DEUR JACOBIE M HELENA
“Ek is verwonderd oor hoe God haar geskep het. En ek wil haar net soen en soen …” sê nuwe ma en LiG-redakteur, Francine Prins, oor haar week oue babadogtertjie, Katinka. Sy het met JACOBIE M HELENA oor die vreugdes, uitdagings en verdieping wat moederskap bring, gepraat.
Wat verras jou van moederskap?
Ons het reeds baie kleinkinders in ons familie, so ek is redelik gewoond aan kinders. Om nou my eie klein bondeltjie te hê is nogal oorweldigend, maar oor die algemeen het Katinka se koms net bevestig wat ek weet: babas huil gereeld, en maak baie doeke vuil. Maar ek was nie voorbereid op hoe diep en groot ’n mens se liefde kan wees vir so ’n klein wesentjie nie. Dit bring die grootste vreugde om haar vas te hou en na haar te kyk en kyk en kyk.
Wat my wel verras het rondom ma-word is al die administrasie! Mediese fonds-admin, doktersafsprake, registrasie van geboorte, werkloosheidsversekering, ens. Ek vermoed Covid-19 maak dit ook nie vir ons makliker nie.
Wat is vir jou die lekkerste en grootste seën as nuwe mamma?
Dat ek nou ’n pasgebore baba kan soen en soen, en haar soveel as wat ek wil in my arms mag vashou. Dat ek my kan verwonder aan elke klein detail van haar: sy het sulke lang, ligte wimpers en perfekte ore, daardie lyntjies op haar vingertjies en haar perfek gevormde naels – ek is verwonderd oor hoe God haar geskep het.
Dis vir my ’n seën om ouerskap saam met my man, Jaco, te beleef. Dis asof hy iewers ’n pa-wees-kursus gaan loop het, want hy hanteer en versorg ons pasgebore babatjie so gemaklik en natuurlik. Daar het ook ’n diepte in ons huwelik ontstaan as gevolg van Katinka – dis baie kosbaar.
Wat is grootste uitdaging van moederskap?
Ek hou van slaap, en nou kry ek maar min en onderbroke slapies in. Dit bly ook maar ’n uitdaging om jou baba se behoeftes te verstaan, en te probeer uitpluis waarom sy huil.
Wat het jy nuut van God geleer? Hoe beïnvloed moederskap jou geloof?
Ek het al beleef dat God prakties is, en nou beleef ek dit weer. Soms sal ’n gedagte my te binne skiet oor wat ek volgende met Katinka moet doen as sy knieserig raak. As ek agterna daaraan dink, dan weet ek dis die Heilige Gees wat my raad gee.
Ons baba is nou maar eers bietjie meer as ’n week oud. Dit is soms vir my nog oorweldigend, en ek is baie emosioneel. Ek sukkel om my aandag lank genoeg op ’n sinvolle gebed tot God te fokus. Maar iewers het Hy my kom troos met die gedagte dat ek nie deur my eie toedoen sy teenwoordigheid hoef te “bewerkstellig” nie. Hy is by my – of ek nou doeke omruil of die kosbare tyd van borsvoed geniet. Hy sal my nooit verlaat nie, en is altyd getrou.
Lees Francine se nuutste redeakteursbrief hier.