Dit gebeur met almal: Opeens besef jy dat jy nie meer jonk is nie. Waar is die jare heen? En nou probeer jy inhaal. Koop ’n nuwe kar. Gaan oorsee. Koop nou, betaal later.
Maar soms … is die prys te hoog. Hoe nou?
Wat is ’n middeljarekrisis
Wat is ’n middeljarekrisis? kan jy jouself afvra.
Dit is een vraag met vele antwoorde:
- Dis wanneer jy nie meer seker is wie jy werklik is nie.
- Jy is tussen 40 en 60 jaar oud – en jou selfvertroue begin eensklaps taan, en jou emosies begin wipplank ry, en jou verhouding met jou maat begin wankel.
- Jy kom agter jy word ouer en jy skop hewig daarteen. Jy oorweeg groot veranderings aan jou leefwyse. Jy wil die wêreld wys, en jouself, dat jy eintlik nog in die fleur van jou lewe is.
- Wanneer iemand jou uit die bloute as “tannie” (of “oom”) aanspreek.
Éintlik, kan jy uit bogenoemde aflei, is dit maar soos dit in die werklike lewe lyk. Dit gebeur met almal. Die kinders verlaat die huis en begin hul eie potjie krap.
Jy het skielik tyd om te dink oor die stuk lewe wat agter die rug is – en te wonder oor jou keuses, ook oor daardie dinge wat jy toe nié gedoen het nie.
Soms lê jy wakker en verwyt jouself. Of jy lê en beraam nuwe planne. Of jy lê maar net, en die slaap wil nie kom nie …
Wanneer rooi ligte flikker
Nie almal ervaar dié fase in hul lewe op dieselfde manier nie. Daar is allerlei vrae wat nou na die oppervlak borrel – waarvan baie te doen het met jou eie sterflikheid. “Die lewe is kort!” sug jy. En: “Waar is al my jare heen?”
Dis normaal. Daar is wel sekere gedragsveranderings waarop jy, en die mense om jou, bedag moet wees. Dit sluit in:
- Gedurige selfkastyding oor mislukte verhoudings en foute in die verlede.
- ’n Fokus op vorige of toekomstige romantiese verhoudings.
- ’n Verandering in jou slaappatroon.
- Jy voel ongemotiveerd.
- Jou energievlakke is laag.
- Jy verloor gewig, of jou gewig neem toe.
- Jy is ongekend buierig.
- Jou verhouding met vriende of familie gaan die kreeftegang.
- Jy verloor belangstelling in jou eens geliefde stokperdjie of sport.
Daar is ook diegene wat hul verbygegane jeug probeer “herwin” – mans wat ’n sportmotor aanskaf, en vroue wat kosmetiese chirurgie oorweeg.
Jy (of julle al twee) wil ten alle koste oorsee gaan rondrits en plekke sien en dinge doen waaroor julle nog altyd ge-droom het. Jy (en julle) weet daar is nie juis geld daarvoor nie.
Soms kom ouderdoms-onvanpaste gedrag voor, en jy is later dankbaar die kinders was nie daar om hulle te skaam nie.
Wanneer jy iewers tot stilstand kom, vra jy jou dalk af: Is ek nie bloot depressief nie?
Dis ’n geldige bekommernis. Maar daar is ’n groot verskil tussen iemand wat aan depressie ly en een wat ’n middeljarekrisis deurmaak. As jy ná veertig eensklaps ’n identiteitskrisis beleef, kán dit tot depressie aanleiding gee, maar ook nie altyd nie.
En nie alle depressielyers beleef ’n middeljarekrisis nie. Dis dus belangrik om vas te stel waar die probleem werklik lê indien jy onraad vermoed. Dan is dit raadsaam om professionele hulp in te roep.
Wat staan my te doen in die middeljare?
Irene Haasbroek, ’n multi-dissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê in dié tyd is kommunikasie baie belangrik. “Wees eerlik met jou lewensmaat oor alles wat vir jou moeilik is om te aanvaar. Al is dit ongemaklik om daaroor te gesels of moeilik om dit aan te hoor.”
Sulke gesprekke is gewoonlik ’n groot toets vir ’n verhouding, omdat jy jou kwesbaar maak. Irene sê: “Julle mag dalk nie dadelik al die oplossings vind nie, maar deur behoorlik met mekaar te kommunikeer, kan julle saam ’n pad vorentoe kry.”
Hoe om die middeljare te hanteer
Leer om te luister
Elkeen ervaar ’n middeljarekrisis op ’n ander manier. Dit help egter om werklik na jou maat te luister wanneer jy sien hy/ sy sukkel om deur hierdie fase te beweeg. Probeer om nie te oordeel nie, veral as jy die een is wat die oudwordproses makliker hanteer. Skep ’n veilige omgewing waarin jou maat met jou kan gesels.
Bly aktief
Sorg dat jy aktief bly. Sluit aan by ’n stapgroep, of begin lae impak-oefening doen, of pilates. Enigiets wat jou sal help om jou midrif-spiere te versterk, en om jou gees te laat gedy. Verlaat ’n slag jou gemaksone en stel jou oop vir nuwe voorstelle. Wat van baldansklasse?
Leer ’n gesonde gewoonte aan
Begin klein, en besluit op een verandering op ’n slag. Kies byvoorbeeld om die trappe te klim in plaas daarvan om die hysbak se knoppie te druk. Pak ’n gesonde middagete in vir die werk. Leer hoe om water te drink.
Jy kan selfs besluit om van jou minder goeie gewoontes af te leer. Drink slegs naweke ’n glas wyn; probeer om op te hou rook; eet minder soetgoed. Begin net!
Is die middeljare maklik? Nee, helaas nie
Dis nie altyd maklik om ’n lig in die tonnel te sien nie. Huweliksmaats moet oop wees vir verandering en gewillig om aan te pas. Die lewe “gebeur”, en mense verander.
Irene sê: “In ’n suksesvolle huwelik slaag die paartjie daarin om aanpasbaar te wees, om in voeling te bly met mekaar, en om te besef hulle kom teen ’n probleem te staan en nie teen mekaar nie.”
My geld het gegroet
As jy gedurende die krisis oorboord gegaan het met ’n duur motor, ’n luukse strandhuis of ’n oorsese vakansie, draai dadelik die krane toe. Gaan spreek ’n finansiële raadgewer en speel oop kaarte.
Stel ’n begroting op, begin weer ’n neseier opbou. Daar is waarskynlik skuld wat afbetaal moet word; begin deur dié met die hoogste rentekoers eerste af te betaal. Kyk of jy van dié dinge wat oorhaastig aangekoop is ontslae kan raak sonder om te veel skade te ly.
Dis ’n geleentheid
Jy hoef nie in sak en as te gaan sit nie. Beskou dié tyd as ’n geleentheid vir persoonlike groei.
Wat wou jy nog altyd gedoen het? Pak ’n nuwe stokperdjie aan, leer ’n nuwe taal, skryf in vir daardie rekenaarkursus waarop jy nog altyd jou oog gehad het.
Belê in jouself en in jou verhoudings. Dalk kan jy en jou maat ’n nuwe passie ontdek en byvoorbeeld ’n kookkursus saam bywoon. Daar is baie sulke geleenthede wat op paartjies fokus.
Sorg vir pret
Moenie vergeet om die lewe te geniet nie. Sorg doelbewus vir iets lekkers in dié tyd. Irene sê: “Een van die krisisse in die middeljare is dat die ‘lekker’ in die lewe verdwyn het. Ja, sinvolle gesprekke met jou maat is nodig, maar dis ook belangrik om saam pret te hê.
“Indien julle die voor die hand liggende uitdagings kan identifiseer en dit in groeigeleenthede kan omskep, en betekenisvolle aanpassings maak, kan julle albei sterker anderkant uitkom.
“Maar as dit blyk dat julle hulp nodig het, moenie te lank wag om by ’n kundige aan te klop nie. Dis dikwels nodig dat ’n onverbonde buitestander julle bystaan om die regte keuses te maak, en daarby te hou. Geen krisis hoef die einde van jul huwelik te beteken nie.”
Lees nog artikels oor die huwelik en verhoudings.