Dit was 2019 en die laaste week van Anja Coetzee se sewejarige dogtertjie Mia se lewe. Sy het ’n belofte aan haar twee beste vriendinne gemaak: “Ek gaan die Comrades hardloop. Want as sý (Mia) kon uithou, kan ék dit doen.”
In die koffiewinkel waar ons vandag sit is Mia reeds vyf jaar oorlede aan ’n rare kanker. Die jellie-agtige gewas (chordoma) naby Mia se breinstam het haar afgetakel. Die laaste maande van haar lewe kon sy nie meer hoor, praat of regtig eet nie. Mia het nie verniet as “Mia the Brave” bekend gestaan nie. “Sy het bly fight, sy het net nooit ophou fight nie,” vertel Anja oor haar dogtertjie se kankerstryd.
Sowat ’n jaar en ’n half ná Mia oorlede is het Anja aan LiG vertel hoe sy die oggend na klein Mia se dood gaan hardloop het. “Ek kon nie eens ’n kilometer maak nie. Die trane het geloop, maar ek is om die Perdeskoen (’n hoefystervormige roete van sowat 7 km op Wellington). Dit was vir my verskriklik bevrydend,” het sy vertel.
Sedertdien het Anja (43), wat haar eie stofferingsbesigheid op Wellington bedryf, nog nie ophou hardloop nie. Juis omdat Mia se veggees haar so inspireer. ’n Groot prestasie vir iemand wat “super-onfiks” was en voorheen skaars ’n 5 km fun run gedoen het. Oor ’n paar dae vervul sy uiteindelik haar belofte van byna 86 km vanaf Durban na Pietermaritzburg.
Die afgelope paar jaar sedert Mia se dood was letterlik en figuurlik besaai met opdraendes. Tydens Mia se siekbed kon Anja vir maande nie werk nie omdat sy Mia tuis versorg het. Sy het ook baie skuld opgebou as gevolg van mediese kostes vir Mia. Intussen is sy ook van Mia en haar agtjarige dogtertjie Lara se pa Stephen geskei.
Maar Anja het haar ook nie laat onderkry nie. Sy het haar eie besigheid op die been gebring. Sy vertel ook trots dat sy al die helfte van haar skuld kon delg. En dit alles terwyl sy tyd gemaak het om te hardloop.
Mariska van der Wal, wat Sondagoggend saam met Anja in Durban wegspring, oefen die afgelope jaar saam met Anja. Dié twee vroue beplan om Sondag saam oor die eindstreep in Pietermaritzburg te hardloop. Oor Anja sê sy: Die wonderlike ding is dat Anja deur haar hardloop besef het dat ’n mens selfs in jou swakste oomblikke sterk is. Ek dink die hardloop gee haar gedagtes vlerke en maak haar vry van ’n wêreld waarvan hartseer en verlies deel is. Dit neem haar na ’n plek waar niks onmoontlik is nie.”
Klein Mia het voor haar dood haar naam en ’n hartjie op haar ma se arm geteken. Dié stukkie van Mia is nou ’n tatoeërmerk op Anja se pols én pryk Sondag op Anja en Mariska se hoed, sokkies en sweat bands om hulle arms. Lara het ook ’n hoed en sokkies met haar sussie se naam op en gaan by die eindstreep daarmee wag. “Ek voel sommer nou reg vir die lang pad met Mia oral op my, en as ek langs my gaan kyk, Mia se naampie op Mariska. En by die einstreep op my Lallie pop!” sê Anja.
Anja en Lara is reeds in Scottburgh in KwaZulu-Natal en Anja laat weet per WhatsApp: “Ek is ’n bietjie bang maar meer opgewonde oor Sondag. Ek gaan dit vir Mia doen.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.