Hier getuig André Malan hoe God hom aangeraak en genees het. Liggaamlik, maar veral ook geestelik.
Op 24 Junie 2021 het my vrou Juanita haar reuk- en smaaksintuig binne een dag verloor. Met al die Covid-19-stories wat in omloop was, het ons dadelik vermoed wat aangaan en ons het ons begin afsonder. Ek het geeneen van die bekende simptome gehad nie, maar ons het ons gelyktydig vir Covid-19 laat toets.
Ses dae later het ons die bevestiging gekry dat ons toetse vir die koronavirus positief was.
Die Here praat deur drome
Daardie aand het ek gedroom dat ek voor twee swart, baie hoë hekke staan. Ek het my op ’n grondpad bevind wat reguit voor my uitgestrek het. Weerskante van die pad was groen koringlande – álles was grasgroen. Ver voor my was ’n helder wit lig. Ek het by die hek gestaan en geweet dat as ek nou my voet deur daardie hek sit …
Die Here het nie met my gepraat nie, maar ek het presies geweet waar ek my bevind. Ek het Hom gevra dat Hy my moet terugstuur, want my mense het my nodig.
Toe ek wakker skrik, moes ek aan myself voel om seker te maak ek is nie dood nie. Ja, ek was beslis lewendig, maar my hele lyf was yskoud.
Dit was toe dat ek siek geword het.

Juanita was nooit ernstig siek nie, en ek glo dat dit die Here se plan was, want wie anders sou na my kon kyk? In daardie stadium was nie een van ons drie kinders tuis nie; hulle was jong volwassenes wat elk in ’n eie huis gewoon het.
Intussen het ek al hoe sieker geword. Ek was desperaat en het uit pure moedeloosheid na ’n kennis geluister en ’n bepaalde middel gebruik – maar slegs een keer. Ek het steeds sieker geword, en met my asemhaling gesukkel.
Daardie nag het ons jongste dogter Chrismarié gedroom dat haar familie en al haar vriende by die hoërskool bymekaarkom waar sy kort tevore gematrikuleer het. Die skool was aan die brand en almal was op pad hemel toe.
Toe sy wakker word, kon sy die vuur steeds hoor en die hitte voel. Sy kon nie beweeg nie. So het sy vir die eerste keer beleef wat dit beteken om die vrees van die Here te ervaar.
LEES OOK: ‘Ek het die hemel ervaar,’ vertel vrou wat byna aan Covid-19 sterf
Ek het in daardie vroegoggend nóg slegter gevoel.
Chrismarié was destyds in Kaapstad besig om haar as paramedikus te bekwaam en het elke oggend deur middel van ’n video-oproep met ons gesels. Toe sy daardie oggend agterkom dat dit glad nie goed gaan met haar pa nie, het sy besluit om Malmesbury toe te ry, na ons toe. Sy het oor ’n volledige stel PPE-beskermingsklere beskik wat sy tydens haar kliniese werk in die hospitaal gebruik het, en het gereken dit sou handig te pas kom.
Al drie ons kinders was gou by ons huis, maar hulle moes voor die hek bly staan. Ek was vasbeslote om uit te gaan en te gaan groet, maar dit was noodgedwonge ’n baie vinnige groet. Ek was só moeg …
Toe ek weer op my bed gaan lê, het ek met die Here gepraat en gesê: “Here, ek het in my droom by daardie hek omgedraai om na my mense toe terug te kom. Ek weet hulle het my nodig. Maar nou kan U my maar kom haal, ek sien nie meer kans om voort te gaan nie.”
God se aanraking en sy sagte stem
Terwyl ek nou hierdie woorde skryf, sien ek in my geestesoë hoe ek in die sitkamer op die bank gesit het. Hoe ek ’n warm hand op my linkerskouer gevoel het, en ’n sagte stem gehoor het wat vir my sê: “Nou maak ek jou gesond.”
Op daardie einste oomblik het Juanita en ons kinders buite die huis gestaan en ernstig vir my gebid. Chrismarié het tydens hul gebede twee hande gesien wat ons huis omvou.
Iemand het later daardie aand suurstof voorsien én dit elke oggend met ’n vol silinder vervang totdat ek nie meer van suurstof afhanklik was nie.
Net drie dae later kon ek opstaan sonder om moeg te word. Ek was gesond, al kon ek dae daarna steeds die suurstof ruik wanneer ek buite rondgestap het.
Die Here het my gesond gemaak. Ek toon geen newe-effekte van Covid-19 nie, en ek kan weer marathons hardloop soos in die dae voor die pandemie.
Fisieke genesing, maar ook geestelik
Bowenal het die Here my geestelik nuut gemaak. Ek het nog altyd gesê ek is ’n kind van die Here, en ek het altyd gedink ek is op die regte pad. Ek het immers grootgeword in ’n huis waar die Bybel gelees is en het nog altyd aan ’n Bybelstudiegroep behoort. Ek en Juanita en ons twee jongste kinders het gereeld die voorafsang in ’n vorige gemeente gelei. Ek het gehelp Bybels uitdeel en by ouetehuise gesing.
Maar dit was eers tydens my siekte dat ek besef het hoe ver ek eintlik van Hom af was. Die manier waarop Hy saam met my op hierdie siekte-pad gestap het, en die intieme belewenis wat ek gehad het, het my laat besef: Sestig jaar lank het ek net volgens hoorsê van Hom geweet.
Noudat ek Hom werklik ontmoet het, neem ek met groter vrymoedigheid deel aan ons Bybelstudiebyeenkomste. Want Hy het my aangeraak. Sy boodskap is dat ek sy liefde moet versprei, en dit sal ek doen oral waar ek gaan. Ek sal vir almal sê: “Jesus het jou lief!”
My ontmoeting met God, asook Paulus se woorde in Filippense 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee –” het my lewe verander.
- André Malan is van Malmesbury.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















