Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

My huwelik – Kritiseer ek te gou, te maklik?

Aanhoudende kritiek is afbrekend. Elke negatiewe opmerking in ’n verhouding of huwelik lei tot die vernietiging van vertroue. Hoe weet jy of jy te krities is?

Aanhoudende kritiek is ’n gif wat stadig werk. Elke afbrekende opmerking in ’n verhouding of huwelik lei, stadig maar seker, tot die vernietiging van positiwiteit en vertroue. En soms is die een wat so graag kritiseer nie eens van die verwoestingswerk bewus nie. Hoe weet jy of jy te krities ingestel is? 

Woorde, sê die slim mense, is een van die vernaamste aanleidings tot ’n huwelik wat misluk. “Daar is woorde wat seermaak en woorde wat doodmaak,” sê pastoor Hansie Smit van Step Ministeries in Pretoria. 

“Wanneer ’n man sy vrou aanrand, is daar blou kolle wat dit uitwys; emosionele mishandeling, met woorde wat verpletter, laat geen blou kolle nie. Die ironie is dat die blou kolle ná ’n maand verdwyn, maar die letsels van verbale mishandeling bly soms ’n leeftyd.” 

Die verwoesting wat dit saai … 

Aanhoudende kritiek het ’n negatiewe uitwerking op jou maat se selfbeeld. ’n Huweliksmaat wat voortdurend gekritiseer word, word nie net diep seergemaak nie, maar begin ook later aan hom/haarself twyfel. “Sal ek ooit goed genoeg wees?” 

Dit vernietig vertroue. Dis moeilik om iemand te vertrou as jy reken dat jy nie gerespekteer word nie. Wanneer een van die huweliksmaats knaend ’n probleem met die ander een het, word dit waarskynlik as disrespekvol beleef en lei dit tot ’n vertrouensbreuk. 

Intimiteit ly daaronder. Dis moeilik om liggaamlik en emosioneel na aan iemand te voel as jy voortdurend deur daardie een gekritiseer word. 

Kritiek verander nie werklik jou maat se gedrag of persoonlikheid nie. Partye in ’n gesonde verhouding probeer om die beste in mekaar na vore te bring. Maar wanneer een persoonlik raak en begin om beledigings rond te slinger, is die kanse op gedragsverandering bitter skraal. Dit word, inteendeel, ’n bose kringloop, wat tot niks goeds lei nie. 

Harde woorde word mettertyd emosionele mishandeling. Wanneer jy aanhoudend kritiek uitspreek, word dit later ’n patroon. Die negatiwiteit bou op en op – en later is dit feitlik onmoontlik om die verhouding te herstel. 

Hoe om dit te voorkom 

Wees op die uitkyk vir die positiewe 

Verander jou fokus. Word bewus van wat jou maat goed doen in jul huwelik. Dis dalk aanvanklik moeilik om iets positiefs raak te sien, maar hoe gouer jy op ’n ander manier begin kyk, hoe gouer gaan jy ’n positiewe verandering in jul verhouding bewerkstellig. 

Hansie sê die huweliksmaats se positiewe woorde aan mekaar bring ’n onverwagse bonus mee: “As jy jou maat opbou, is jy die een wat die meeste daarby baat.” 

Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê navorsing het uitgewys dat ’n gelukkige paartjie ’n ratio van 5:1-positiewe gedrag in hul verhouding beleef. Dit wil sê daar is vyf keer meer positiewe interaksie (byvoorbeeld aktiewe luister, waardering, komplimente) as wat daar negatiewe interaksie is. 

Maak tyd vir gesels 

Dr Irene Strydom, ’n sielkundige op Mosselbaai, sê dis belangrik om weer te kyk na waarom jy destyds met jou maat getroud is. En om te probeer onthou hoe julle toe teenoor mekaar opgetree het. 

Wat het intussen verander? Was die klein jakkalsies maar altyd daar, of is dit nuwe dinge wat pla? 

Sy sê huweliksmaats moet op ’n gesonde, kalm manier met mekaar kommunikeer. As jy voel jou maat is te krities, sal dit help as julle daaroor praat. Sy stel voor dat julle doelbewus daarvoor tyd maak, verkieslik in ’n veilige, beskermde omgewing en sonder die moontlikheid om deur ander mense of ’n selfoon onderbreek te word. 

Konstruktiewe uitdrukking 

Haasbroek sê daar kom in enige verhouding tye waar negatiewe gevoelens die oorhand kry. “Dié gevoelens moet egter só gekommunikeer word dat jou maat dit nie as kritiek ervaar nie. Iets soos ‘ek is rêrig baie teleurgesteld dat jy weer laat moet werk vanaand’ sal byna vir seker ’n ander reaksie ontlok as ‘jy gee duidelik nie om vir my of die kinders nie’.” 

Dis nie persoonlik nie 

Mense maak foute, hulle word moeg en hulle het soms net te veel hooi op hul vurk. Daarom is jou maat se negatiewe opmerkings nie noodwendig op jou gerig nie; daar het dalk iets by die werk gebeur. Waak dus daarteen om jou maat se woorde letterlik te vertolk of om dit onmiddellik op jouself van toepassing te maak. 

Bly eers stil … 

Jy hoef nie dadelik te reageer nie; haal eers diep asem, byt op jou tong, tel tot by tien. Luister aandagtig na wat jou maat sê, sonder om te wil verduidelik of verdedig. As dit nodig is, verlaat die vertrek. Word eers kalm voordat jy iets sê waaroor jy later spyt is. 

Kommunikeer met respek 

Sorg dat jou maat goed hoor wat jy wil sê. As jy met ’n negatiewe opmerking of ’n belediging begin, sal jou maat doodgewoon nie verder luister nie. Praat oor die irritasies of die aanstootlike gedrag, as dit dan moet, en nie oor jou maat se menswees nie. 

Aanvaar jou maat se persoonlikheid 

Jy sal nie jou maat se irriterende gewoontes of simpel sêgoed verander deur aanhoudend daarop te hamer en dit luidkeels te kritiseer nie. Fokus eerder op die sterkpunte en breek die nare kringloop van harde-woord-en-harde-antwoord. 

Fokus op wat jy wil bereik 

Fokus op wat jy graag wil verander. Vergeet van woorde soos “nooit” of “altyd”. En vermy “jy is”-sinne soos die pes – “jy is altyd laat”; “jy is nooit hier as ek jou nodig het nie”. Begin eerder jou sinne met iets soos “ek voel dat …” of “ons moet miskien …”. 

Kies jou ‘gevegte’ 

Soms is dit nodig om sekere dinge net te ignoreer. Om jou skouers op te trek en aan te gaan. Om oor elke kleinigheid ’n bohaai op te skop is teenproduktief. Onderskei tussen wat regtig saak maak en wat nie, en beperk jou kritiek tot die ernstige sake. 

Hanteer jou eie stres 

Die kanse is groot dat jy baie minder krities teenoor jou maat sal wees as jy jou eie stres beter hanteer. Kry iets wat jou hiermee help, of dit nou stiltetyd, oefening, medikasie of enigiets anders is. 

’n Wenk vir jou, Mevrou 

Jy weet jou man kyk elke Saterdagmiddag sport op televisie. Dit sal nie help om hom te vertel dat hy lui is nie, of dat hy nie Saterdae tyd aan jou wil afstaan nie. Aanvaar sy (voorspelbare) gedrag op ’n Saterdagmiddag, en bederf jouself met iets spesiaals wanneer hy sport kyk. 

Wees op die uitkyk vir dié rooi ligte in jou eie gedrag 

  • Jy is krities teenoor jouself, veral as jy ’n fout gemaak het. 
  • Jy het in ’n huis grootgeword waar jou ouers hoë verwagtinge van jou gekoester het. 
  • Jy is ’n perfeksionis. 
  • Jy sal maklik ’n aanmerking maak oor ander se voorkoms of besluite. Strydom sê dié soort kritiek is dikwels ’n projeksie van jou eie ongemak en irritasie. 
  • Ander mense het al vir jou gesê dat jy te krities is. 
  • Jy voel gou dat iemand jou te na gekom of beledig het.
  • Dis makliker vir jou om fout te vind met ander se gedrag as om hulle te prys vir wat hulle goed gedoen het. 
  • Jy fokus op die 10% wat jou maat nie gedoen het nie, en vergeet van die 90% wat wel gedoen is. 
  • Jy “bestuur” jou maat, en as iets nie gedoen is soos jy dit wou gehad het nie, sal jy dit ná die tyd oordoen.  
  • Jy is geneig om ander se gedrag as negatief te beskou. 

Ons kenners

  • Dr Irene Strydom, sielkundige, 082 956 4080. 
  • Irene Haasbroek, multidissiplinêre praktisyn, 082 378 5780. 
  • Pastoor Hansie Smit van Step Ministeries, 083 457 5049, slegs WhatsApp

Lees nog artikels oor die huwelik en verhoudings.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF