Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

My reis na heelwording

Felicia Goosen

Sy is in ’n tronk in Thailand gebore. Op haar derde verjaardag is sy na Suid-Afrika teruggestuur waar sy in pleegsorg geplaas is. Sy is onlangs weer Bangkok toe, hierdie keer op ’n uitreik. Sy wou afsluiting kry. Genesing vind.

DEUR DEONETTE DE KOCK

Die 24-jarige Felicia Goosen gesels met LiG ná haar onlangse terugkeer van die Lard Yao-gevangenis in Bangkok. Die plek waar haar ma, Vanessa Goosen, eens ’n semi-finalis in die Mej Suid-Afrika-kompetisie, sestien jaar deurgebring het vir beweerde dwelmhandel.

Vanessa is op 30 Oktober 2010 vrygelaat. Felicia was toe 16 jaar oud. Haar pleegma, Melanie Holmes, is drie maande voor haar ma se vrylating oorlede.

“Om my verlede in die oë te kyk”
Felicia is volwasse vir haar jare. Sy is ’n vasberade, sterk, gelowige jong vrou met uitdrukkingsvolle donker oë. “Ek wens ek kon weet hoe dit voel om ’n normale dogtertjie te kon wees …

“Ek was 16 jaar oud toe my ma uiteindelik vrygelaat is, ek moes haar van nuuts af leer ken. Ek was kwaad omdat ek so lank sonder haar moes klaarkom. Boonop het ek gesukkel ná my pleegma se dood. Om alles te kroon, het ek in daardie tyd vir die eerste keer my biologiese pa ontmoet.

“Op 19 het ek in ’n diep depressie verval. Ek het snags op die vloer geslaap, voor ’n TV gesit wat nie aangeskakel was nie, ek wou nie opstaan nie, ek wou nie bad nie. Ek het straf gedrink, ek het myself seergemaak. Ek het herhaaldelik probeer selfdood pleeg. Ek het antidepressante gebruik, en pynmedikasie en angsmedikasie. Ek het paniekaanvalle gekry.”

Só rits sy die besonderhede van ’n traumatiese tyd af. Maar daar was ’n draaipunt in sig.

Geborg

“My ma het op ’n stadium haar voet neergesit en gesê ek moet ophou om myself jammer te kry. Ek moet opstaan en ’n verskil maak.

“Ek was baie kwaad vir haar. Hoe kón sy so iets sê …?

“Maar ek het geweet sy is reg. Uiteindelik het sy my na Jesus gelei, en ek het my lewe aan Hom gegee. Dit was ’n keerpunt.

“Ek het wel besef dat ek nie met my lewe sou kon voortgaan voordat ek nie na die plek terugkeer waar ek my eerste drie jaar deurgebring het nie. Ek het eensklaps ook sekere dinge begin onthou: reuke, geluide, emosies, gevoelens. Hoe bang ek was toe ek die tronk moes verlaat, hoe alleen. Hoe my ma my met trane in haar oë gevra het om sterk te wees vir haar.

“Ek het ook onthou hoe ’n bejaarde Amerikaanse egpaar op my derde verjaardag vir my ’n partytjie by hul huis gehou het.”

Toe kom die kans op herstel.
Felicia vertel: “Dit was God wat my gelei het om saam met ’n Thailand-uitreikgroep van ses lede Bangkok toe te gaan. Dit was gerusstellend om as een van ’n groep te kon gaan, almal was baie ondersteunend.

“Ek was bitter bang om weer in die tronk in te gaan. Maar ek het geweet ek kon nie meer van myself weghardloop nie, ek moes my verlede in die oë kyk. Ek moes as ’n heel mens na Suid-Afrika toe terugkeer.”

Geborg

Die uitreikgroep het die Lard Yao-tronk twee maal besoek. Daar was agt Suid-Afrikaanse vroue in aanhouding.

“Daardie eerste keer was ek erg gespanne,” vertel Felicia. “Alles het net so bekend gevoel. Ek het die geluide onthou, die reuke. Die koue kos en die koue storte. Ek het sommer net gewéét waar alles is.

“En ek het onthou. Ek kon myself as klein dogtertjie sien. Hoe ek die trappe op- en afhardloop. Ek het onthou hoeveel keer ek my klein handjie teen die glasvenster gedruk het. Soveel herinneringe, soveel emosies. Soveel seerkry en woede.

“Maar ek wóú daar wees. Ek wou my getuienis met die vroue in die tronk deel, ek wou hulle emosioneel versterk. Ek wou hulle wys dat ek en my ma daardeur is, dat ons dit gemaak het.”
Twee van die bewaarders het haar onthou. Hulle kon met mekaar gesels, en die een het vir haar foto’s gewys en haar ’n drukkie gegee.

“Toe ek die Suid-Afrikaanse vrouegevangenes daar ontmoet, kon ek in hul oë die swaarkry sien. Dit was só hartseer. Maar dit was wonderlik om met hulle te kon gesels, om hulle te probeer hoop gee.

“Hulle leef onder haglike omstandighede. Hulle slaap op ’n mat op die koue vloer, daar is net koue water. Hulle moet ’n puttoilet gebruik, ten aanskoue van almal. Hulle moet self vir alle klere en mediese hulp betaal.”

Aan Jesus se voete
Felicia vertel dat sy tydens daardie eerste besoek emosioneel verdoof gevoel het. Die werklikheid het haar eers ’n paar dae later getref.

Geborg

Dit was al die herinneringe, sê sy. Dit het haar onkant gevang.

“Maar my kamermaat is deur God oor my pad gestuur, Carien Loubser. Elke keer as ek emosioneel stukkend was, het sy my getroos. Een aand het ek op my bed gelê en begin huil. Ek kon net nie meer die seer hanteer nie.

“Carien het weer by my kom sit, my vasgehou, my getroos. En ons het saam gebid.”

 

“Die tweede besoek aan die tronk het plaasgevind net voordat ons moes terugkeer,” vertel Felicia. “Dit was nóg moeiliker as die eerste een.

“Toe ek daardie keer met die vroue praat, het ek begin huil. Hulle het my getroos. En toe het húlle begin praat …

“Hulle het my van hul kinders vertel, en hoe hulle verlang. Ek kon hulle bemoedig, ek kon hulle vertel hoe ek oorleef het. Ek kon hulle vra om vir hul kinders te bid.

“Daarna, ná hierdie traumatiese tweede besoek, het ek myself vergewe. Die tronk, almal wat destyds daar betrokke was … Ek het alles aan Jesus se voete gelê.

“Ek het oplaas besef ek kan nie hierdie gewig verder dra nie. Ek het God gevra om my deur sy krag heel te maak. Daardie dag het ek daar weggeloop sonder enige bagasie. Die beklemmende gevoel waarmee ek so lank rondgeloop het, het skietgegee. Ek was vry.”

Sy kon ook die bejaarde Amerikaanse sendelinge besoek. Sy het hierdie egpaar wat indertyd vir haar ’n verjaardagpartytjie gereël het, gaan bedank.

Heel, om heel te maak
Carien, Felicia se kamermaat tydens die uitreik, vertel: “Felicia se besoek aan die Amerikaanse sendelinge het ’n belangrike keerpunt gebring. Hulle het haar vertel presies hoe sy gereageer het toe sy die eerste keer die buitewêreld gesien het. Watter soort dogtertjie sy was. Dit het heling gebring.

“Felicia is só broos – maar sy is so gelowig. Sy is ’n inspirasie.”

 

Vandag het Felicia ’n BSc-graad agter haar naam. Sy is ’n jeugberader in Johannesburg. In 2015 het sy “Jewels and Gems” van stapel gestuur, ’n program wat deur middel van ’n holistiese benade­ring poog om jong mense met hul groot lewenskrisisse te help.

Dis vir haar belangrik dat dié jong mense weet dat hulle belangrik is, dat hulle geliefd is, dat hulle ’n doel op hierdie aarde het.

“My besoek aan die tronk het my weer heel gemaak. Ek kan nou my storie aan ander vertel, met ’n oorwinningsgevoel, met vrede. Ek was geseënd om te sien watter impak my reis op mense in die Thaise tronk gehad het. Ook hulle het heling deur my verhaal gevind.

“Die belangrikste les wat ek met my terugkeer na die tronk geleer het, is dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. My seer verlede het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek het oorleef. Ek is dankbaar.

“Nou kan ek my lewe voluit leef. Ek sien uit na wat God vir my in die toekoms beplan.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.