Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Lindie Strydom: ‘Swaarkry leer ons baie oor God se nabyheid’

Sy gesels soos ’n ou vriendin met jou. Elke gesprek is gelaai met deurdagte insigte oor God se bedoeling met ouerskap. Oor hoe jy jou kinders kan begelei. Noudat haar drietal op die drumpel van die grootmenswêreld staan, vertel sy ook oor dié dinge wat sy deur en by hulle geleer het.

Lindie Strydom en haar man Johann se twee jongstes, Nina en Hugo, is tans in graad 11. En hul oudste, Paul, studeer in bemarking by die Institute of Marketing Management (IMM) op Stellenbosch.

“Ek geniet elkeen van my kinders!” straal Lindie. “En ek is trots op wie hulle is en word, en die manier waarop hulle met hul talente woeker. Veral wanneer hulle iets aanpak wat moeilik is, en dan bereid is om te sukkel totdat hulle dit regkry.

“Waarheen daardie harde werk lei, maak nie vir my saak nie, want hulle het as mens gegroei – wen of verloor.”

Lindie se gebed vir haar kinders is dat hulle altyd goeie rentmeesters sal wees van alles wat die Here aan hulle toevertrou het. Dat hulle uiteindelik met hul lewe vir Hom sal dankie sê.

LEES OOK: Monique Strydom – van gyselaar tot vegter vir kinders

‘Kinders wat nie bang is nie’

“Drama het beslis bygedra die afgelope 12 jaar om ’n baie spesiale band met ons kinders te vorm. Paul, Hugo en Nina het aan redenaarskompetisies deelgeneem voordat hulle kon lees, en ek was van vroeg af betrokke by die afrigting van hul items vir kunsfeeste.

“Die aanvanklike doel was om hul vaardighede te help slyp om gemaklik voor mense te kan praat.

“Ek het self, sonder enige formele opleiding en vars uit die skoolbanke, by Egoli begin. Ek was maar 18 jaar oud. Ek moes staatmaak op ’n ‘pens-persepsie’, juffrou Martjie Jordaan se grondslag op skool en mense soos Christine Basson (‘tannie Nora’) se leiding. En sommer opstel-opleiding.

“Ek sou my kinders baie dinge nié kon leer nie, maar ek wou die belang van egtheid bo alles by hulle tuisbring.

“Intussen het die kinders se vaardighede ontwikkel en gegroei. Nou kan ek en Johann sommer net heerlike gesprekke hê met kinders wat nie bang is om ’n mening te formuleer en dit uit te spreek nie.

“Hulle sing en dans en speel uiteenlopende rolle, en is altyd bereid om iets nuuts te leer of te probeer. Hulle is dapperder as wat ek ooit in my lewe was!

“Ek moet byvoeg dat die gene van albei kante kom (en dat ons kinders ewe tuis op die sportveld is). Johann het al ’n hoofrol of twee gesing én hy is ’n besonder begaafde spreker.”

Geskenke, en ’n goue reël

Op Hugo en Nina se eerste skooldag het Lindie vir elkeen ’n geskenk gegee, toegedraai in ’n klompie lae geskenkpapier. “My boodskap was: Jy het hierdie geskenk ontvang sonder om enigiets daarvoor te doen. Sommer net omdat ons vir jou lief is.

“Só het God, omdat Hy lief is vir ons, geskenke aan ons toevertrou. Gawes en talente. Gaan nou en gaan ontdek wat dit is.

“Elke keer as jy iets nuuts probeer, aan iets anders deelneem, as jy iets waag en dit dalk nie die eerste keer regkry nie, is jy besig om ’n lagie van daardie geskenkpapier af te haal.”

Lindie skud haar kop. “Daar is kinders wat hul lewe lank wonder oor die maatjie langs hulle se geskenk. Of dit nie dalk groter of blinker toegedraai is as hulle s’n nie. En so maak hulle nooit hul eie pakkie oop nie …

“Ons kinders het vrye teuels gehad om te kies waaraan hulle wou deelneem. Daar was wel een goue reël: Ons is vyf mense wat mekaar in ag neem. Wat is die koste, wat tyd en geld betref, wat aan hierdie aktiwiteit verbonde is? En hoe sal dit die res van ons gesin raak?”

Lindie se gebed vir haar kinders is dat hulle altyd goeie rentmeesters sal wees van alles wat die Here aan hulle toevertrou het. Dat hulle uiteindelik met hul lewe vir Hom sal dankie sê. Van links is Hugo, Paul, Lindie se man Johann en Nina. Foto verskaf

Om tog net ma te wees …

Lindie sê gereeld vir haarself dat God nog meer besorg is oor Paul, Hugo en Nina as wat sy ooit kan wees.

“Dan weet ek dat ‘laat die kindertjies na My toe kom’ my belangrikste werk as ouer is. Om myself mooi op te pas, om ook nog drome te droom, om stokperdjies te hê en die lewe te geniet.

“Ons sê so maklik dat ons net die beste vir ons kinders wil hê. Maar in die gejaag na wat ons glo die beste is, verloor ons dalk juis die heel beste. Soms kan jy jou totaal uitbrand met te veel aandag aan fyn besonderhede en jou betrokkenheid by die kinders se dag-tot-dag-dinge – skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite.

“En jy probeer alles wees, van juffrou tot afrigter, maar nooit net ma nie …”

Alles ten goede

Lindie vertel van haar oudste seun se groot teleurstelling, en hoe die Here dit uiteindelik ten goede laat meewerk het: “Paul is in Augustus van sy graad 11-jaar as sy skool se hoofseun gekies. Hy het egter ’n fout begaan en het ’n week ná die aankondiging sy baadjie teruggee.

“Hy was een van ’n groep wat tydens ’n toer in iemand se kamer gekuier het. Die skool het daarvan te hore gekom en die kinders is gevra om elkeen op ’n stuk papier te skryf wat alles gebeur het.

“Maar net die eerlike kinders het die gevolge daarvan gedra …

“Daar was ’n hele klompie lewenslesse wat tegelykertyd uit hierdie teleurstelling na vore gekom het. Onder meer dat eerlikheid jou eie keuse is. Jy kan nie namens iemand anders besluit wat jy glo die regte ding is om te doen nie.”

Lindie vertel dat Paul later een van die seuns wat stilgebly het se pa ontmoet het.

“Dit het my só geraak toe Paul sê hy verstaan waarom daardie seun nie eerlik was nie. Hy sou dalk nie huis toe kon gaan as hy sy ouers die waarheid vertel het nie.

“Ek onthou die aand toe Paul die slaansak in die hoek van ons erf gepeper het. Daardie houe was die woorde wat hy nie gehad het nie. My man het by die huis gekom, sy moue opgerol en saam met sy seun die slaansak geboks. Hulle was saam seer.

“Dit was ook Johann wat een aand in die kombuis voorgestel het dat Paul ’n verhoogstuk skryf waarin hy sy storie vertel.”

Paul het uiteindelik in sy graad 12-jaar die produksie Slaansak geskryf en regisseer. Dit het temas soos foute en teleurstellings aangeraak, asook die soeke na identiteit, die seer van straf, en skaamwees.

Paul het saam met sy medeskrywer en -regisseur en die res van die ensemble, wat sy broer en suster ingesluit het, ’n storie vertel wat tydens die ATKV-Tienertoneel se nasionale kompetisie in 2023 as die beste slegs-leerder-produksie in die land aangewys is.

Hieroor sê Paul: “Ek was daarvan oortuig dat die Here my geroep het om my storie te vertel. Dit het tot gevolg gehad dat ek aanhou skryf het. Ná ons laaste optrede het dit vir my gevoel dat ek my doelwit bereik het.

“Die toekenning was bloot ’n geleentheid om vir die Here dankie te sê.”

‘Swaarkry leer ons’

Lindie sê: “Die temas in Slaansak raak kwessies aan waaroor veral seuns nie regtig praat nie. En daarom het die stuk ’n geskenk geword vir soveel ander. Dit het genesing gebring vir ’n gemeenskap wat dikwels nie weet hoe om oor moeilike sake met mekaar te praat nie.

“Daar is ’n verskil tussen ’n kind en die fout wat hy gemaak het, en ons moet leer om die onderskeid te tref. Jy is nie jou fout nie. Ek glo Paul se woorde het mense die moed gegee om hulleself te vergewe.

“Daar was selfs groot mans in die gehoor wat trane afgevee het. Slaansak het hulle gehelp om hul waarde as mens los te maak van sukses of mislukking.

“Ek sien soveel jong mense wat baie angstig is oor hul toekoms. Ouers is bang dat hul kinders ’n fout maak of dalk ’n verkeerde beroepsrigting kies. Maar swaarkry leer ons baie oor God se nabyheid.”

“Ons sê so maklik dat ons net die beste vir ons kinders wil hê. Maar in die gejaag na wat ons glo die beste is, verloor ons dalk juis die heel beste. Soms kan jy jou totaal uitbrand met te veel aandag aan fyn besonderhede en jou betrokkenheid by die kinders se dag-tot-dag-dinge – skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite,” vertel Lindie. Foto: Salomien Smal

Om ‘daar’ te kan wees

Hul gesinslewe geniet voorrang, sê Lindie. “Ek is dankbaar om te sê dat ek my eie dagboek kan invul, en só my skryf- en ander verpligtinge óm ons gesin se behoeftes kan inpas.

“Ek het ’n passie vir die onderwys, vir jong mense en vir leierskapontwikkeling. Maar laasgenoemde nie bloot vir die groepie kinders wat as prefekte van hul skool gekies word nie.

“Ek werk gereeld met skole en onderwysers, met genoeg ruimte om my twee jongste kinders se laaste twee jaar op skool ten volle saam met hulle te kan geniet.

“Tussen werkverpligtinge deur, en ons kinders se verskillende aktiwiteite, reis ek meestal alleen as ek iewers moet optree. Al is ons nie altyd almal bymekaar nie, is dit wat ek as spreker of skrywer doen nie ’n ‘ek-ding’ nie, maar ’n ‘ons-ding’.

“Die Here vorm my op ’n besonderse manier deur ons vyf se verhouding met mekaar. My man het altyd ’n dieper insig en ’n unieke perspektief. Hy is eg en eerlik. Hy is goed met mense, maar ook vír mense.

“Van die beste boeke wat ek al gelees het was op sy aanbeveling. Soms sal hy sommer sê: ‘Begin eers by hoofstuk 7 en 8 – dis ’n goeie voorbeeld van die punt wat jy probeer maak.’”

Lindie vertel dat hulle saamkuier en gesprekke om die etenstafel baie kosbaar is. “Ek het in ’n stadium ’n praatjie gelewer oor die lesse wat my kinders my al geleer het – en toe besef ek dat ek genoeg inligting het om ’n hele boek te kan skryf!

“Ek voel skatryk bevoorreg om ‘daar’ te kan wees vir ons kinders, om steeds by soveel van hul aktiwiteite betrokke te kan wees.

“Maar dis asof ek self ook op die drumpel van nuwe dinge staan.

“Ek wil beslis weer ’n bietjie toneel speel, en ’n klompie halwe boeke op my rekenaar voltooi.”

Ná alles wat Lindie my vertel het en al die wyshede waarin ek kon deel, weet ek een ding vir seker: Lindie Strydom sal altyd die ma wees wat ander ma’s inspireer.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.