Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Jou kind se verbeelding – selfs belangriker as wetenskap en wiskunde

Kinders se verbeelding voer hulle na plekke waar eenhorings en reuse leef; dit laat bou hulle ’n kasteel uit leë bokse; dit gee hul karretjies vlerke om tot anderkant die wolke te kan ry. Maar wat is die waarde van verbeelding, indien hoegenaamd?

As die Wright-broers nooit na die voëls gekyk en gewonder het hoe dit sal wees om self te vlieg nie, sou die wêreld moontlik eers heelwat later ’n vliegtuig gesien het.

En wie weet wanneer die telefoon sy opwagting sou maak as Alexander Bell nie gewonder het oor spraak en gehoor nie? Verbeelding verskaf die brandstof vir die wil om te leer. Sonder verbeelding is die wêreld ’n doodvervelige plek, sonder “hoekom?” of “wat as?” of “eendag, as ek …”

Deur jou kinders se verbeelding reeds van jongs af aan te wakker, bevorder jy hul algemene ontwikkeling op verskeie maniere. Want verbeelding bou die vaardigheid om probleme op te los en om taal baas te raak. Dit stimuleer kreatiewe denke. Dit lê ook die grondslag vir sosiale ontwikkeling, want hulle leer om met ander te speel.

Maggie Dent, ’n Australiese opvoedkundige en skrywer, sê sy is vas daarvan oortuig dat ’n kinderlewe vol verbeeldingsvlugte ’n sleutelrol in breinontwikkeling speel. Volgens haar help verbeelding met die vorming van neurologiese patrone, wat emosionele stabiliteit, sosiale bewustheid en veerkragtigheid verseker.

Modernisering en digitalisering eis ’n tol by kinders, sê Maggie. Soos ook die populêre kultuur van ’n kitsleefwyse, die “moet hê”- mentaliteit, en die gesin- en gemeenskapsdisintegrasie.

En ongelukkig bly verbeelding dan in die slag. Maggie sê: “Kinders verweef aspekte van die regte wêreld met hul verbeeldingswêreld om op dié manier sin te maak daarvan.”

Nina Oberholzer, tuisblymamma van Holly (4) en Abby (9), vra: “Hoeveel ouers maak regtig nog tyd vir die ‘slow dance’ van verbeelding?”

Geborg

Sy reken dis uiters belangrik om hiervoor tyd in te ruim. “As jy nie jou kinders tyd gee om verbeeldingsvlugte te onderneem nie, en hulle nie aktief aanmoedig om dit te doen nie, sal hulle doodgewoon vasgevang word in elke dag se gejaag. En hul ‘dieet’ sal bestaan uit wat sosiale media hulle bied, en die internet. Hulle raak dit boonop baas deur bloot hul vingers te gebruik. Sonder om te veel te dink of te wonder.”

Nina sê sy maak seker dat haar kinders elke dag ’n uur of wat het waarin hulle niks anders doen nie behalwe om te dagdroom. “Die jonger enetjie het natuurlik baie meer tyd as ons ouer dogter om sommer net te droom. Al lê sy bloot in die koelte onder die boom en luister na die voëls. Of plons met haar voete in die swembad.

“Die dagdromery help hulle om oor dinge te wonder. In daardie oomblikke perk niks hul gedagtegang in nie.”

’n Goeie verbeelding se tallose voordele

Dr Melodie de Jager, stigter van die Mind Moves Institute, sê verbeelding berei kinders voor vir die onbekende. Dit help hulle om te kan aanpas. “Ons kinders het, wat nuwe idees en innovering betref, goeie kommunikasievaardighede en empatie nodig. En verbeelding.

“Want tegnologie, en daarmee saam die wêreld waarin ons leef, verander teen so ’n verbysterende pas dat selfs wiskunde en wetenskap ondergeskik staan aan die belang van verbeelding. Wiskunde en wetenskap werk met ‘wat is’; verbeelding met ‘wat kan wees’.

“En dit gaan gepaard met verandering. Vooruitgang. Verbetering.”

Verbeelding is ook ’n manier om situasies, gevoelens en gedagtes te verwerk, sê Melodie. “Dis ’n voorvereiste vir probleemoplossing. Dit help jou om iets uit ’n ander mens se oogpunt te kan sien. Dit vuur kreatiwiteit aan, en dit spreek tot alle mense, ongeag hul ouderdom.

Geborg

“Daarom is dit geestesgesond om, iewers in die natuur, op die naat van jou rug te lê en na die wolke te staar. Want dan word wolke ruimtetuie. En kabouters. En hase. Net om gou weer te verander in iets asemrowends en nuut.”

Navorsing wys toenemend uit watter besliste voordele daar vir kinders is wat gereeld verbeeldingspeletjies speel – van so vroeg soos twee-en-’n-half jaar oud, tot ongeveer sewe. Dié voordele sluit ’n verbetering in taalgebruik in.

Sulke soort spel laat kinders toe om sowel positiewe as negatiewe emosies uit te druk, en dit versterk hul vermoë om emosie en denke te integreer. Dis ook ’n voorloper vir die belangrike vorms van selfregulering, insluitend verminderde aggressie en die uitstel van bevrediging, asook beleefdheid en empatie.

Nog ’n belangrike voordeel van vroeë verbeeldingspel is die bevordering van ’n kind se vermoë tot kognitiewe buigbaarheid en uiteindelik kreatiwiteit. Navorsers het bevind dat vroeë verbeeldingspel verbind kan word met toenemende kreatiwiteit in die later jare.

Melodie brei hierop uit: “Verbeelding sluit in dat voorwerpe iets anders kan verteenwoordig: ’n klip kan ’n stootskraper wees. En, as jy dit in ’n lappie toewikkel, word dit ’n baba.

“Verbeelding sluit ook in dat eienskappe vloeibaar is en nie beperk word tot wat werklik is nie. Daarom kan diere praat en mense vlieg.

“Rolspel maak ’n besoek aan die dokter of tandarts minder angswekkend. Sorg dat ’n kind ’n kamma-doktertas vol dokter-dinge het. En dat hulle gereeld hul poppe dokter en dié se seerplekke verbind.

Geborg

“Die skep van ’n verbeeldingmaatjie is ’n natuurlike ontwikkelingsfase, en dis ’n vindingryke manier om twee koekies te kan kry – ‘een vir my en een vir my maatjie!’

“Maar verbeelding word ook tydens gesprekke aangewakker. Dit gebeur wanneer ’n ouer en kind met mekaar gesels oor: Wat sou gebeur as paaie van glas gemaak word; as vensters van grond gemaak is; as jy oë onder jou voete kon hê? Dié soort gesprek moedig ook die ouer aan om buite die speekwoordelike boks te dink. En dalk verminder dit ook die ouer se spanning …

Melodie rig wel dié waarskuwing: “Soos enigiets waar ‘te’ bykom, kan te veel verbeelding ook nie gesond wees nie; dit kan ’n mens losmaak van die werklikheid en van verantwoordelikheid.

“Maar by ’n jong kind, tot so ongeveer vyf jaar oud, is verbeelding broodnodig. Omdat dit breinstrukture vaslê sodat die kind later met begrip kan lees, woordsomme maklik onder die knie kan kry, entrepreneursvaardighede ontwikkel en allerlei planne kan beraam.”

Dr Penny Hay, dosent in Verbeelding by die Navorsingsentrum vir kultuur en kreatiwiteit by die Universiteit van Bath in Engeland, sê verbeelding maak jou gedagtes vry om met verskeie moontlikhede te kan speel.

“Ons dagdroom en ons laat ons gedagtes vry loop. Dié prosesse moenie geringgeag word nie. Verbeelding is oral. Dit handel oor waar ons moontlik kan gaan, en hoe ons daar kan kom. Dit help ons om die ruimte tussen idees en tasbare dinge te ondersoek, en om sin daaruit te maak.

“Ek glo dat elke mens op aarde met verbeelding gebore word. Kinders se verbeelding is kragtig. Hulle het ’n ingebore nuuskierigheid en is gedrewe om te leer. Hulle is uitvinders, hulle is bouers van kreatiewe kennis. En hulle hou nie op om verbeeldingryk te dink, te voel of te leer nie.

“Kinders het hul verbeelding nodig. Ouers moet hul kinders aanmoedig om dit sonder ophou te gebruik, om nuuskierig te wees, om vrae te vra. Om te dink aan oplossings en aan ‘wat as?’-situasies.”

Melodie se planne vir elke ouderdomsgroep om verbeelding te stimuleer:

0-3 jaar

  • Geen TV of foon vir jou baba nie.
  • “Magie-tyd” voor ’n spieël sorg vir baie pret en ontwikkel konsentrasie.
  • Gebruik gewone taal (“hond” en nie “woef” nie), maar boots wel die geluid na wat die naamwoord maak – die hond maak “woef!”; die kar maak “broeeem!”
  • Kyk na die wêreld onderskeidelik van op én van onder ’n stoel terwyl jy dieselfde voorwerpe benoem. Dit verruim perspektief.
  • Sorg vir potte, panne en lepels om mee te speel. Aanvanklik gebruik die kleingoed dit bloot om te lawaai, maar later om kosmaak na te boots.
  • Bring baie tyd in die natuur deur; die natuur verander deurentyd. Laat jou kleintjies gemaklik word met verandering.

3-6 jaar

  • Beperk TV-tyd.
  • Skep ’n fantasie-huis. Driejarige seuns en dogters speel graag baba-baba en huis-huis.
  • Beplan en skep ’n ruimte vir iets wat ’n brandweerstasie kan wees, of ’n hospitaal, of ’n karwassery, of ’n haarkapperwinkel.
  • Gaan stap saam, en gesels oor wat julle sien.
  • Vra vrae soos: As jy ’n skoenlapper was, wat sou vir jou lekker wees? Waarheen sou jy vlieg?
  • Lees elke dag een fantasiestorie saam voor slaaptyd.

6-9 jaar

  • Beperk TV-tyd. Verbeelding is aktief; TVkyk is passief.
  • Gee ’n kind ’n koelboks en kyk hoe die verbeelding begin huppel!
  • Skep saam ’n klaskamer om skool-skool te speel.
  • Gebruik blokkies en bou ’n huis, ’n stad, ’n plaas, ’n wildtuin.
  • Belê in ’n boek oor eenvoudige wetenskap-eksperimente, en doen dit dan saam.
  • Bak en brou saam.

Ekstra bron: www.firstfiveyears.org.au, TEDex Talks

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.