Vrae vir omgeegroepe, Bybelstudiegroepe of selgroepe. Kies een van die onderstaande stelle vrae om julle gesprek mee af te skop.
- Wat onthou jy nog van jou eerste liefde? Kan jy onthou wat jy alles beleef het?
- Bespreek die skrywer se stelling oor die Goddelike liefde: “Hoewel ons sukkel om so volmaak lief te hê, bly dit die soort liefde waarna ons strewe.”
- Lees 1 Korintiërs 13:4-7, 13.
– In hierdie bekende verse word verskillende eienskappe van die liefde genoem. Hoe verstaan jy elkeen hiervan?
– Met watter hiervan sukkel jy die meeste?
– Paulus beklemtoon die grootsheid van die liefde (vgl v 13). Kan ons sê dat geloof terug kyk, dat hoop vorentoe kyk en dat liefde ons help om “Christus te leef”? - In dié artikel word vier fasette van die liefde bespreek. Hoe kan ons mekaar help om dit ’n deel van ons lewe te maak?
- Dink aan wat jou vriende in die verlede vir jou beteken het. Deel dit met die groep.
- Bespreek dié stelling wat die skrywer maak: “Goeie vriendskapvaardighede moet reeds in die kinderjare aangeleer word. As jy eers volwasse is, is dit baie moeiliker om goeie verhoudings te leer vorm.”
- Lees Spreuke 18:24; 27:17.
– In Spreuke 18:24 word die twee teenoorstaande kante van vriendskap uitgelig. Watter Bybelse waardes is belangrik vir hierdie “broederlike/susterlike” vriendskap?
– Yster is ’n harde metaal (vgl Spr 27:17). Op watter “harde” maniere vorm vriende mekaar? Watter soort opoffering en eerlikheid verg dit?
– Dink na oor die volgende stelling in die lig van die Spreuke-tekste: “Christenouers is baie dikwels bekommerd dat maats hul kinders negatief kan beïnvloed, maar glo nie altyd dat hul kinders hul vriende positief kan vorm nie.” - Teen die einde van die artikel word daar ’n klompie praktiese wenke aan ouers gegee. Stem jy hiermee saam? Is daar dalk ander wenke wat jy sal wil byvoeg?
- Wat het jy in die afgelope Paastyd beleef? Het julle familie Paasfees-rituele?
- Bespreek die volgende wat in die artikel oor Maria Magdalena gesê word: “Jesus se Sondag-besoek neem haar blindheid vir altyd weg. Dit gee haar ’n splinternuwe taal en ’n splinternuwe lewe. Die kruis is kaal. Die graf is leeg. Jesus leef.”
- Lees Lukas 24:13-35.
– Hoekom dink jy het die Emmausgangers nie vir Jesus herken nie (vgl v 16)? Hoe gebeur dit vandag nog?
– Die verhaal vertel van die Emmausgangers se ontsteltenis. Wat het hulle so ontstel?
– In vers 32 lees ons hoe hul hart “warm geword het”. Glo jy werklik dat die Lewende Jesus ons hele lewe kan aanraak? - In Johannes 20:21 lees ons hoe Jesus die dissipels uitstuur om oor sy opstanding te getuig. Hoe kan ons mekaar help om hierdie opstandingsboodskap uit te dra?