Deur Corrie Henning
My man, Jan Henning is in 2015 met prostaatkanker gediagnoseer. Dit het vir twee jaar goed gegaan en hy het goed herstel en reageer op behandeling.
Gedurende 2017 raak hy siek en daar word vasgestel dat die kanker weer hervat het. Januarie 2018 word hy weer gediagnoseer met kolonkanker en na die operasie waartydens die gewas verwyder is ontvang hy chemo. Hy word vier maande later ook met limfklierkanker gediagnoseer en kry ook daarvoor chemo- behandeling asoook bestraling.
Januarie 2019 word hy weer ernstig siek en is sy HB-bloedtellig asook plaatjietelling geweldig laag en kry hy weereens bloedoortappings soos hy ook reeds die vorige jaar ontvang het daarvoor. Gedurende Februarie word hy gediagnoseer met Myelo dysplastic sindroom (MDS). Kanker wat die beenmurg verhoed om rooibloedselle en bloedpaatjies te vorm. Ons word meegedeel dat daar medies gesproke nie meer enige hulp of behandeling vir genesing is nie. Hy was die afgelope 21 maande dikwels in en uit die hospitaal vir behandeling en bloedoortappings. Hy verlaat vir die laaste keer die hospitaal op 7 Maart 2019 om by die huis te wees waar ek die voorreg gehad het om hom tot die einde te kon versorg.
Wat beteken 3, 5 en 6?
Op Dinsdag 19 Maart 2019 sou dit Jan se laaste dag op aarde wees. Laatmiddag , na 5 uur is Jan baie onrustig en wil heeltyd probeer opstaan, maar is so swak dat ek hom maar help om weer te lê. Daar is nou ook ’n roggel in sy keel.
Jan vra ek moet hom help om in die swembad te kom. Hy versoek my drie keer om hom te help. Ek probeer verduidelik dat ons nie meer ’n swembad het nie en dat hy maar rustig kan wees. Hy versoek my om sy broek wat van die “swem” nat is uit te trek, want hy het geglo hy was in die water.
Jan sê dringend vir my dat ons die nommers 3, 5, 6 moet onthou. Hy herhaal dit weer dat ons nie die syfers 3, 5, 6 moet vergeet nie. Hy dring daarop aan dat ons dit moet onthou. Ek het nie ’n idee wat dit beteken nie.
Jan bly baie onrustig en wil nie bly lê nie. Ek probeer hom kalmeer en ek lê hom weer neer. My vriendin Eanette kom kyk hoe dit gaan. Jan beur weer op en ek help hom weer om te lê en probeer hom gemaklik maak. Ek merk op dat sy oë skielik nie meer helder na my kyk nie, dit is asof ek in glas kyk. Ek en Eanette maak hom rustig en hy raak aan die slaap – vermoedelik in ’n koma want hy sou nie weer sy oë oopmaak nie.
Om 11:00 raak die asemhaling flou en vlak en skielik hou hy net op met asemhaal. Ek besef hy is weg na sy Hemelse Vaderhuis. God het gegee en God het geneem. Sy tyd op aarde is afgemeet en nou is hy waar daar geen meer lyding is nie. Ek weet verseker – dit is wel met sy siel.
My dagboekinskrywing van Sondag 13 Oktober 2019
Vanoggend, soos my gebruik is vandat Jan oorlede is, raak ek baie vroeg wakker en is dit my hartseer tyd saam met die Here wanneer ek probeer sin maak van die moeilike tyd wat Jan moes deurmaak met sy siekte en die kanker wat sy liggaam afgebreek en verteer het. Die vrae wat in my kop ronddraai bly onbeantwoord.
Dit is dan wanneer ek my eie nietigheid en sterflikheid opnuut intens ervaar. Al wat ek kan doen is om net op God te bly vertrou en soos ’n kindjie te glo dat God in beheer is, en alles vir ons, sy kinders, ten goede laat meewerk. Ek bid vanoggend, soos elke dag, tot Ons Vader om vandag vir my te versterk en te vertroos sodat ek in staat sal wees om die alleenpad met Sy hulp te stap en vol te hou.
Ek gaan kerk toe.
Ds Alkmaar Swart van die NG gemeente Magalieskruin hou vanoggend die diens. Ons Skrifgedeelte is uit Johannes 5:
Die genesing op die sabbatdag by Betesda (Betesda beteken plek van genade).
Jesus vra die man wat al 38 jaar siek was of hy gesond wil word. Die sieke het Hom geantwoord:
“Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie.” Jesus sê vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”
Onmiddellik dink ek aan Jan wat ook op sy laaste dag my versoek het om hom in die swembad te help. Skielik is dit asof die syfer 5 vir my betekenis kry – Skrif uit Johannes 5.
Ons lees ook Johannes 5: 24-25.
(24) “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe.” Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. (25) Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dis nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en die wat daaraan gehoor gee, sal lewe.”
Ek is verstom oor die Skrif wat so helder en duidelik tot my spreek – asof ek God se stem kan “hoor”.
Ek dink dadelik aan die syfers 3, 5 en 6 waarop Jan aangedring het ons moet onthou. Sou dit dalk kon beteken skrif uit Johannes 3, 5 en 6? Ek blaai onmiddellik na Johannes 3 en my oog val op Johannes 3:3.
Daarop sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Ook Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Wat ’n troos en versekering ontvang ek nie hier uit God se Woord nie! Ek blaai gou verder na Johannes 6.
Die volgende Skrifgedeeltes staan duidelik voor my op:
Johannes 6:29: “En Jesus antwoord hulle. ‘Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.’”
Johannes 6: 37-40: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom, en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. (38) Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. (39) En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. (40) Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”
Ek lees ook verder…
Johannes 6:47: “Dit verseker Ek julle Wie in My glo, het die ewige lewe.”
Johannes 6 : 62 – 63: “Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? (63)Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.”
Hierdie Skrifgedeeltes het binne die bestek van enkele minute tot my gekom. Ek het nie rondgeblaai om daarna te soek nie, net na die hoofstukke geblaai en die skrifgedeeltes het asof vanself na vore gekom. Ek kan nie anders as om te glo dat God Drie-Enig in Jan se laaste sterwensuur hierdie boodskap na ons gestuur het nie. Dit het vandag duidelik in ’n paar minute tot my deurgedring dat ek voorwaar nie die getal/syfer 3, 5 en 6 mag vergeet nie. Johannes 3, 5 en 6 gee aan ons die sekerheid dat ons die ewige lewe sal beërwe as ons glo in die verlossing wat ons in Jesus Christus ontvang wie deur God die Vader na ons as mens gestuur is om ons van ons sonde te verlos. Ek is ook dankbaar in die wete dat ook die Heilige Gees ons trooster is.
Toe ek hierdie gedeeltes vanoggend lees kon ek nie meer twyfel aan die getalle nie, dit is asof God dit deur Jan na ons gestuur het. Dit het eers na 7 maande na sy afsterwe tot my gekom. Ek prys die Here daarvoor! Dit bring ongetwyfeld ook die sekerheid dat Jan werklik met ons Hemelse Vader herenig is en dat die lewenssirkel volledig voltooi is. Volmaak soos wat God dit vir sy kinders bedoel.
Na kerk roep Marlien McCallaghan my en vra of ek vanmiddag saam met haar na ’n musiekvertoning van Romanz en ander musikante by Moreletapark-gemeente wil gaan kyk. Dis vir my opvallend dat die geleentheid geopen word met Jan se geliefde skrifgedeelte Psalm 23. Ek glo nie hierdie is toeval nie. Ek ervaar ’n baie besonderse boodskap ook hierin.
Dit is ’n wonderlike vertoning van lofprysing met liedere soos oa Houtkruis, Amazing Grace, Sweef soos ’n arend, What a friend we have in Jesus, Jerusalem en ook ander geestelike liedere. Die middag word afgesluit met die vertroostende lied – Dit is wel, dit is wel met my siel. Wat ’n wonderlike belofte vir God se kinders.
Hierdie dag is voorwaar vir my ’n antwoord op gebed en die syfers 3, 5 en 6 het beslis ’n onvergeetlike betekenis vir my en ook vertroosting gebring. Ons kan dan nou met verwagting uitsien na die dag wanneer ook die sirkel van ons lewe volledig voltooi word en indien ons Jesus as ons verlosser aangeneem het, ons ook die ewige lewe met sekerheid tegemoet kan gaan.
Prys die Here, God is Almagtig!
Mag ook jy wat hierdie boodskap lees dit jou eie maak sodat jy ook daardie sekerheid ken en ervaar.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.