Die kombuis bied heerlike leergeleenthede en hope pret vir klein kokke wat wil saam kook. Hier is praktiese wenke om dit vir jou en jou kinders te laat werk.
DEUR SUSAN GOOSEN
Bloot die gedagte daaraan om saam met jong kinders in ’n kombuis te werskaf, laat vele ouers sidder. Julle onthou waarskynlik die keer toe die klein kookspannetjie 12 eiers en ’n pak meel gebruik het om botterbroodjies te bak. Toe alles tot houtskool verbrand is. Toe die kombuis in so ’n toestand was dat julle dae later steeds konfyt agter die kaste moes opvee.
Daar is egter vele redes waarom ouers hul kinders by kosmaak moet betrek, sê die kenners. En met ’n paar slim planne, sê hulle, kan dit vir almal – ja, selfs vir Mamma – genotvol en voordelig wees.
“Kinders hou daarvan om betrokke te wees wanneer Mamma in die kombuis woel,” sê Christine Phillips, stigter van die Little Cooks Club. “Die heerlike geure en die gedagte aan ’n lekker maaltyd of spesiale gebak sal die meeste kinders telkens om die kombuis se hoek laat loer.
“Om saam te kook, kan boonop in ’n kosbare tydjie saam met jou kinders ontwikkel. Só kan ouers hul kinders oor verskillende kossoorte leer, en oor gesonde eetgewoontes en selfs oor familietradisies.”
Gabi Steenkamp, dieetkundige, bekende koskenner en skrywer, voeg by: “Die meeste jong mense gaan iewers vir hulleself moet begin sorg, en daarom is dit baie belangrik dat hulle basiese kookvaardighede aanleer.
“Voorts moet hulle waardering ontwikkel vir die sosiale interaksie wat met kosmaak en saam eet gepaard gaan. Goeie kokke, dit wil sê dié wat moeite doen met hul voorbereiding en aanbieding, sal altyd ander mense se hart warm laat klop.”
Christine moedig ouers aan om klein te begin – juis ook diegene wat nie vir ’n deurmekaar kombuis kans sien nie. “Begin met een gesamentlike poging per week,” sê sy. “Tref voorsorg vir die potensiële gemors deur plekmatjies uit te pak. En deur voorskote, genoeg nat lappies en warm water byderhand te hê. “Die tas-ervaring van roer, sny, fynmaak en uitrol, en die smaaksensasie van gereelde proe is baie belangrik vir kinders se sensoriese ontwikkeling. En bloot dit is al genoeg rede om die taai vloere en ekstra skottelgoed ’n rukkie lank te verdra.”
Kans om te skitter
Die kombuis bied ook allerlei ander leergeleenthede. Christine sê: “Kinders leer nie bloot die gewone kook- en bakvaardighede aan nie; daar is ook geleentheid om hul wiskunde, wetenskap en selfs hul woordeskat en leesvaardighede te verbeter. Hulle kry die geleentheid om te weeg, te meet, tydsduur te bereken en aanwysings te lees en te volg.
“Hulle leer die naam van verskillende kossoorte, kosgereedskap en verskeie gaarmaakmetodes aan. Hulle beleef self wat gebeur wanneer jy kos warm maak, kook of bak. Hierdie hele ervaring is eintlik ’n eksperiment waar al die sintuie ingespan word. Boonop bied dit aan die kinders die geleentheid om kreatief te wees en om redes vir bepaalde besluite en keuses te verskaf.”
Gabi sê ook dit is ’n goeie idee dat kinders van kleins af by die beplanning van maaltye betrek word. Dat hulle geleer word om gesonde keuses uit te oefen.
Sy sê: “Moedig die kinders aan om volgens die reënboog te kook deur soveel kleure moontlik in elke maaltyd te gebruik. Hoe donkerder die kleure, hoe beter. Besluit saam op ’n porsie vleis, ’n gesonde stysel en ’n verskeidenheid kleurvolle groente en vrugte wanneer julle maaltye beplan.”
LEES MEER
Ouerskap is soms ook kinderspeletjies
Wenke vir jong kokke
0-5 jaar
Selfs outjies wat nog nie self kan aantrek nie, is soms ywerig om in die kombuis te help. Laat jou kind in sy babastoeltjie of in ’n kinderstoel by die kombuistafel sit. Sulke jong kinders kan met die volgende help:
- Was groente en vrugte. Dit gee ouers ’n baie goeie geleentheid om hul kinders aan nuwe kossoorte en teksture bloot te stel.
- Roer die bestanddele. Die mengsel moet by kamertemperatuur wees.
- Maak kos fyn met ’n vurk of ’n drukker. (Mamma, maak seker die kos is nie warm nie!)
- Sprinkel meel, suiker of versiersels oor.
- Help om bestanddele op ’n skaal te skep.
- Sny sagte vrugte (piesangs, aarbeie of papaja) of broodjies met ’n sterk plastiekmes. • Skeur blaarslaai en spinasie, of sny dit met ’n klein skêrtjie.
- Sif die meel.
- Knie deeg of rol koekies uit.
6-8 jaar
Hierdie ouer kinders kan ook met die volgende help:
- Sny met ’n klein, skerp mes. Kinders moet geleer word om die mes reg vas te hou en hul vingers uit die pad te hou.
- Rasper kaas of groente. Maak seker hulle weet hoe om die rasper te gebruik en hul vingers uit die pad te hou.
- Meet bestanddele af. Jong kinders het hiermee hulp nodig – maar soos wat hulle leer om te lees, kan hulle toenemend vertrou word om dit alleen te doen.
- Vryf die botter of margarien met jou vingers in die meel in.
- Klits die mengsel of vou die eierwitte in sonder om te veel lug uit die mengsel te klop.
- Skil die lemoene of dop die eiers uit. (Mamma, maak seker dat die eiers nie warm is nie!)
- Maak ’n eenvoudige slaai.
- Leer om die tafel vir verskillende maaltye te dek.
9-12 jaar
Dié kinders kan soms gelos word om iets alleen voor te berei. Leer jou kind om ten minste een gunstelingdis self voor te berei. Op dié manier, Mamma, kan jy op een van jou dol dae vir tunatert, hamburgers of Franse braaibroodjies vra!
- Laat die kinders self resepte uitsoek en maaltye beplan. Hulle kan ook soms resepte aanpas vir opwindender alternatiewe, of om jul begroting of koskas te pas.
- Laat hulle die tafel mooi versier en die kos mooi voorsit. Kies die regte bakke en garnering.
- Soek die regte bestanddele in die kas of yskas.
- Gebruik ’n skiller en blikoopmaker.
- Leer om self die oond, stoof en ander elektriese toestelle op die regte manier te gebruik.
Onthou ook, Mamma: Kinders se onderlinge vaardighede en behoeftes verskil. Kies take en resepte wat by elke kind pas. Veiligheid is die eerste prioriteit; daarna kom leer. En onthou tog dat dit ook pret moet wees!
Veiligheid eerste!
Wanneer ’n klompie entoesiastiese kinders in die kombuis losgelaat word, kan dinge maklik skeefloop. Daarom is dit baie belangrik dat ouers en kinders bepaalde reëls volg. Leer jou kinders van jongs af byvoorbeeld die volgende:
- Was jul hande deeglik voordat julle begin kos maak én nadat julle aan rou kos gevat het.
- Sorg dat alle kombuisoppervlakke en gebruiksartikels skoon is.
- Kinders onder tien mag slegs onder toesig kos maak. Ouer kinders moet toestemming vra.
- Messe en skêre is skerp en die oond en stoof kan baie warm wees. Maak seker dat jy weet hoe om dit te gebruik.
- Moenie die yskas onnodig oop los nie.
- Kook groente vir die kortste moontlike tyd om die voedingswaarde te behou.
- Moet nooit metaal in ’n mikrogolfoond gebruik nie.
- Ruim dadelik alle gemors op die vloer op sodat niemand daarop gly nie.
- Wees kalm. Niemand mag hardloop, skree of klim nie.
- Maak skoon wanneer julle klaar is.
- Gooi groenteskille op ’n komposhoop en herwin plastiek- en glashouers waar moontlik.
KONTAK ONS KENNERS
Christine Phillips is ’n sjef en ook die stigter van die Little Cooks Club waar kinders van jongs af basiese kookvaardighede geleer word. Besoek www.littlecooksclub.co.za vir meer besonderhede asook inligting oor jou naaste tak.
Gabi Steenkamp is ’n bekende dieetkundige, koskenner en skrywer van vele kook- en gesondheidsboeke. Besoek www.gabisteenkamp.co.za vir meer inligting oor haar resepteboeke.