”
Cornelius sluit hierby aan: “Ons weet dat Bybelvertaling nie ’n lukrake proses is nie, maar werklik ’n wetenskap waarby daar kundiges betrokke is. Ons, die gelowiges, die kerk van Christus, moet bid en vertrou dat die Heilige Gees die kundiges betrokke by Bybelvertaling sal lei en seën sodat die Woord van God vir ons nageslag behoue sal bly.”
Bybelvertaling en die kerke
Combrink sê: “Bybelvertaling was nog altyd baie belangrik vir die kerk. Dit was dan ook die rede waarom die kerke wat verteenwoordig word by die Bybelgenootskap se kerklike advieskomitee vir die Bybel in Afrikaans (KABA), die opdrag vir nog ’n Bybelvertaling in Afrikaans gegee het. Wat toe op die huidige proses met Die Bybel: ’n Direkte Vertaling (BDV) uitgeloop het.
“Die behoefte hieraan is reeds in 1997 uitgespreek. Daar was trouens onmiddellik ná die verskyning van die 1983-vertaling ’n behoefte aan ’n soort vertaling wat nader aan die bronteks is en wat deur gelowiges vir Bybelstudie gebruik kan word. Hiermee het die kerke ’n vertaling in gedagte gehad wat soortgelyk aan die woord-vir-woord-1933/53-vertaling is, maar wat in meer verstaanbare en moderner, idiomatiese Afrikaans is.”
’n Betroubare, geïnspireerde Bybelvertaling?
Jonker sê ’n betroubare Bybelvertaling moet die antieke teks vir mense in hul moedertaal toeganklik maak. “Eksegese en hermeneutiek gaan wel ’n ent verder, maar dit wil ook ’n brug slaan na die kontekste waarin die Bybel gelees word. En hier speel mense se persoonlike oortuigings oor die Bybel ’n deurslaggewende rol.
“Die Bybel funksioneer op ’n eiesoortige manier in die onderskeie geloofsgemeenskappe. Mense word op verskillende maniere met die Bybel gekonfronteer, en daarom is daar uiteenlopende idees oor wat met ‘inspirasie’ bedoel word wanneer die Bybel ter sprake kom.
“Die vraag of die Bybel as die Woord van God beskou word, rus egter nie op die skouers van vertalers en eksegete nie, maar op dié van die onderskeie kerklike interpreteerders. Laasgenoemde moet hulle altyd die vraag afvra of hulle die Bybel op ’n verantwoordelike wyse in hul eie tradisie interpreteer.”
Wat beteken dit?
Eksegese: Dit is die bestudering van die Bybelse teks vanuit verskillende hoeke en deur middel van verskillende metodes, ten einde die betekenis daarvan so akkuraat moontlik te bepaal.
Eksegete: Dit is die persone wat die eksegese doen, en hulle beskik oor voldoende kennis van die brontale – dit wil sê Hebreeus en Aramees, en Grieks.
Hermeneutiek: Dit is die wetenskap wat hom toespits op die beginsels en die praktyk ten opsigte van die interpretasie en die verstaan van tekste.
Bronteks: Die oorspronklike teks van die Bybel. Dit is in antieke Hebreeus en Aramees (Ou Testament) en in ’n destydse vorm van Grieks (Nuwe Testament) aan ons
oorgelewer.