Jesus het meer as een keer sy dissipels, of die mense wat Hy genees het, beveel om nie te gaan rondvertel wie Hy is nie. Om nie te sê dat Hy die Christus is nie.
Waarom mag hulle dit nie gedoen het nie? Was die waarheid oor Hom dan ’n geheim? Dis tog goeie nuus, die beste!
Ek dink Jesus wou eerder hê dat elke mens self tot die besef moes kom wie Hy is. Die antwoord op wie Hy is, staan nie op ’n plakker op ’n motor se ruit of op ’n bandjie om ’n gelowige se gewrig nie. Sy Naam word nie uitgeskreeu as ’n soort dreigement sodat mense na Hom moet luister nie.
‘Wie, sê julle, is Ek?’
Die antwoord op wie Hy is, en wie Hy vir jou is, lê in ’n ontmoeting met Hom. Hy is die lewende Here, die Een wat saam met jou op reis gaan. Dié reis behels ook ’n daaglikse ontdekking van wie Hy is.
LEES OOK: By God kry boontjie nié sy loontjie nie
Elke mens se reis met Hom is uniek en persoonlik. Om ’n beeld te gebruik wat elke ouer en kind ken: Niemand anders kan jou “geestelike huiswerk” vir jou doen nie; jy kan dit ook nie by iemand afskryf nie. Jy moet Hom self leer ken om regtig te weet wie Hy vir jou is.
Ons lees in Matteus 16:13-17 hoe Jesus met sy dissipels gesels, hoe Hy hulle vra: “‘Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?’ Hulle antwoord: ‘Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.’ ‘Maar julle,’ het Hy gevra, ‘wie, sê julle, is Ek?’ Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’ ‘Gelukkig is jy, Simon Barjona,’ het Jesus vir hom gesê, ‘want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.’”
Uit hierdie gesprek lei ons duidelik af dat Jesus wil weet: Wie, sê jy, is Ek?
Wat het jy van My beleef? Hoe het jy by My gevoel? Wat het jy by My gesien? Wat het jy ontdek? Watter kennis oor My het jy self versamel?
‘Ek het dit self ondervind’
Ons kom uit verskillende agtergronde, en die Here ontmoet ons waar ons is. Dit beteken dat ons Hom op uiteenlopende wyses ontmoet. Maar dis dieselfde Here wat Hom aan ons openbaar. Hy soek ons op; dis nie andersom nie. Hy dreig nie; Hy nooi uit. En, lees ons: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh 1:12).
Ek het ook onlangs gelees hoe iemand sê dat God slegs kinders het, nie kleinkinders nie. Dié woorde het eers tot in my siel afgesak toe ek begin dink het oor die verskil tussen my verhouding met my kinders en dié van my ouers met ons kinders. Jou kinders word in jou huis groot en beleef eerstehands hoe jy is. Wie jy vir hulle is. Hulle kan eendag sê: “Ek was daar. Ek het dit met my eie oë gesien. Ek het dit self ondervind.”
Ek dink aan ’n onlangse insident in ons huis: Iemand klop aan ons voordeur en my seuntjie skree: “Wie is dit, Mamma?” Ek antwoord: “Ek weet nie. Jy moet maar self gaan uitvind!”
En ek wonder of dié onbenullige voorval nie iets verklap van ons ouerlike plig nie. Ons werk is om hulle aan te moedig om self die deur te gaan oopmaak. Om self te kyk.
Dan dink ek aan Johannes se ander beroemde geskrif, waarin Hy dié Jesuswoorde aanteken: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My” (Op 3:20).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.